Agtergrond
Sedert 1983 het SA Jagters per nuusbrief met sy lede gekommunikeer. Oom Lou van der Merwe het aanvanklik `ʼn vier-bladsy nuusbrief afgerol wat aan lede gepos is. In Mei 1985 het die eerste SA Jagter tydskrif verskyn. Dit was eers in A5-formaat en later in A4-formaat gepubliseer. In 1993 is die eerste kleurfoto’s geplaas onder die leiding van Frikkie Bouwer.
André van Dyk het in 2000 as redakteur oorgeneem en die tydskrif vir die eerste keer ook aan die teikenmark buite SA Jagters se lede bekendgestel toe `ʼn klein oplaag in wapenwinkels versprei is. In September 2000 het die sirkulasiesyfers vir die eerste keer die 20 000-merk verbygesteek.
In 2007 is die maatskappy SA Hunt Publishing (Edms) Bpk gestig as die amptelike uitgewer van die geregistreerde handelsmerk en naam SA Jagter/SA Hunter waarvan 50% van die aandele aan Media 24 verkoop is. Hierdie strategiese vennootskap tussen die SAJWV met sy 58 jaar se ervaring en kennis van die jag- en wildbedryf en Media 24 se kundigheid en reputasie as uitgewer, was ʼn noemenswaardige mylpaal in die publikasiebedryf.
Die tydskrif sou voortaan nie meer net die mondstuk van die SAJWV wees nie, maar ook op ʼn breër teikenmark fokus. Hierdie ooreenkoms was die voorloper van kommersialisering wat in retrospek waarskynlik een van die belangrikste strategiese skuiwe in die Vereniging se geskiedenis was.
Die SAJWV se belange in die tydskrifmark is verder versterk toe SA Hunt Publishing die bekende wapentydskrif Magnum aangekoop het as ʼn tweede titel. Met sy indrukwekkende ledetal kon die Vereniging ook met sekere voertuig- en wapenhandelaars onderhandel om direkte voordele vir lede te beding, terwyl dié tydskrif ook oorwegend deur Engelse lede gelees word.
Die Vereniging het in 2023 Media24 se aandele teruggekoop nadat dié maatskappy se fokus in die publikasiebedryf verander het. Tans is SA Jagters die alleeneienaar van beide SA Jagter/Hunter en Magnum.
Inhoud
Lede kry geleentheid om die inhoud van die tydskrif te bepaal. Die jongste meningsopname het lesers se voorkeure ten opsigte van inhoud as volg weergegee:
- Jagstories 73%
- Bewaringsartikels 76%
- Verantwoordelike jag/bewaring/wildlewe 79%
- Sportskiet 63%
- Wildlewetoerisme en jagbestemmings 78%
- Vuurwapens en ammunisie 94%
- SA Jagters aktiwiteite 72%
- Nuwe produkte 88%
Ander onderwerpe waarin lede belangstel, sluit in:
- Herlaai en ballistiek
- Biltongjag of jagbestemmings
- Boogskiet en langafstandskiet
- Veerwildjag en wapengeskiedenis
Lede kan kies om beide tydskrifte teen afslag te bestel as deel van hul ledegeld voordeel, óf hulle kan die tydskrifte in kettingwinkels teen die gewone rakprys koop. Lede wat die tydskrifte as deel van hulle ledevoordeel wil ontvang, kan die gedrukte weergawe laat aflewer of dit elektronies ontvang wat ʼn meer betroubare metode is, gegewe die uitdagings met die posaflewering.