• Home
    • About SA Hunters Home Page
      Who We Are
      Board and Excecutive Members
      Meet the Team
      Conservation Committee
      Hunting Committee
      Shooting Committee
      Inyathi Park News
      National Congress
      Social Media
      Our Magazines
      HuntEx
      SA Hunters Shop
      Commercial Offers to Member
      Our Youth
      FAQs
    • Membership Home Page
      Why become a member
      Membership Fees
      Membership Administration
      Mentorship - Make a Difference
      Commercial Offers to Members
      Liability Insurance
      Membership FAQs
    • Branches Home Page
      Find Branches on Google Maps
      Branch Information per Province
      Branch Matters and Accomplishments
      Branches FAQs
    • Firearms Home Page
      Firearm Licence Helpline
      Firearm Legislation
      Application Process for Firearm Licences
      Dedicated Status (Sport Shooting & Hunting)
      Firearm Licence FAQs
    • Hunting Affairs Home Page
      Our Hunting Policy and Code
      Hunting Heritage
      Hunting Statistics
      Hunting Committee
      Hunting Licences and Proclamations
      Transport Permits Pigand Other Game Meat
      Hunting Packages 2026
      Hunters Education
      Professional Hunting
      Measuring Wildlife
      Game Meat
      Fishing
      Awards
      Hunting Articles, News and Resources
      Foot and Mouth Disease
      Hunting FAQs
      SA Hunters Shop
      Lorem ipsum dolor sit amet, consectetur adipiscing elit.
    • Shooting Home Page
    • Conservation Home Page
      Lorem ipsum dolor sit amet, consectetur adipiscing elit.
      Conservation Initiatives
      Conservation Committee
      Lorem ipsum dolor sit amet, consectetur adipiscing elit.
      Conservation News
      Lorem ipsum dolor sit amet, consectetur adipiscing elit.
      Support Conservation
      SA Hunters’ Policy and Position Statements
      Legislation and Policy Framework
      Responsible Use of Resources
      Position on Lead Ammunition
      Conservation FAQs
    • Photography Home Page
      Photography Competition Information
      Photography Competition Gallery
      Photography Club on Facebook
      Photography Club Gallery
      Photography FAQs
  • SA Hunters Shop
Search

SA HUNTERS AND GAME CONSERVATION ASSOCIATION

SA HUNTERS AND GAME CONSERVATION ASSOCIATION

SA JAGTERS- EN WILDBEWARINGSVERENIGING

SA JAGTERS- EN WILDBEWARINGS- VERENIGING

hunters jagters
hunters jagters

Vuurwapenveiligheid – is jy veilig?

Skrywer: André van der Merwe (SA Jagters Bestuurder: Tak- en Skietsake)

Nota: vir eenvoud word in hierdie artikel net na jaggewere verwys, maar die basiese beginsels van vuurwapenveiligheid is ook van toepassing is op alle ander vuurwapen tipes.

Inhoudsopgawe

Vuurwapenveiligheid: eerste indrukke

Beroepsjagters praat dikwels van daardie eerste keer wat hy ʼn nuwe kliënt ʼn geweer sien hanteer en binne ʼn paar minute weet of die jagtog wat voorlê ʼn plesier of ʼn beproewing of selfs lewensgevaarlik gaan wees. Volgens ervare beroepsjagters is daar relatief min risiko om een van die groot VYF te jag. Die oorheersende en immerteenwoordige gevaar is dié van ʼn skietvoorval waar die jagter dikwels die probleem veroorsaak. Volgens die beroepsjagters is daar ʼn redelike goeie kans dat jy raakgeskiet kan word indien jy saam met ʼn roekelose of ʼn onverantwoordelike jagter gaan jag! Stories van ʼn “vreesaanjaende oomblik” toe ʼn skoot “onbeplan afgegaan het” is volop rondom die kampvuur.

Wanneer jy vir die eerste keer iemand ʼn vuurwapen sien hanteer, beoordeel die persoon se vuurwapenveiligheid aan die hand van die volgende vier algemene reëls:

  1. Reël 1: Alle vuurwapens is altyd gelaai. Niemand moet ooit aanvaar dat enige vuurwapen wat hy sien of hanteer, nie gereed is om te vuur nie. Selfs wanneer ʼn “veilige” vuurwapen aan jou oorhandig word, maak self seker dat dit wel veilig is met die grendel oop, en geen patrone in die kamer of magasyn is nie.
  2. Reël 2: Moet nooit die loop van die wapen rig op enigiets wat jy nie bereid is om te vernietig nie. Die feit dat dit nie gelaai is nie, maak geen verskil aan die reël nie. Sien reël 1. Wees altyd bewus in watter rigting jou wapen se loop wys wanneer jy dit hanteer.
  3. Reël 3: Hou jou vinger weg van die sneller tot jou visiere of teleskoop op die teiken is. Vuurwapens gaan nie self “af” nie, iemand trek die sneller! Die bevoegde skut se vinger is langs die snellerbeuel totdat hy sy teiken bevestig het. Oortredings van reël 3 is verantwoordelik vir meer as 80% van alle skietvoorvalle.
  4. Reël 4: Bevestig jou teiken! Moet nooit skiet na iets wat jy nie bevestig het nie. Moet nooit skiet na ʼn skaduwee, geluid, silhoeët of enigiets wat jy nie duidelik kan sien en identifiseer nie. Maak ook seker wat is agter jou teiken. Wat word van die koeël as dit die teiken mis of dit ten volle penetreer?

Hierdie algemene reëls vir vuurwapenveiligheid is van toepassing op die skietbaan, tydens vervoer, tuis, wanneer jy jou wapens skoonmaak, in die jagveld of vir selfverdediging wanneer jou lewe bedreig word (bv. ʼn inbreker in jou huis). Indien alle mense altyd dié vier reëls toepas, sal daar nie skietongelukke wees nie.” Nalatigheid veroorsaak skietvoorvalle.

Dit is ʼn voorreg om ʼn vuurwapen te besit

Vuurwapeneienaarskap kom met verantwoordelikhede wat elke eienaar onvoorwaardelik moet aanvaar. Jy is altyd verantwoordelik vir die gebruik daarvan – hetsy jy dit self gebruik en of iemand anders dit gebruik! ʼn Verantwoordelike vuurwapeneienaar se vuurwapen is altyd toegesluit in ʼn wapenkluis of onder sy toesig en word nie onbewaak gelaat nie, bv. in ʼn voertuig, op die skietpunt terwyl die skut na die teiken stap of enige plek waar kinders dit sonder toesig in die hande kan kry nie. Dit is ʼn wonderlike voorreg om kinders en volwassenes aan die verantwoordelike hantering en gebruik van vuurwapens bekend te stel, mits dit deur ʼn wettige vuurwapeneienaar gedoen word. Kinders moet vuurwapens slegs onder toesig van die vuurwapeneienaar en met toestemming van hulle ouers hanteer.

Net soos die nakoming van verkeersreëls vir voertuie, gaan die veilige hantering van vuurwapens eerstens oor die bevoegdheid en tweedens oor ’n ingesteldheid en/of benadering. Nalatigheid en dikwels ’n traak-my-nieagtige houding veroorsaak skietvoorvalle. Soms veroorsaak ervare skuts ongelukke omdat hulle nie hulle volle aandag wy aan wat hy doen nie. Dit is beslis nie net beginners wat ongelukke of foute maak nie! Die ou spreekwoord van “familiarity breeds contempt” is dikwels die rede daarvoor. Wanneer ʼn mens sekere aksies gereeld doen oor ’n lang tydperk, raak die hantering van vuurwapens tweede natuur en neig mense om afgestomp te raak en gee nie hulle volle aandag nie. Die hantering van ’n vuurwapen mag nooit so alledaags word dat die basiese veiligheidsmaatreëls nie nagekom word nie.

Die volgende is ʼn belangrike uitbreiding van die vier bogenoemde universele veiligheidsreëls

Hou vuurwapen in ʼn betroubare werkende toestand

Maak seker dat jou vuurwapen in ʼn betroubare werkende toestand is. Daar kan fout gaan met enige meganiese onderdeel soos bv. die veiligheidsmeganisme (“safety catch”) of ʼn sneller. Daarom is daar net twee veiligheidsmeganismes waarop jy kan staatmaak: ʼn goed opgevoede snellervinger (sien reël 3 hierbo) en gesonde verstand (die nakoming van die vier basiese veiligheidsmaatreëls hierbo).

Wat is ʼn opgevoede snellervinger?

Hou skuts op die skietbaan dop om te sien waar hulle hul snellervingers hou nadat die grendel gesluit is. Die snellervinger moet altyd reguit langs die snellerbeuel gehou word. ʼn Snellervinger hoort net op ʼn sneller vir die finale 2 tot 3 sekondes wanneer die skut gereed is om die sneller te druk. Dikwels is ʼn skut se vinger reeds op die sneller terwyl hy/sy nog die finale skietposisie soek en lank vóór die skut gereed is om te vuur. Dit is hier waar onbeplande skote dikwels gevuur word! Reël 3 hierbo verwys juis na die feit dat meer as 80% van alle skietvoorvalle die gevolg is van ʼn snellervinger wat op die verkeerde oomblik op die sneller was en die sneller getrek is toe die skut nog nie gereed was om te vuur nie.

Snellers wat te lig gestel is

Daar is ʼn tendens by jagters en veral kompetisieskuts om die snellers van hulle gewere te stel dat dit baie min drukking verg om die skoot te vuur. Gewere met snellers wat baie lig gestel, is gaan soms af met die geringste beweging, soos bv. wanneer die langmou van ʼn hemp of baadjie daarteen skuur en selfs wanneer die skut die grendel toemaak en sluit. ʼn Geweer waarvan die sneller so onstabiel is, is meganies onklaar en uiters gevaarlik! ʼn Skut wat weet van so ʼn probleem op sy geweer, is nalatig as hy die gebruik daarvan nie dadelik staak en die geweer deur ʼn wapensmid laat nasien en regstel nie. ʼn Praktiese standaard behoort as ʼn minimum ongeveer 1 200 gram (dit is reg 1,2 kg!) op jaggewere se snellers te wees. Vir perspektief: op handwapens vir selfverdediging is ʼn redelike standaard tussen 1.8 en 2.7 kg om te verhoed dat skote afgaan omdat ʼn sneller te lig gestel is.

Veiligheidsknip

Die gebruik van die veiligheidsknip (safety catch) moet nooit ’n vals gevoel van gerustheid gee nie. Hou die snellervinger altyd weg van die sneller (langs die snellerbeuel) totdat jy gereed is om die skoot te vuur. Die gewoonte om die sneller te trek terwyl die grendel sluit, is uiters gevaarlik! Die slagpen rus nou teen die slagdop, en ʼn hou teen die kolf van die geweer op ʼn oppervlak soos ʼn rots of die vloer van ʼn jagvoertuig is genoeg om die traagheid van die slagpenveer te oorkom, wat kan lei tot ʼn onverwags afgevuurde skoot.

ʼn Skoon loop en aksie en korrekte kaliber ammunisie

Die geweer se loop en aksie moet altyd skoon wees voordat ’n skoot afgevuur word. Enige obstruksie in die loop soos bv. olie, water of modder is gevaarlik en kan skade aan die geweer en/of beserings aan die skut veroorsaak indien ʼn skoot gevuur word. Indien water of enige ander vullis soos modder in ’n geweerloop beland tydens ʼn jag, maak eers die loop behoorlik skoon voordat die volgende skoot geskiet word.

Maak seker dat jy die korrekte kaliber ammunisie vir jou geweer het voordat jy die kamp verlaat, veral wanneer daar ’n paar jagters met verskillende kalibers in die kamp is. ʼn .308 Winchester rondte pas bv. in die kamer van ʼn .25-06 Remington (ook .270 Winchester) geweer. Wanneer die skoot gevuur word, word ʼn .308 kaliber koeël deur ʼn .257 of .277 kaliber loop geforseer met ’n dramatiese verhoging van druk in die kamer. Dit beskadig die geweer en kan die skut en selfs omstanders beseer. Maak seker dat jy die korrekte ammunisie vir elke vuurwapen gebruik. Koeëls wat los rondlê is ʼn slegte idee. Dit is goeie praktyk om plastiek of papier ammunisiehouers te gebruik vir koeëls wat elke kaliber duidelik aandui.

Herlaaide ammunisie

Gebruik net herlaaide ammunisie wat jy uitsluitlik vir jou eie geweer herlaai het. Moenie ammunisie gebruik wat vir ʼn ander geweer in dieselfde kaliber herlaai is nie.

Vuurwapens in die jagkamp

Wanneer die jag vir die dag verby is, moet alle gewere in die kamp of huis of enige ander blyplek eers veilig gemaak word (verwyder ammunisie uit die wapen). Jagkampe word toenemend ʼn teiken van misdadigers. Wapenkluise op jagplase bly die beste oplossing en die vuurwapenwet vereis van dat vuurwapen veilig weggesluit moet wees.

Identifiseer jou teiken voordat jy skiet

Menige verkeerde teikens (mens en dier) is al raak- of doodgeskiet omdat die skut nie seker gemaak het van sy teiken nie. Wanneer jy die sneller trek is jy verantwoordelik vir die resultaat!

Belangrike reëls oor die hantering van ʼn gelaaide geweer

  • Moenie met ʼn gelaaide geweer op of van ’n voertuig klim nie. Jagmaats moet onder mekaar kontroleer dat al die gewere agter op die bak en in die kajuit van die voertuig veilig is.
  • Moenie deur ʼn heining of in ’n boom klim met ’n gelaaide geweer nie. Die skut moet altyd beheer behou oor sy geweer. Wanneer sy hande besig raak met ander funksies soos om in ’n boom te klim of deur of bo-oor ʼn heining, verloor hy volle beheer van ʼn gelaaide geweer wat ʼn resep is vir ’n ongeluk.
  • Moenie ’n geweer aan sy loop na jou toe nadertrek of optel nie want jy oortree reël 2 wat waarsku teen die volgende: “moet nooit ’n vuurwapen rig op enige voorwerp wat jy nie bedoel om op te skiet nie”. In dié geval rig jy ’n vuurwapen op jouself!

Moet nie na ʼn harde oppervlak of water skiet nie

Wanneer ʼn koeël ʼn harde oppervlak tref, kan dit wegskram en ʼn mens of dier tref. Maak seker dat daar ’n geskikte sandbank is om die koeëls te absorbeer/vang wanneer daar na teikens geskiet word. Dit geld ook in die jagveld waar ’n skoot soms in die hitte van die oomblik gevuur word sonder om te dink wat agter die teiken is. Dit is veral ’n probleem op kleiner jagplase waar mense en geboue dikwels baie naby aan die jagter is. ’n Jaggeweerkoeël is potensieel gevaarlik tot op 5 km, afhangende van die kaliber, en selfs die ligte .22-randslagkoeël is gevaarlik tot op 1.5 km.

Gebruik van alkohol of narkotiese middels by die hantering van vuurwapens

Dit is ʼn misdryf om vuurwapens (windgewere ingesluit) te hanteer wanneer ʼn persoon onder die invloed is van enige middel wat ʼn bedwelmende of narkotiese uitwerking het.

Sien die Wet op Beheer van Vuurwapens (Wet 60 van 2000) – artikel 120 (4) – “Misdrywe”. SA Jagters en die takke pas hierdie voorwaardes van die wet streng toe and daarom word geen alkohol of narkotiese middels op skietbane toegelaat nie. Net soos met die bestuur van ʼn voertuig, hou ʼn persoon wat ʼn vuurwapen onder die invloed van alkohol en/of narkotiese middele hanteer, ʼn onaanvaarbare risiko in vir hom/haarself en ander mense.

Kies jou jagmaats sorgvuldig

Op skietbane verseker baanoffisiere dat skuts hulle vuurwapens verantwoordelik en veilig hanteer. In die jagveld is dit jy en jou jagmaats se verantwoordelikheid om streng veiligheidsmaatreëls toe te pas. Onveilige vuurwapenhantering mag nie geduld word nie. Enigeen wat hom/haarself daaraan skuldig maak, moet onmiddellik en ferm reggehelp word. Jy kan die slagoffer wees van nalatigheid. Verdien ander mense se respek en waardering deur altyd onberispelik op te tree wanneer jy ’n vuurwapen hanteer.

Skietbane sonder amptelike baanoffisiere

Hierdie situasies bestaan gewoonlik wanneer ʼn groepie jagters op die jagplaas eers na die inskietbaan gaan om seker te maak dat hulle gewere/teleskope en ammunisie gereed is vir die jag. Vir orde en veiligheid op die skietbaan moet die groep as volg ooreenkom:

  • ʼn Senior en ervare persoon word aangewys as die baanoffisier om die verrigtinge te beheer en almal aanvaar sy gesag onvoorwaardelik aanvaar en voer sy opdragte uit.
  • Geen persoon onder die invloed van alkohol of narkotiese middels mag die skietbaan betree nie en geen gebruik van alkohol word tydens die skietsessie toegelaat nie.
  • Vuurwapens moet ongelaai op die skietbaanterrein arriveer in ʼn doelgemaakte tas of sak.
  • Vuurwapens mag net uit die sak of tas gehaal word in direkte opdrag van die baanoffisier op die skietpunt en lope moet altyd in ʼn veilige rigting wys.
  • Geen persoon mag ʼn vuurwapen op die skietpunt hanteer terwyl enige persoon voor die skietpunt is nie.
  • Veiligverklaarde vuurwapens moet in sakke of tasse wees wanneer jagters die skietbaan verlaat.
  • Gehoor- en oogbeskerming is verpligtend.

Jou keuse as verantwoordelike vuurwapeneienaar

As verantwoordelike vuurwapeneienaar sal ʼn mens met persone te doen kry wat hulle skuldig maak aan een of ander vorm van onveilige wapenhantering. Jy kan kies om niks te doen nie of om op te tree. Indien jy kies om niks te doen nie wanneer jy onveilige optrede sien, versuim jy jou plig. Indien iemand beseer word of sterf weens die onveilige vuurwapenhantering van so ’n persoon, sal jy jouself verkwalik óf jy kan die slagoffer wees van die skietvoorval!

Slegs met ʼn benadering van “geen toegewings nie” en daadwerklike optrede teen oortreders, is jou en jou jagmaats se veiligheid verseker. Moenie huiwer om ʼn persoon aan te spreek wat nalatig of onverantwoordelik optree nie. Die persoon wat aangespreek word sal waarskynlik aanstoot neem. Wanneer iemand raakgeskiet is, is dit te laat vir trane en verskonings!

Vuurwapenveiligheid is in almal se belang!

Oor die skrywer

André van der Merwe is ‘n benuttingsjagter wie se passie vir jag oor meer as 60 jaar strek. Die afgelope drie dekades het hy aktief deelgeneem aan jaggeweer- en veldskietkompetisies. André het in 2006 by SA Jagters begin werk as bestuurder Tak- en Skietsake en bied ondersteuning aan die takbesture van die vereniging se 83 takke. As sekretaris van die skietkomitee koördineer hy SA Jagters se skietaktiwiteite op tak-, streek- en nasionale vlak en bevorder deurlopend die groei en sukses van die skietsport. Sy passie vir mentorskap van die volgende geslag vuurwapeneienaars, skuts, jagters en bewaarders van ons natuur- en kultuurerfenis is verweef in sy nalatenskap. Lees André se biografie hier.

Search

Share This Article

More Articles

error: Content is protected !!