Die nasionale Lapua Challenge Kampioenskap is op Saterdag, 30 Augustus 2025, op die Excalibur-skietbaan in Welkom aangebied, met SA Jagters se Sandrivier-58-tak as trotse gasheer. SA Jagters het waardering uitgespreek vir Poena Meintjies (takvoorsitter), André van Heerden en hul bekwame span vir die professionele wyse waarop hierdie byeenkoms gereël en aangebied is.
Die kampioenskap is die hoogtepunt van ’n reeks van 22 kompetisies wat die afgelope jaar landwyd by takke aangebied is. Wenners van goue medaljes in elke dissipline is uitgenooi om in die 2025 nasionale kampioenskap deel te neem. Die kompetisie word in bankrus-formaat geskiet vanaf skiettafels in beide randslag- en senterslagdissiplines, met afsonderlike klasse vir mans, vroue, juniors onder 18 en veterane (65 jaar en ouer).
SA Jagters bedank ook Normark Africa vir hul ruim borgskap ter waarde van R200 000, wat hierdie reeks kompetisies op tak- én nasionale vlak in 2025 moontlik gemaak het.
Prysuitdeling Lapua Challenge Kampioenskappe 2025