Deur: André van der Merwe (Bestuurder Tak- en Skietsake)
Inhoudsopgawe
Hornady Interlock-koeëls
Oor die afgelope 20 jaar was ek nog altyd tevrede met die werkverrigting van die 180 grein Hornady Interlock Spitzer-koeëls in my .30-06 Springfield wanneer ek gaan jag het. Dit is ʼn loodkernkoeël met ʼn kopermantel wat ontwerp is om op impak oop te maak en ʼn groot genoeg wondkanaal en baie skade aan sagteweefsel soos die hart en longe verseker. Die kern (behou massa tussen 65% en 75%) penetreer diep en verseker ʼn vinnige dood. Oor die afgelope tien jaar het ek ongeveer 50 diere (blouwildebeeste, koedoes en waterbokke) met hierdie koeëls op afstande van 15 tot 300 meter met goedgeplaaste skote geskiet. Dit was nog nooit vir my nodig om ʼn tweede skoot te skiet nie.
Met sulke goeie resultate oor ʼn relatiewe lang periode was daar geen rede om ʼn verandering in my keuse van koeëls te oorweeg nie. Oor die afgelope paar jaar het SA Jagters betrokke geraak by ʼn studie oor die doeltreffendheid van loodammunisie vir jagdoeleindes en die effek daarvan op die gehalte van die vleis. Karkasse waarvan X-strale geneem is, het getoon dat loodkern-/kopermantelkoeëls met ʼn hart/long-skoot tot soveel as 400 loodfragmente in die dier agterlaat waarvan die meeste mikroskopies klein is. Dus weet ʼn mens nie indien jy dit sou inneem in jou gunsteling wildsvleissnit nie. Daar is ook bevind dat die fragmente versprei is oor ʼn baie groter area in die karkas as net in die beskadigde weefsel. Dit is kommerwekkend inaggenome die potensiële gesondheidsgevaar wat dit mag inhou. In my huis eet ons baie wildsvleis en die gehalte is dus vir my uiters belangrik.
Lees SA Jagters se standpunt oor loodammunisie vir meer inligting oor navorsing en keuses i.v.m. alternatiewe vir koeёls en ammunisie.
Titan-koeёls
Op aanbeveling van ʼn kollega het ek toe besluit om die Titan-koeëls te oorweeg. Aan die begin van 2020 het ek met Helber International Trading CC (ʼn Suid-Afrikaanse vervaardiger) se 163 grein koper monolitiese Titan-koeёls in my .30-06 Springfield begin eksperimenteer. Ek het besluit op die 163 grein Titan-koeël teen ʼn spoed van 2740 vps waarmee ek 50 mm drieskootgroeperings op 200 m geskiet het.
Die Titan is ʼn monolitiese koperallooi koeёl met ʼn bootstert en holpunt wat op impak met die dier oopmaak in vier identiese ‘blare’. Die teorie is dat elkeen van hierdie ‘blare’ met penetrasie van ongeveer 50 mm afbreek en elkeen ‘n sekondere wondkanaal vorm. Die oorblywende kern van die koeël penetreer verder om ʼn primêre wondkanaal te vorm wat ʼn bloedspoor by die in- en uitgangswond laat. Dit gee ons dus ʼn totaal van vyf aparte wondkanale. Besoek www.helber.co.za vir meer inligting oor Titan-koeëls.
Tydens COVID-19 se inperkings in 2020 is ons beplande familiejag in die bosveld in Junie uitgestel na September 2020. Dit was die eerste keer wat ek so laat in die jaar in die bosveld gaan jag het! Tydens dié jag het ek met die 163 grein Titan-koeëls van 2740 vps ʼn rooibok, vlakvark en blouwildebees geskiet. Beide die rooibok en vlakvark het plankdwars gestaan op kort afstand (40 – 50 m) met die hart/long-area as die mikpunt. By die vlakvark is die koeël deur die hart en by die rooibok het dit net bo-oor die hart gepenetreer. In beide gevalle was die longe aan flarde geskiet (my voorkeur vir ʼn vinnige doodskoot) met ʼn uitgangswond van ongeveer 30 – 40 mm wat my laat dink dat die vier ‘blare’ ook saam met die kern van die koeël anderkant uit is. Met die blouwildebees wat op ongeveer 120 m effens skuins na my toe gestaan het, was die skootplasing nie ideaal nie. Dit was te laag in die borsholte, net bokant die borsbeen, maar die in- en uitgangswond het ʼn goeie bloedspoor gelaat wat die opvolg vergemaklik het. Die dier is dood gevind.
Teen 2024 het ek na vyf jagseisoene ʼn totaal van 29 diere (vlakvarke, rooibokke, springbokke, waterbokke, koedoes en blouwildebeeste) met die Titan-koeёls geskiet met bevredigende resultate. Hierdie koeëls is baie akkuraat en effektief op wild met geen risiko van loodfragmente wat die karkas kan besoedel nie. Dus veroorsaak dit baie minder vleisskade as die loodkern/kopermantelkoeëls wat ek voorheen gebruik het. ʼn Probleem van sommige ander monolitiese koeëls is dat hulle relatief hoë impakspoed van 2400 vps en meer nodig het om betroubaar oop te maak vir ʼn behoorlike wondkanaal. Volgens die vervaardiger maak die Titan-koeëls oop en breek die ‘blare’ af met ʼn impakspoed so laag as 1300 vps wat die Titan-koeël ʼn baie effektiewe monolitiese jagkoeël maak. ʼn Jag of twee van groter diere soos bv. koedoes op 250 of 300 m sal die nodige praktiese ervaring op langer afstande verskaf.
Effek van die Titan-koeëls op vleisgehalte
Met hoogstens die vier blare wat potensieel in die karkas kan agterbly is die besoedeling van ʼn karkas baie minder as met ʼn loodkoeël of ʼn kopermantel/loodkernkoeёl soos byvoorbeeld die Hornady Interlock-koeёl wat honderde mikroskopiese tot groter loodfragmente in die karkas agterlaat. In my ervaring veroorsaak die gekonsentreerde wondkanaal van die Titan-koeëls minder vleisskade met bv. ʼn bladskoot vir ʼn hart/long-skoot as waaraan ek gewoond was met die Hornady Interlock-koeëls.
Met die koeёlkern wat dwarsdeur die dier skiet is dit belangrik om te weet of daar ander diere in die omtrek is sodat jy nie ʼn tweede dier raakskiet nie. Hierdie aspek is natuurlik altyd ʼn oorweging ongeag watter tipe koeël jy gebruik.
Die doel van hierdie artikel is om te illustreer hoe ek besluit het op die Titan koeёl. Daar is ‘n verskeidenheid plaaslike en ingevoerde monolitiese koeёls beskikbaar in Suid-Afrika, eksperimenteer tot jy die koeёl kry wat aan jou behoeftes voldoen.
Ander monolitiese koeёls
Daar is ‘n verskeidenheid ander monolitiese koeels beskikbaar, maar ek het geen ondervinding met hulle nie. Die Titan koeёls werk vir my en ‘n ander monolitiese koeel werk dalk vir jou, eksperimenteer en besluit self. Die doel van hierdie artikel is bloot om my redes vir die oorgang na monolitiese koeels te illustreer, spesifiek vir jag.
Oor die skrywer
André van der Merwe is ‘n benuttingsjagter wie se passie vir jag oor meer as 60 jaar strek. Die afgelope drie dekades het hy aktief deelgeneem aan jaggeweer- en veldskietkompetisies. André het in 2006 by SA Jagters begin werk as bestuurder Tak- en Skietsake en bied ondersteuning aan die takbesture van die vereniging se 83 takke. As sekretaris van die skietkomitee koördineer hy SA Jagters se skietaktiwiteite op tak-, streek- en nasionale vlak en bevorder deurlopend die groei en sukses van die skietsport. Sy passie vir mentorskap van die volgende geslag vuurwapeneienaars, skuts, jagters en bewaarders van ons natuur- en kultuurerfenis is verweef in sy nalatenskap. Lees André se biografie hier.