André van der Merwe, voormalige bestuurder van Tak- en Skietsake by SA Jagters, het aan die einde van 2025 afgetree ná bykans 20 jaar by die vereniging. In sy rol as bestuurder van Tak- en Skietsake het hy die besture van SA Jagters se 83 takke ondersteun, terwyl hy as sekretaris van die skietkomitee die skietaktiwiteite op tak-, streek- en nasionale vlak gekoördineer het. Hy het ’n sleutelrol gespeel in die volgehoue groei en sukses van die skietsport binne die vereniging.
Hy is in 1954 op Mariental in Suidwes-Afrika (nou Namibië) gebore. Sy kennismaking met die jagwêreld het reeds op driejarige ouderdom begin toe hy saam met sy pa, Japie, op jagtogte gegaan het. In 1958 het die Van der Merwe-gesin na Otjiwarongo verhuis waar André sy skoolloopbaan voltooi het. Dit was hier waar hy, onder sy pa se leiding, die kuns van jag in die boswêreld bemeester het.
In 1973 het hy sy voorgraadse studies by die Universiteit van Pretoria begin en hom in die Jakarandastad gevestig waar hy steeds woon.
Gunsteling jagplek
André is ʼn toegewyde benuttingsjagter wat verkies om te voet te jag. Hy het nog nooit gevaarlike wild gejag nie en verkies die oop vlaktes van die Karoo, die Noord-Kaap en die bosveld van Limpopo. Vir bykans 20 jaar het hy jaarliks springbokke te voet in die Hanover-distrik gejag en ook in die duine van die Noord-Kaap en Namibië.
Keuse vir jaggewere
Met sy .30-06 Springfield K98 Musgrave en ’n 6mm Remington enkelskoot (gebou op ’n RSA-aksie) is André volkome tuis in die jagveld. Sedert 1978 herlaai hy self al sy ammunisie vir beide handwapens en gewere wat hy vir jag en sportskiet gebruik.
Sportskiet
André het oor meer as drie dekades die sportskietwêreld op verskeie vlakke bevorder — as deelnemer, mentor en bestuurder. Hy het aktief deelgeneem aan jaggeweer- en veldskietkompetisies en het altyd as voorbeeld van dissipline, integriteit en sportmangees uitgestaan.
Ondersteuning van familie
André se vrou, Henna, en hul twee dogters, Karlie en Anita, het hom altyd onvoorwaardelik ondersteun in sy beroep en sy liefde vir jag. Die familiejagte, dikwels saam met die uitgebreide familie en kleinkinders, het vir hulle kosbare herinneringe geskep wat steeds gekoester word.
Nalatenskap
Tydens sy byna 20 jaar lange loopbaan by SA Jagters het André se noue kontak met lede en nie-lede landwyd hom die geleentheid gebied om die vereniging se voetspoor, kultuur en waardes verder uit te bou. Hy het die beginsels van verantwoordelike jag, veilige vuurwapeneienaarskap en natuurbewaring help bevorder — waardes wat hy by sy pa geleer het.
Sy passie vir mentorskap van die volgende geslag vuurwapeneienaars, skuts, jagters en bewaarders van ons natuur- en kultuurerfenis is verweef in sy nalatenskap.
“Ons erfenis sal net oorleef indien elkeen sy deel doen om dit aan die volgende geslag oor te dra.”
Artikels deur André van der Merwe
Die voordele van vryhandskietposisies vir jagters
Jagters en misskote: hoekom met ek betaal
Wildsvleis – die jagter bepaal die gehalte daarvan
Bosveldjag: Toerusting, skietposisies en die jagter se skietvernuf
Wangedrag onder jagters is kommerwekkend
Praktiese skietvaardighede vir akkurate skootplasing in die jagveld
Kweek jong jagters en bewaarders