Die SA Jagters/Browning Noordelike Haelgeweerkampioenskap het op Saterdag, 29 November 2025 by die Daniëlsrus-skietbaan naby Krugersdorp plaasgevind met Pta-Oos-tak as die gasheer. Die dag was voorafgegaan met erge donderstorms en baie reën. Net na vyfuur die oggend op die dag van die byeenkoms, was daar ‘n ligte reënbui maar gelukkig het die son 10 minute later weer kop uitgesteek. Skuts kon op ʼn besonderse mooi somersdag sake uitspook om die wenner van die noordelike haelgeweerkampioenskap te bepaal. Die tellings van die noordelike en suidelike byeenkomste is gekombineer om die nasionale kampioen en nasionale klaswenners te bepaal. Baie geluk aan al die wenners en baie dankie vir die goeie gees en gesindheid waarmee julle deelgeneem het.
Resultate vir die 2025 Nasionale Haelgeweer Kampioenskap
Prysuitdeling vir die Suidelike Haelgeweerkampioenskap 2025
André Pienaar het met sy uitstekende telling van 87/100 kleie SA Jagters se eerste Suidelike Haelgeweerkampioenskap gewen wat op 6 September 2025 by die Outeniqua kleiduifklub gehou is. Met hierdie prestasie het hy ook SA Jagters se nasionale haelgeweerkleure verwerf. Tuinroete-tak was die gasheer van hierdie suksesvolle mylpaal-byeenkoms wat deur 28 skuts van die Tuinroete-, Overberg-, Tafelberg- en Weskus takke bygewoon is.