Deur: André van der Merwe (Bestuurder Tak- en Skietsake)
Inhoudsopgawe
Een vrot appel om die hele kas te bederf
’n Gesonde verhouding en vennootskap tussen jagters en wildplaaseienaars is uiters belangrik om die langtermyn toekoms van jag te verseker. Indien die jagter en die wildplaaseienaar na ’n jagtog tevrede is en elkeen waarde vir geld gekry het, was dit ʼn suksesvolle transaksie wat dikwels tot lewenslange vriendskappe lei.
Dit klink vanselfsprekend maar ongelukkig is dit nie die geval nie! Ons hoor dikwels van insidente op jagplase wat die kosbare verhouding tussen jagters en wildplaaseienaars bederf. Al hoe meer wildplaaseienaars ervaar onaangename ondervindings met Suid-Afrikaanse jagters en is ongelukkig oor hulle gedrag. Dit is moeilik om te bepaal hoeveel probleemjagters daar is, maar dit verg net een vrot appel om die hele kas te bederf.
Indien jy ʼn verantwoordelike jagter is, lees verder om te verstaan wat besig is om te gebeur en hoe die wangedrag van die probleemjagters (al is hulle ʼn relatiewe klein groep) jou en jou kinders se jagtoekoms kan benadeel.
Wangedrag
Die universele beginsel is dat die jagter die gas van die wildplaaseienaar is en hom/haarself daarvolgens behoort te gedra. Die feit dat jy betaal vir die wild en die geleentheid om te jag, verander niks aan die beginsel nie. Ongelukkig het swak maniere en eiegeregtigheid ʼn algemene verskynsel in ons samelewing geword.
Die aard van die oortredings bevraagteken inderdaad die mentaliteit van hierdie jagters. Sou hulle ook só optree in hul daaglikse handel en wandel? Die universele klagte is drankmisbruik wat lei tot onverantwoordelike, onbeskofte en arrogant optree. Daar is voorbeelde van jagters wat onder die invloed van alkohol eiendom beskadig, alkohol gebruik op jagvoertuie en selfs wanneer hulle vuurwapens hanteer en onveilige vuurwapenhantering oor die algemeen.
Sommige jagters ontken ook kwesskote en weier om vir die wild te betaal, of probeer die gids omkoop om stil te bly oor die gekweste wild. Dan is daar jagters wat nie na kwesbokke wil soek nie en bereid is om daarvoor te betaal, maar dadelik ’n ander bok wil probeer jag.
Dikwels is jagters onvoorbereid vir die jag omdat hulle nie voor die tyd op die skietbaan geoefen het nie. Soms is hulle toerusting (geweer/ammunisie of teleskoop) nie van aanvaarbare gehalte nie maar hulle dring steeds daarop aan om te jag, dikwels met gekweste wild as die gevolg.
ʼn Ander probleem is dat jagters wildspesies (of diere van ʼn sekere geslag of ouderdom) skiet nadat hulle spesifiek gevra is om nie sulke diere te skiet nie, byvoorbeeld ’n besonderse koedoebul of sekere teeldiere. Die reaksie is dikwels dat die jagter aandring om sulke diere te skiet, want hy kan betaal. Óf hy skiet eenvoudig so ’n dier en sê agterna vir die boer om die faktuur uit te maak ongeag van die prys.
ʼn Ander voorbeeld is ʼn jagter wat ʼn rooihartebeesbul op sy wenslys gehad het en by die slagplek aangekom het met ʼn rooihartebeeskalf. Sy verskoning was dat die gids nie uitgewys het dis nie ’n bul nie. “Moenie bekommerd wees nie,” het hy gesê, “ek sal betaal vir ʼn bul.” Sulke jagters wíl nie besef nie dat dit altyd die jagter se verantwoordelikheid is om die finale besluit te neem voordat hulle die sneller trek.
Baie jagters weet nie (of geen nie om nie) dat vuurmaakhout ʼn kosbare hulpbron is wat nie misbruik moet word nie. Vuurmaakhout is ʼn produk wat vir die wildplaaseienaar ʼn handige inkomste kan verskaf en tog word dit op baie plase gratis aan jagters beskikbaar gestel. Die maak van onnodige groot vure (niemand kan naby dit kom nie) wat berge hout verteer, is vir baie plaaseienaars ʼn groot bekommernis. Vuurmaakhout is ʼn voorreg wat jagters oordeelkundig moet gebruik. Indien jy dieselfde hoeveelheid hout moet koop, gaan jy waarskynlik twee keer dink voordat jy ʼn groot vuur maak.
Rommelstrooiing is nog ʼn klip in die wildplaaseienaars se skoen. Jagters moet net hul spore in die veld agterlaat, nie vullis ook nie. Jagvoertuie wat die plaaseienaar goedgunstiglik beskikbaar stel, word dikwels misbruik en beskadig. Die plaaseienaar moet dan maar opdok om die skade te herstel.
Sommige jagters dring daarop aan om kontant te betaal omdat hulle nie BTW wil betaal nie. Dit skep vir die plaaseienaar ’n probleem. Indien hy geregistreer is vir BTW moet hy die jagter faktureer en BTW hef. As hy dit nie doen nie, oortree hy die belastingwetgewing en kan vervolg word. Dit is uiters onbillik van die jagter om dit van die plaaseienaar te verwag.
Daar is legio ander voorbeelde van wangedrag wat ʼn mens kan opnoem. Jagters wat hulle aan wangedrag skuldig maak, benadeel die beeld en reputasie van ALLE jagters. Daar is plaaseienaars in Suid-Afrika en in buurlande wat nie meer Suid-Afrikaanse jagters op hul plase wil toelaat nie. Sodra wildplase se kwota trofeediere gejag is – deur byvoorbeeld buitelandse jagters – word die oorblywende wild jaarliks met behulp van oesspanne geskiet óf deur wildvangspanne gevang en lewendig verkoop. Ander wildplaaseienaars se filosofie is om net jaggroepe wat hulle ken of hul vriende toe te laat om te jag en laat geen nuwe jagters toe nie. Hierdie tendens hou niks goeds in vir jagters oor die langtermyn nie.
Jagboewe
Al hierdie ontstellende voorbeelde getuig van arrogansie, onbeskoftheid, onverantwoordelike optrede, drankmisbruik en al te dikwels ʼn houding dat “geld wat stom is, maak reg wat krom is.” Dit het tyd geword dat sulke jagters uitgewys word vir wat hulle werklik is deur hulle as jagboewe te brandmerk, want jagters kan hulle verseker nie genoem word nie.
Verantwoordelike jagters wil nie met hierdie groep vereenselwig word nie, want dit is ʼn klad op hulle naam. Die werklikheid is dat hulle wangedrag ons wel beïnvloed en dat ons as jagters hul onaanvaarbare gedrag moet uitwys en sover moontlik die nodige opvoedingswerk doen. Verder moet verantwoordelike jagters ʼn voorbeeld stel vir ander en veral vir nuwe jagters – hetsy kinders of volwassenes – om te verseker dat hulle ook as positiewe ambassadeurs vir jag optree.
Daar rus ʼn soortgelyke verpligting op wildplaaseienaars om nie wangedrag deur jagters te duld nie. Ongelukkig word jagboewe dikwels deur wildplaaseienaars toegelaat om toekomstige bespreking te maak ten spyte van hul boewery. Hoekom? Weens die goeie inkomste wat groepe jagboewe soms verseker, sien wildboere hul wangedrag oor. ʼn Wildplaas is ʼn onderneming wat ʼn wins moet maak en elke plaaseienaar het die reg om te besluit hoe hy sy onderneming bedryf. Indien ʼn plaaseienaar se filosofie gaan oor geld ten alle koste, moet hy aanvaar dat hy aandadig is aan ʼn probleem wat gekom het om te bly en dat hy dit aanmoedig! Jagboewery kan slegs gestuit word as die wildboer bereid is om standpunt in te neem en op te tree!
Elkeen jagter met ’n liefde vir die natuur en wat ons jagerfenis vir sy kinders wil bewaar, kan gerus weer SA Jagters- en Wildbewaringsvereniging se Jagterskode lees om hulle geheue te verfris. Dit verwys onder andere na die jagter se respek vir lewe, die natuur, vir die wet, vir grondeienaars se regte en die jagter se verbintenis tot die veilige gebruik van ʼn vuurwapen.
Vee voor eie deur
Soms veroorsaak wildplaaseienaars ook probleme vir jagters. Kom ons as jagters vee egter eers voor ons eie deur. ’n Beduidende deel van potensiële probleme en misverstande tussen wildplaaseienaars en jagters kan verhoed word indien die jagter sy huiswerk doen en behoorlik voorberei vir jag op ’n nuwe plaas. Kry die name en kontakbesonderhede van jagters wat reeds op die spesifieke wildsplaas gejag het. Volg die verwysings op, vra genoeg vrae, beoordeel die terugvoer en vra die wildplaaseienaar vir die pryslys, lys van wild wat gejag mag word en jagreëls (alles op skrif) voordat jy ʼn bespreking maak. Solank as beide die wildplaaseienaar en jagter by die reëls hou, behoort daar nie misverstande te wees nie. Indien ’n wildboer nie die inligting kan of wil verskaf nie, soek eerder ʼn ander jagplek!
Óf dit nou die eerste keer is wat jy op die plaas kom en of dit ’n gunsteling jaarlikse bestemming is, bly dit lekker om op ’n plaas te arriveer, die vars lug in te asem, rond te kyk en uit te sien na die volgende paar dae in die natuur. Ek kyk terug na die jaggeleenthede wat ek bevoorreg was om oor die jare te ervaar. Dit was veral die gasvryheid en die moeite wat my gasheer en gasvrou gedoen het om my jag so suksesvol en genotvol moontlik te maak, wat uitstaan.
Die beste bewys dat jy ʼn positiewe indruk op die wildboer gemaak het, is wanneer jy teruggenooi word. Die grootste pluimpie wat enige jagter ooit kan ontvang is wanneer die plaaseienaar jou vra om jou volgende besoek te beplan vir die periode wanneer hy met vakansie wil gaan.
In die boek The Old Man and the Boy deur Robert Ruark, sê die oupa die volgende aan sy kleinseun: “I never knew a bad man who was what I’d call a sportsman. I never knew a true sportsman who wasn’t a gentleman. So, if you are a gentleman and a sportsman, you can’t be a bad man. Is that clear?”
Indien jagters hulself suksesvol kan meet aan bogenoemde aanhaling, is hulle op die regte pad!
Oor die skrywer
André van der Merwe is ‘n benuttingsjagter wie se passie vir jag oor meer as 60 jaar strek. Die afgelope drie dekades het hy aktief deelgeneem aan jaggeweer- en veldskietkompetisies. André het in 2006 by SA Jagters begin werk as bestuurder Tak- en Skietsake en bied ondersteuning aan die takbesture van die vereniging se 83 takke. As sekretaris van die skietkomitee koördineer hy SA Jagters se skietaktiwiteite op tak-, streek- en nasionale vlak en bevorder deurlopend die groei en sukses van die skietsport. Sy passie vir mentorskap van die volgende geslag vuurwapeneienaars, skuts, jagters en bewaarders van ons natuur- en kultuurerfenis is verweef in sy nalatenskap. Lees André se biografie hier.