Deur: André van der Merwe (Bestuurder Tak- en Skietsake)
Die gewone waterbok (Kobus ellipsiprymnus) kom voor in Oos- en Suidelike Afrika in Kenia, Tanzanië, Mosambiek, Zimbabwe, Botswana, Suid-Afrika, Zambië tot by die Caprivistrook van Namibië. Die gewone waterbok het die kenmerkende wit ring rondom die boude wat dit die beskrywende Afrikaanse naam gee van kringgat.
Inhoudsopgawe
Eetbaar of nie?
Baie jagters beskou die kringgat of waterbok net as ’n trofeedier (net die bulle het horings) wat selde vir hulle vleis gejag word omdat dit as ‘oneetbaar’ beskou is. Algemene opvattings is dat die vleis stink en dat ʼn mens niks daaraan kan doen nie.
Ervare jagters het oor die jare opgemerk dat die probleem gesetel is in die vel en hare van die waterbok wat ’n onaangename olierige reuk en gevoel het. Indien jy egter verseker dat die buitekant van die vel en die hare nie in aanraking kom met die vleis gedurende die afslagproses nie, is die vleis eetbaar (en baie lekker).
Persoonlike ondervinding
Gedurende die winter van 2011 het ek ʼn jong waterbokkoei in die Stockpoort omgewing in die Limpopo provinsie geskiet. Dit was ʼn hartskoot van voor in die kuiltjie en die bok het net ongeveer 50 m gehardloop en was reeds dood toe ek by haar kom. Aangesien dit my eerste waterbok was, het ek besluit om baie versigtig te werk te gaan wanneer die bok afgeslag word. Ek het gesorg dat ek heeltyd bystaan en help tydens die slagproses met ’n bak flou seepwater byderhand sodat die twee slagters hulle hande goed kon was voor hulle begin afslag. Gedurende die afslagproses het een slegs die buitekant van die vel hanteer en vasgehou (hy mag glad nie aan die vleis raak nie) en die tweede een was die slagter en het nie aan die buitekant van die vel geraak nie. Indien dit wel gebeur het, het ek toegesien dat hy eers weer sy hande en die slagmes deeglik in die seepwater was voordat hy voortgaan. Voor ons die afgeslagte karkas in die koelkamer ingedra het, het ons weer almal ons hande gewas voordat ons die karkas hanteer het.
Ek en my gesin het die meeste van hierdie waterbok se vleis as tafelvleis benut en selfs as braaivleis. Dit was besonder smaaklik. My vrou eet graag wildsvleis maar is sensitief vir enige “wilde” smaak. Sy het baie van die waterbokvleis gehou en dit vergelyk met die vleis van koedoekoeie wat ons gereeld as tafelvleis geniet.
Gregor Woods
Gregor Woods het in die Man MAGNUM van April 2000 geskryf oor ʼn trofee-waterbokbul wat hy geskiet het. Hy het ’n soortgelyke slagproses gevolg, maar het verder gegaan en ook die pote by die knieë afgesny (om van seker kliere ontslae te raak) onmiddellik na die dier se dood. Hy het ook die waterbok se vleis baie geniet.
Verseker self die gehalte van jou waterbokvleis
Behalwe vir die algemene voorsorg soos met enige wildskarkas moet ʼn waterbok addisioneel spesiale aandag kry gedurende die afslagproses om te verseker dat die vleis van goeie gehalte is. Jagters wat ʼn waterbok se vleis wil benut, moet nie aanvaar dat die slagters weet hoe om dit te doen nie. Juis aangesien daar so ’n wanopvatting is oor waterbokvleis, weet baie min slagters waarskynlik hoe om dit reg te doen! Staan by en verseker dat die korrekte slagproses, soos hierbo beskryf, wel nagevolg word. Die beginsel soos by alle ander diere (wild en mak) bly dat jonger diere se vleis in die algemeen smaakliker is as die vleis van ouer en veral ouer manlike diere, maar ons kan selfs daardie trofee-waterbokbul se vleis benut en geniet indien Gregor Woods se ervaring in aanmerking geneem word.
Brei jou kennis uit
Lees die artikel Wildsvleis – die jagter bepaal die gehalte daarvan vir meer inligting oor wildsvleis.
Indien jy belangstel om meer oor wildvleisveiligheid te leer, SA Jagters bied ’n wildvleisveiligheidskursus vir lede aan.
Oor die skrywer
André van der Merwe is ‘n benuttingsjagter wie se passie vir jag oor meer as 60 jaar strek. Die afgelope drie dekades het hy aktief deelgeneem aan jaggeweer- en veldskietkompetisies. André het in 2006 by SA Jagters begin werk as bestuurder Tak- en Skietsake en bied ondersteuning aan die takbesture van die vereniging se 83 takke. As sekretaris van die skietkomitee koördineer hy SA Jagters se skietaktiwiteite op tak-, streek- en nasionale vlak en bevorder deurlopend die groei en sukses van die skietsport. Sy passie vir mentorskap van die volgende geslag vuurwapeneienaars, skuts, jagters en bewaarders van ons natuur- en kultuurerfenis is verweef in sy nalatenskap. Lees André se biografie hier.