• Home
    • About SA Hunters Home Page
      Who We Are
      Board and Excecutive Members
      Meet the Team
      Conservation Committee
      Hunting Committee
      Shooting Committee
      Inyathi Park News
      National Congress
      Social Media
      Our Magazines
      HuntEx
      SA Hunters Shop
      Commercial Offers to Member
      Our Youth
      FAQs
    • Membership Home Page
      Why become a member
      Membership Fees
      Membership Administration
      Mentorship - Make a Difference
      Commercial Offers to Members
      Liability Insurance
      Membership FAQs
    • Branches Home Page
      Find Branches on Google Maps
      Branch Information per Province
      Branch Matters and Accomplishments
      Branches FAQs
    • Firearms Home Page
      Firearm Licence Helpline
      Firearm Legislation
      Application Process for Firearm Licences
      Dedicated Status (Sport Shooting & Hunting)
      Firearm Licence FAQs
    • Hunting Affairs Home Page
      Our Hunting Policy and Code
      Hunting Heritage
      Hunting Statistics
      Hunting Committee
      Hunting Licences and Proclamations
      Transport Permits Pigand Other Game Meat
      Hunting Packages 2026
      Hunters Education
      Professional Hunting
      Measuring Wildlife
      Game Meat
      Fishing
      Awards
      Hunting Articles, News and Resources
      Foot and Mouth Disease
      Hunting FAQs
      SA Hunters Shop
      Lorem ipsum dolor sit amet, consectetur adipiscing elit.
    • Shooting Home Page
    • Conservation Home Page
      Lorem ipsum dolor sit amet, consectetur adipiscing elit.
      Conservation Initiatives
      Conservation Committee
      Lorem ipsum dolor sit amet, consectetur adipiscing elit.
      Conservation News
      Lorem ipsum dolor sit amet, consectetur adipiscing elit.
      Support Conservation
      SA Hunters’ Policy and Position Statements
      Legislation and Policy Framework
      Responsible Use of Resources
      Position on Lead Ammunition
      Conservation FAQs
    • Photography Home Page
      Photography Competition Information
      Photography Competition Gallery
      Photography Club on Facebook
      Photography Club Gallery
      Photography FAQs
  • SA Hunters Shop
Search

SA HUNTERS AND GAME CONSERVATION ASSOCIATION

SA HUNTERS AND GAME CONSERVATION ASSOCIATION

SA JAGTERS- EN WILDBEWARINGSVERENIGING

SA JAGTERS- EN WILDBEWARINGS- VERENIGING

hunters jagters
hunters jagters

Jagters en misskote: hoekom moet ek betaal?

Deur: André van der Merwe (Bestuurder Tak- en Skietsake)

Daar is al meer wildeienaars wat ʼn fooi vereis wat wissel vanaf die helfte tot die volle prys vir ʼn dier wat ʼn jagter mis skiet.

Inhoudsopgawe

Die skrywer se perspektief

ʼn Onlangse navraag van ʼn jagter dui daarop dat sekere jagters ontevrede is met dié toedrag van sake. Ek verskaf graag die volgende perspektief op hierdie saak:

  1. Dit is die wildeienaar se voorreg om die reëls te maak en dit is die jagter se keuse om dit te aanvaar voordat hy sy jag bespreek.
  2. Om enige misverstande te voorkom, is dit belangrik dat die jagter aandring op skriftelike bevestiging van die pryse van wild, jagvoorwaardes en reëls voordat hy ʼn jagbespreking finaliseer.
  3. Indien die wildeienaar dus ʼn fooi hef vir mis-skote, kan die jagter besluit of hy dit aanvaar en voortgaan met sy jagbespreking.

Uit die plaaseienaar se perspektief

Kom ons plaas ons in die wildeienaar se posisie en probeer verstaan waarom daar ʼn fooi vir misskote gehef word. Wildeienaars het met reg ʼn probleem met jagters wat hul diere kwes (of mis skiet) omdat hulle nie behoorlik voorberei is vir die jag nie. Daar is verskeie redes hiervoor soos:

  1. gebrekkige skietvernuf en onvoldoende oefening op die skietbaan;
  2. gebrekkige toerusting – bv. geweer, teleskoop of ammunisie;
  3. jagters wat skote buite hul vermoë waag” op wild wat bv. te ver van hom af is;
  4. die skietposisie is ongunstig;
  5. die wind waai sterk en beïnvloed die koeëlbaan; en
  6. skiet terwyl die dier beweeg.

Voorbereiding

Behoorlike jagvoorbereiding begin by die skietbaan. SA Jagters se jaggebaseerde skietoefeninge gee skuts die geleentheid om vanuit verskeie posisies te oefen met jagvuurwapens en realistiese diereteikens wat verskillende jagscenario’s naboots, soos bosveld- of vlaktejag. Hierdie oefeninge is ontwikkel om skootplasings te verbeter en die risiko van kwesskote te verminder. Vir ‘n volledige artikel oor voorbereiding lees die volgende: Praktiese skietvaardighede vir akkurate skootplasing in die jagveld

Behoorlike voorbereiding vir jou jag begin op die skietbaan

Mis- of kwesskoot

Indien ʼn jagter ʼn dier mis skiet moes hy in die meeste gevalle nooit die skoot geskiet het nie, want hy  kon net sowel die dier gekwes het en dan was hy in elk geval aanspreeklik vir die volle bedrag, of hy die dier gevind het of nie. Dit is dikwels moeilik om met die eerste oogopslag te onderskei tussen ʼn mis- en ʼn kwesskoot. Dit gebeur dikwels dat ervare jagters of gidse verklaar dat ʼn skoot mis was (selfs indien ʼn tweede persoon die dier se reaksie dophou wanneer die skoot afgaan) wanneer dit in werklikheid, raak was. Só word gekweste diere in baie gevalle eers gevind nadat die jagter reeds die plaas verlaat het. Die wildeienaar sit dan met die gevolge en finansiële verlies.

Gedurende ‘n vyf jaar periode was ekself die jagter in drie gevalle waar óf die gids óf ʼn medejagter vir my gesê het dat my eerste skoot mis was. Ek was elke keer seker van my skoot en het aangedring om dit op te volg. Elkeen van die diere is binne 50 tot 300m verder gevind. In die een geval was die koedoekoei reeds dood en in die ander twee gevalle was ʼn opvolgskoot nodig om die diere dood te skiet. In twee gevalle is die koeël dwarsdeur die dier en het dit anderkant die dier in die grond vasgeslaan. Die persoon wat ʼn misskoot verklaar het, het aanvaar die skoot is bo-oor die dier omdat hy stof aan die anderkant van die dier sien opslaan het. Ek glo daar is baie sulke voorbeelde van diere wat gekwes is en waarvan sommige opgespoor is terwyl ander nooit gekry is nie. Hierdie sogenaamde mis-skote was inderdaad raak-skote. Die finale verantwoordelikheid berus by die jagter wanneer hy die sneller getrek het – vertrou dus altyd jou eie oordeel wat skootplasing betref en stel jouself tevrede met ‘n behoorlike opvolg van die dier.

Behoorlike opvolg

Wat word bedoel met ‘n behoorlike opvolg van die skoot? Dit beteken die plek moet gevind word waar die dier gestaan het toe die skoot geskiet is of laas gesien was, vind die regte dier se spore en dan moet die spoor van die dier gevat word en gesoek word vir bloed, beenstukkies, speeksel, enige ander weefsel, maaginhoud of ander vloeistowwe. Indien dit nie gekry word nie moet daar gekyk word of die dier se spore nie bv. ‘n gebreekte been aandui nie, wat soms baie min bloed agterlaat. Dit is hier waar die teenwoordigheid van ‘n goeie spoorsnyer al die verskil maak wanneer die spoor van ‘n gekweste dier moeilik is om te kry en “te lees” tydens die opvolg. Die gebruik van ‘n goeie hond wat kan spoorvat indien beskikbbaar moet ook soms oorweeg word om die gewonde dier te vind.

Hierdie is ʼn netelige kwessie, maar jagters moet begrip toon vir die feit dat ʼn misskoot vir die wildeienaar net so onaanvaarbaar is as ʼn kwesskoot: vandaar die fooi vir misskote. Die wildeienaar poog daarmee om die jagter te motiveer om seker te maak van die skoot vóór hy/sy skiet.

Omstandighede buite die jagter se beheer

Die rede vir gekweste wild is nie altyd weens nalatigheid of swak voorbereide jagters nie. Soms is daar omstandighede buite die jagter se beheer soos bv. ʼn bok wat beweeg op dieselfde oomblik wanneer die sneller gedruk word. Dit is daardie benoude en onherroeplike oomblik wanneer die jagter die sneller begin druk vir die skoot en terselfdertyd sien hoe die dier begin beweeg. Die koeël is op pad en die skut weet hy het ʼn gekweste dier op hande. Die volgende kampvuurgesegde hou baie waarheid in: “Indien jy nog nie ʼn dier gekwes het nie, dan jag jy nog nie lank genoeg nie of jy is nie eerlik genoeg nie”. Wanneer jy jag, gebeur dinge dikwels onverwags. Jy moet vinnig reageer en soms loop dit skeef. Dit is alles deel van die bekoring en soms ook deel van die frustrasies van jag.

Die jagter se verantwoordelikhede

  1. Die jagter se verantwoordelikheid teenoor die dier is altyd ʼn eerste skoot – doodskoot. Dít bepaal die jagter se benadering en voorbereiding vir enige skoot op ʼn dier.
  2. Ongeag die rede vir ʼn mis- of kwesskoot, die jagter is verantwoordelik vir die skoot wat hy/sy skiet en die prys wat hy daarvoor betaal. Daardie verantwoordelikheid is ‘n onlosmaaklike deel van die jag.
  3. Indien jy seker was van ʼn doodskoot toe jy die sneller getrek het, en die dier reageer nie soos jy verwag het nie (dit hardloop weg asof dit op die oog af nie getref is nie), moet jy aanvaar dat die dier heel waarskynlik gekwes is en dat jy alles in jou vermoë moet doen om seker te maak of dit die geval is of nie;
  4. ʼn Gekweste dier verdien die jagter se beste pogings om dit op te spoor en dood te skiet. Die dier betaal immers met sy lewe sodat die jagter suksesvol kan jag.
  5. Indien die skoot wel mis was, aanvaar die verantwoordelikheid en betaal die prys vir ʼn misskoot soos wat jy en die wildeienaar vooraf ooreengekom het.

SA Jagters Erekode

Die volgende uittreksel uit die SA Jagters Erekode som die jagter se verantwoordelikheid en gesindheid baie mooi op:

  • Met deernis te jag en net uit die natuur te benut wat ek kan gebruik;
  • Fauna en flora, grond en water en die lewe wat dit versinnebeeld aktief te bewaar en met respek en liefde te bejeën;
  • My vuurwapens met kundigheid en oordeel te benut en met eerbied vir die lewe aan te wend

Voorreg

Jag is ʼn ongelooflike voorreg en dit bly ʼn spesiale verantwoordelikheid om ʼn lewende wese se hartklop vir altyd te stop. Moet hierdie voorreg nooit as vanselfsprekend aanvaar nie! Benader ons hierdié voorreg en verantwoordelikheid altyd met die regte gesindheid?

Oor die skrywer

André van der Merwe is ‘n benuttingsjagter wie se passie vir jag oor meer as 60 jaar strek. Die afgelope drie dekades het hy aktief deelgeneem aan jaggeweer- en veldskietkompetisies. André het in 2006 by SA Jagters begin werk as bestuurder Tak- en Skietsake en bied ondersteuning aan die takbesture van die vereniging se 83 takke. As sekretaris van die skietkomitee koördineer hy SA Jagters se skietaktiwiteite op tak-, streek- en nasionale vlak en bevorder deurlopend die groei en sukses van die skietsport. Sy passie vir mentorskap van die volgende geslag vuurwapeneienaars, skuts, jagters en bewaarders van ons natuur- en kultuurerfenis is verweef in sy nalatenskap. Lees André se biografie hier.

Search

Share This Article

More Articles

error: Content is protected !!