• Home
    • About SA Hunters Home Page
      Who We Are
      Board and Excecutive Members
      Meet the Team
      Conservation Committee
      Hunting Committee
      Shooting Committee
      Inyathi Park News
      National Congress
      Social Media
      Our Magazines
      HuntEx
      SA Hunters Shop
      Commercial Offers to Member
      Our Youth
      FAQs
    • Membership Home Page
      Why become a member
      Membership Fees
      Membership Administration
      Mentorship - Make a Difference
      Commercial Offers to Members
      Liability Insurance
      Membership FAQs
    • Branches Home Page
      Find Branches on Google Maps
      Branch Information per Province
      Branch Matters and Accomplishments
      Branches FAQs
    • Firearms Home Page
      Firearm Licence Helpline
      Firearm Legislation
      Application Process for Firearm Licences
      Dedicated Status (Sport Shooting & Hunting)
      Firearm Licence FAQs
    • Hunting Affairs Home Page
      Our Hunting Policy and Code
      Hunting Heritage
      Hunting Statistics
      Hunting Committee
      Hunting Licences and Proclamations
      Transport Permits Pigand Other Game Meat
      Hunting Packages 2026
      Hunters Education
      Professional Hunting
      Measuring Wildlife
      Game Meat
      Fishing
      Awards
      Hunting Articles, News and Resources
      Foot and Mouth Disease
      Hunting FAQs
      SA Hunters Shop
      Lorem ipsum dolor sit amet, consectetur adipiscing elit.
    • Shooting Home Page
    • Conservation Home Page
      Lorem ipsum dolor sit amet, consectetur adipiscing elit.
      Conservation Initiatives
      Conservation Committee
      Lorem ipsum dolor sit amet, consectetur adipiscing elit.
      Conservation News
      Lorem ipsum dolor sit amet, consectetur adipiscing elit.
      Support Conservation
      SA Hunters’ Policy and Position Statements
      Legislation and Policy Framework
      Responsible Use of Resources
      Position on Lead Ammunition
      Conservation FAQs
    • Photography Home Page
      Photography Competition Information
      Photography Competition Gallery
      Photography Club on Facebook
      Photography Club Gallery
      Photography FAQs
  • SA Hunters Shop
Search

SA HUNTERS AND GAME CONSERVATION ASSOCIATION

SA HUNTERS AND GAME CONSERVATION ASSOCIATION

SA JAGTERS- EN WILDBEWARINGSVERENIGING

SA JAGTERS- EN WILDBEWARINGS- VERENIGING

hunters jagters
hunters jagters

Bosveldjag: Toerusting, skietposisies en die jagter se skietvernuf

Deur: André van der Merwe (SA Jagters Bestuurder Tak- en Skietsake)

Om alleen in die Bosveld te gaan jag met my geweer oor die skouer, vroegoggend wanneer die dagbreek soveel belofte inhou tot die afwagting in die laatmiddag wanneer die son sak en jagtyd min raak, is my gunstelingtyd. Hierdie artikel gaan oor jag in die bosveld te voet volgens my jagtegniek, nl., stap, stop en soek; stap baie stadig; stop dikwels; staan stil; kyk rond en soek.

Inhoudsopgawe

Elke jagter het sy gunsteling manier van jag

Elke jagter het sy gunsteling manier van jag en habitatte waar hy graag jag. ʼn Mens hoor dikwels lang gesprekke of argumente wat die een of ander jagmetode as oneties veroordeel. In die praktyk geld die volgende: elkeen is geregtig op sy eie opinie en jag volgens sy oortuigings en wat die grondeienaar toelaat. Die universele verantwoordelikheid van jagters is om binne die raamwerk van heersende wetgewing te jag. ’n Aspek wat dikwels meer aandag verdien is die vermoë van die jagter en sy toerusting om onder die omstandighede waaronder hy/sy jag met die eerste skoot ’n akkurate doodskoot te skiet.

Vir ’n springbokjag in die Karoo met die voorsitmetode gebruik ek my 6mm Remington met ʼn 90 grein-koeël teen 3300 vps trompsnelheid vir ’n plat trajek oor afstande tot op 300 meter. Die kombinasie van geweer/teleskoop/ammunisie is ingestel met ’n 200 m en 300 m zero en baie akkuraat met ongeveer 50mm drieskoot-groeperings op 300 m. Tydens ʼn voorsitjag sit ek tipies op een plek, verkieslik onder of agter ’n bos, gemaklik op ’n stoel met my geweer oor ’n driepoot-skietstok. Die terrein (gewoonlik vlaktes of plat rante) laat my toe om die springbokke van ver af te sien aankom. Onder hierdie omstandighede sit en wag ek dus vir die wild om na my toe te kom. Gewoonlik weet hulle nie van my nie. Sodra hulle binne skootafstand is, besluit ek op ’n bok en het ek genoeg tyd vir ’n akkurate skoot. Nou ja, dit werk nie altyd presies so uit nie. Daar is uitsonderings. Die bekoring van jag is juis die onvoorspelbaarheid daarvan.

Stapjag in die bosveld

Stapjag in die bosveld verg totaal ander omstandighede waarvoor die jagter deeglik moet voorberei – veral indien dit die eerste keer is wat hy dit gaan doen. Dikwels kom jagters wild tee op kort afstande (10 tot 50 m) wat die geleentheid beperk om te skiet (3 tot 5 sekondes). Die jagter se vermoë om vinnig en akkuraat te skiet, bepaal sy sukses. Dit is belangrik dat toerusting so eenvoudig en prakties moontlik moet wees. Hierdie artikel fokus op die jagter se praktiese skietvernuf, sy geweer en ander toerusting en die skietposisies wat hy met sukses in die bosveld kan gebruik.

My bosveldgeweer

Vir bosveldjag zero ek my .30-06 Springfield op 100 m met ’n 163 grein monolitiese Titan-koperkoeёl teen 2740 vps. Vanaf 10 tot 100 m wissel die koeël se trajek nooit meer as 25mm bo of onder die siglyn nie. Die Boone & Crockett-kruishaar op die 3.5-10×40 Leupold-teleskoop is met die hoofkruis as mikpunt ingestel op 100 m, die eerste strepie onder die kruis is die 200 m mikpunt en die volgende laer strepie is die 300 m mikpunt – beide die 200 m en 300 m mikpunte op die 10x-vergroting van die teleskoop. Alhoewel skote op kort afstande die norm is in die bosveld (maksimum 100 m) is ek met hierdie kombinasie toegerus vir skote tot op 300 m waar nodig (bv. ’n langer skoot teen ʼn rant of berg).

K98 Musgrave .30-06 Springfield met 3.5-10x40 Leupold-teleskoop
Boone & Crockett-kruishaar

Teleskoop

Die 3.5-10×40 Leupold-teleskoop is kompak met uitstekende optiese kwaliteit en ʼn grootte en gewig (370 gram) wat goed pas by die .30-06 Sprg Musgrave vir ʼn relatief ligte kombinasie (4.2 kg totale gewig) vir stapjag. Groot teleskope met meer as 10x vergroting het meer nadele as voordele vir jag oor korter afstande. Vir jag in die bosveld oor kortafstande is ʼn vergroting van 2x tot 4x verkieslik (eerder te klein as te groot). Die sigveld (field of view) op 3.5x vergroting is byna 10 m in deursnee teenoor die 4 m deursnee op 10x vergroting. Hoe groter die vergroting, hoe kleiner die sigveld. Die groot sigveld op ʼn lae vergroting maak die opspoor van die teiken baie makliker vir ’n vinnige skoot.

Voorbeeld: probeer uit die vryhandstaanposisie vinnig fokus met ʼn 16 of 20x-vergroting op ʼn teiken binne 20 m van jou af. Herhaal dan die oefening met ’n 2x- of 3x-vergroting teleskoop.

3.5-10x40 Leupold-teleskoop met Boone & Crockett-kruishaar

Opspoor van die teiken deur die teleskoop

Skuts besef dikwels nie dat hulle ’n probleem het om ʼn teiken deur die teleskoop te vind nie. Om oor ʼn skiettafel na ʼn teiken op die skietbaan te mik of met voorsitjag in die Karoo besef die skut nie altyd hoe lank hy/sy deur die teleskoop na die teiken soek nie. Met ʼn kortafstandskoot op wild is daar nie tyd om vir ʼn paar sekondes lank na ʼn teiken te soek nie.

Die probleem begin dikwels omdat die skut se natuurlike (outomatiese) rigting met die teiken verkeerd is. Wat beteken dit en hoe stel ek dit reg? Neem die staanskietposisie in met ʼn geweer met ʼn oop grendel, leё magasyn en kamer; rig die geweer en korrel deur die teleskoop na enige gerieflike teiken, sluit jou oё en ontspan jou liggaam. Wanneer jy weer jou oё oopmaak en deur die teleskoop kyk, sal dit die natuurlike rigting aantoon. Indien die natuurlike rigting nie op die teiken is nie moet die skut sy/haar voete verskuif totdat die natuurlike rigting, m.a.w. die rigting van die geweer en die teiken ooreenkom. Hierdie is ewe belangrik vir die lê-, sit- en knielposisies.

Hoekom is natuurlike rigting so belangrik? Voorbeeld: die skut neem ʼn posisie in sodat die aanlêprentjie deur die teleskoop, links weg van die mikpunt aandui. Die skut probeer dit regstel sonder om sy voete/lyf te skuif en dwing dus die geweer na regs om op die mikpunt te kom. Dit veroorsaak dat sy spiere in ʼn onnatuurlike posisie is wat spanning veroorsaak. Die skut ontspan sy lyf waarskynlik na links wanneer hy die skoot skiet met die gevolg dat die trefpunt links van die mikpunt is. Oefen natuurlike rigting totdat jy dit instinktief doen.

Wanneer die skut telkens instinktief die natuurlike rigting inneem, raak dit maklik om die tweede komponent te ontwikkel, nl. om vinnig op die teiken te kom. Vanaf die natuurlike rigting, hou die oё op die teiken en lig die geweer vanaf die gereedposisie na die skouer vir die staanskietposisie. Met die geweer in die skietposisie kyk bo-oor die teleskoop na die teiken, steeds met beide oё op die teiken. Op die laaste oomblik, sak jou kop met jou wang teen die kolf en lê aan deur die teleskoop. Jy behoort op of baie naby aan jou mikpunt op die teiken te wees wat hoogstens ʼn klein verandering op of af, links of regs benodig. Met oefening leer jy om ʼn teiken op enige afstand vinnig in jou teleskoop op te spoor. Die geheim is die korrekte natuurlike rigting en om albei jou oё so lank as moontlik op die teiken te hou terwyl jy die geweer na jou skouer bring om die skoot te skiet. ʼn Skut wat hierdie tegniek bemeester het, kry dit binne enkele sekondes reg.

Gereedposisie met die geweerkolf op die heup, oё op die teiken en die tromp van die geweerloop in lyn met die oё en die teiken.
Met die geweer in jou skouer, beide oё op die teiken, kyk bo -oor die teleskoop, pas jou natuurlike rigting aan indien nodig.
Laat sak jou kop in posisie met jou wang teen die kolf, kyk deur die teleskoop en vind die teiken, maak ʼn klein aanpassing op die mikpunt indien nodig en skiet.

Geweerband (draband)

Ek gebruik ʼn geweerband op my geweer (ek verkies ‘n breё dik leerband vir dragerief) wanneer ek jag byna uitsluitlik vir die tye wat jy die geweer oor jou skouer dra wanneer die dag lank raak. Daar is enkele voorbeelde waar ek met die geweer uit ʼn sitposisie oor langer afstande skiet wat ek die geweerband vir stabiliteit om die voorarm gebruik. Indien jy gevaarlike wild jag moet jy nie ʼn geweerband aan jou geweer hê nie. Wanneer jy vinnig moet skiet op gevaarlike wild kan ʼn geweerband wat aan byvoorbeeld ʼn tak vashaak die verskil beteken tussen lewe en dood.

Knaldemper

ʼn Bosveldgeweer moet jou pas met ʼn natuurlike balans in ʼn kompakte kombinasie. ʼn Knaldemper versteur daardie balans en die grootte van die kombinasie. Eerstens maak dit ʼn geweer baie langer (tot soveel as 300 mm – afhangende van die tipe knaldemper ), swaarder (tot 500 gram) en verander die geweer se balans. Op ʼn geweer wat jy heeldag dra en enige oomblik vinnig gereed moet kry vir ʼn vinnige en akkurate skoot maak dit ʼn groot verskil. Verder kan ʼn geweer met ʼn knaldemper wat jy oor jou skouer dra tussen bome en bosse kort-kort vashaak.

Trompremme

Trompremme op jaggewere in die bosveld is ʼn kontroversiële onderwerp. Trompremme verminder die terugskop (recoil) van magnum en swaarkalibergewere teen die skouer en wangbeen. Tradisionele trompremme wat die klank, gas en ander soliede deeltjies soos onverbrande kruit en koperdeeltjies na die kant uitblaas, is nadelig en gevaarlik  vir omstanders. Gidse, beroepsjagters en ander nie-jagters wat jagters vergesel, moet vooraf behoorlik gewaarsku word om nie langs of naby die tromprem te staan wanneer die skoot geskiet word nie. Die moontlike gevolge moet in detail aan hulle verduidelik word. Selfs met oog- en oorbeskerming (wat gewoonlik nie tydens ʼn jag gedra word nie) is dit ʼn hoogs onaangename ervaring. Sonder die nodige beskerming kan dit ernstige skade aan ʼn persoon se oё en ore veroorsaak. Indien jy dus met ʼn tromprem op jou geweer jag is dit jou verantwoordelikheid om die omstanders te alle koste te beskerm.

Tweepoot (bipod) op jou bosveldgeweer

ʼn Tweepoot op ʼn bosveldgeweer is vir my soos ʼn sleepwa aan ʼn Porsche. Dit is onprakties en is net in jou pad. ʼn Geweer met ʼn tweepoot het sy aanwendings –  bosveldjag is nie een van hulle nie.

Gebruik van ʼn afstandmeter (range finder) in die bosveld

For bushveld hunting, a rangefinder is unnecessary and often just extra equipment to carry for the following reasons: first, within 100 metres, the exact distance is not critical with a rifle zeroed at 100 metres, and second, you don’t have time to fiddle with a rangefinder. It’s just another movement that can alert the animal and ruin your chance of a shot.

Diverse toerusting

ʼn Verkyker, knipmes, ekstra ammunisie, hoed, waterbottel en tweerigtingradio is die enigste ander toerusting wat ek saamneem. Wanneer ek jag gebruik ek ʼn selfoon net wanneer absoluut nodig soos om foto’s te neem of ʼn noodoproep te maak. Die res van die tyd is die foon afgeskakel en fokus ek op die jag! ʼn Verkyker is handig om wild op kort afstand te soek waar hulle bv. in digte bos staan of om ʼn trofeebok se horinglengte te beoordeel.

Praktiese skietposisies

Indien jou bosveldgeweer/teleskoop/ammunisie-kombinasie konstante drieskootgroeperings van 50mm op 100 meter skiet en 100mm op 200 meter of kleiner vanaf ʼn skiettafel skiet, is jou toerusting gereed vir jou bosveldjag. ʼn Meer akkurate geweer gee die jagter gemoedsrus (soms ook valse gemoedsrus), maar daar is ander faktore wat ʼn groter invloed het op ʼn akkurate skoot as ʼn geweer wat 10mm groeperings op 100 meter kan skiet. Enige verdere skietoefening moet nou fokus  om die skietvaardighede van die jagter tydens ʼn bosveldjag te verbeter.  

ʼn Groot persentasie skote word tydens ʼn bosveldjag uit die staanposisie geskiet. Min jagters spandeer genoeg tyd aan vryhandstaanskote (sonder enige ondersteuning) om elke keer ʼn eenskoot-doodskoot te waarborg. Die teenargument is dikwels dat daar genoeg bome in die bosveld is wat ʼn tak as dooierus bied. Indien jy gereeld genoeg in die bosveld jag sal jy baie gou besef dat ’n gerieflike boom met ʼn tak in die regte posisie en op die regte hoogte wanneer jy dit nodig het, nie so beskikbaar is soos wat algemeen aanvaar word nie. Verder het jy ook nie altyd die tyd om die regte boom of tak te vind nie. Omdat ʼn mens nie hierdie spesifieke scenario oor die boomtak kan oefen nie, veroorsaak dit heelwat kwesskote in die veld.

Indien jy wel ʼn boomtak gebruik, moet nie die loop op die tak rus nie. Die loop van die geweer moet nooit op enige oppervlakte rus vir ʼn skoot nie omdat dit die geweerloop se vibrasies tydens die skoot versteur en die koeël nie tref waar jy gemik het nie. Plaas jou hand tussen die geweer se kolf en die oppervlakte waarop jy die kolf rus. In plaas van jou hand kan jy ook ʼn pet, boshoed of selfs ʼn rugsak gebruik wanneer jy oor ʼn klip of miershoop skiet om die geweerkolf te stut.

Moenie die loop op die tak rus nie
stut die geweerkolf op jou hand, pet of boshoed

Jy kan ook die gids se skouer gebruik vir ondersteuning mits die gids ʼn baie stabiele posisie inneem soos die illustrasie in die foto. In sulke situasies is dit is baie belangrik dat die gids oorbeskerming dra. Dit is egter nie altyd prakties tydens ʼn jag nie. Indien die gids sy ore probeer toedruk tydens die skoot gaan hy ongemaklik staan wat sy balans versteur en die stabiliteit van sy ondersteuning verswak. Enige beweging deur die gids tydens die skoot sal die akkuraatheid van die koeёl beinvloed. Ek verkies om nie die tipe ondersteuning te gebruik nie.

Using the guide’s shoulder for support

Skietstokke

Skietstokke is ʼn eenvoudige oplossing vir ondersteuning wanneer jy jag aangesien jy daarmee kan oefen totdat jy dit in elke moontlike posisie vinnig kan benut vir ʼn akkurate skoot. Daar is ʼn groot verskeidenheid skietstokke te koop en variasies wat jy self kan maak. Hoe besluit jy op een vir jou toepassing? Indien jy altyd ʼn gids het wat jou skietstok dra en dit vir jou opstel kan jy meer ingewikkelde opsies gebruik. Aangesien ek my skietstok altyd self dra, verkies ek eenvoudige en praktiese skietstokke.

Enkelskietstok: Ek het tot ongeveer 2019 met ʼn enkelskietstok gejag bestaande uit ʼn 25 mm deursnee ronde hout stok ongeveer 1.8 m lank. Hiermee het ek akkurate skote met vertroue uit die staanposisie geskiet tot op 150 m.

Dubbelskietstok: Teen 2020 het ek begin jag met ʼn dubbelskietstok wat bestaan uit twee 20 mm deursnee ronde stokke, elk ongeveer 1.8 m lank wat by die bopunte met 2,0mm dik nylontou aanmekaar vasgedraai is. Wanneer die twee stokke oopvou, vorm die twee bopunte ʼn diep V om die geweer in te stut vir ʼn skoot. Dit is steeds lig genoeg sodat ek dit toegevou in my linkerhand kan dra en as ʼn stewige stapstok dien. Dit is ewe maklik om die twee bene oop te maak sonder hulp.

Soos jy ouer word, moet jou skietondersteuning verbeter en die tweepoot-skietstok is vir my die antwoord. Vriend en plaaseienaar, Herman de Lange (‘n uitstekende/akkurate jagskut)  is gereeld by wanneer ek die skietstok gebruik en hy is so beïndruk met die spoed waarmee ek my geweer en skietstokke gereed kry en akkurate skote skiet dat hy nou ook een gebruik. Sy ervaring is dat baie jagters wat hy begelei te lank neem om in ʼn skietposisie te kom om die skoot te skiet, met of sonder skietstokke. My advies is dat jy die verskillende skietposisies met ʼn skietstok oefen tot jy dit instinktief kan gebruik.

ʼn Eenvoudige tweepoot-skietstok, met die twee stokke aan mekaar vasgedraai met 2.0mm nylontou en die punte beskerm met kort lengtes 20 mm deursnee plastiekpyp. Aan die onderpunt van elke stok is ʼn 4 mm deursneё skroef ingedraai en afgesny dat ongeveer 6 mm uitsteek en stomp afgewerk. Dit verseker dat die voete nie gly op enige oppervlakte nie. Ek staan so regop moontlik vir ʼn gemaklike skoot en hou die geweer aan die geweerband teen die kolf en ook die skietstok vas om beheer oor beide te verseker – dat die skietstok nie omval nie en om die geweer se terugskop (recoil) te beheer.

Andre vd Merwe Bosveldjag artikel (6)
Staanposisie met tweepoot-skietstok
Die stokke is met nylontou aanmekaar vasgedraai om ʼn mik te vorm wanneer die stokke oop staan.
Enkelskietstok in knielposisie – regterelmboog gestut op die bobeen.
Die sitposisie word gewoonlik gebruik vir skote oor langer afstande (100 m en verder) indien die plantegroei dit toelaat. Beide elmboё rus op die knieё en die geweerband word gebruik vir verdere stabiliteit.

Ander tipes skietstokke

Besluit vir jouself, maar wees versigtig vir verstelbare skietstokke, die versoeking is daar om gereeld daaraan te stel en wanneer jy dit vinnig nodig kry, is dit op die verkeerde lengte! Ek gebruik lang aaneenlopende skietstokke vir hul veelsydigheid, die verskillende hoogtes van staan-, kniel- en sitposisies is almal moontlik sonder enige verstelling. 

Belangrik: Ten spyte van die moeiliheidsgraad van skote uit die vryhandstaanposisie is dit een van die posisies wat ʼn jagter so dikwels moontlik moet oefen. Indien jy dit kan baasraak vir konstante akkurate skote, veral op kort afstand, skep dit soveel meer geleenthede om te benut wanneer jy jag. Verder is die vryhand lê-, sit- , kniel- en staanskietposisies die basis van skietvaardighede en elke jagter behoort dit te vervolmaak. Daarvandaan raak enige ander skietposisie maklik!

Kernboodskap

Tydens ʼn bosveldjag kom die jagter dikwels baie naby aan wild en hy moet skiet voor die dier hom waarneem (sien, ruik of hoor). Op daardie oomblik kom alles bymekaar wat toerusting, skietstok, skietposisie en die jagter se skietvernuf betref vir ʼn suksesvolle doodskoot!

Die jagter moet sy skietposisie en die toerusting wat hy gebruik, oor en oor oefen tot hy dit instinktief kan doen vir ʼn akkurate skoot vir jagtoestande in die bosveld. Simuleer dit deur jouself op die skietbaan te toets om te bepaal hoe vinnig jy ʼn skoot kan skiet. Stap of staan ontspanne en laat iemand aan jou ʼn teiken wys met die opdrag om te skiet. Die doelwit is om kort afstande uit die staanposisie met ʼn skietstok binne 3 tot 5 sekondes vandat die opdrag gegee is, te skiet!

Tydens alle simulasies wanneer jy met jou geweer oefen moet jy al die basiese veiligheidsreëls toepas sonder enige ammunisie in die magasyn of kamer van die geweer. Wanneer jy op die skietbaan oorgaan na skietoefeninge moet jy altyd die veiligheidsmaatreëls streng nakom.

Oor die skrywer

André van der Merwe is ‘n benuttingsjagter wie se passie vir jag oor meer as 60 jaar strek. Die afgelope drie dekades het hy aktief deelgeneem aan jaggeweer- en veldskietkompetisies. André het in 2006 by SA Jagters begin werk as bestuurder Tak- en Skietsake en bied ondersteuning aan die takbesture van die vereniging se 83 takke. As sekretaris van die skietkomitee koördineer hy SA Jagters se skietaktiwiteite op tak-, streek- en nasionale vlak en bevorder deurlopend die groei en sukses van die skietsport. Sy passie vir mentorskap van die volgende geslag vuurwapeneienaars, skuts, jagters en bewaarders van ons natuur- en kultuurerfenis is verweef in sy nalatenskap. Lees André se biografie hier.

Search

Share This Article

More Articles

error: Content is protected !!