• Home
    • About SA Hunters Home Page
      Who We Are
      Board and Excecutive Members
      Meet the Team
      Conservation Committee
      Hunting Committee
      Shooting Committee
      Inyathi Park News
      National Congress
      Social Media
      Our Magazines
      HuntEx
      SA Hunters Shop
      Commercial Offers to Member
      Our Youth
      FAQs
    • Membership Home Page
      Why become a member
      Membership Fees
      Membership Administration
      Mentorship - Make a Difference
      Commercial Offers to Members
      Liability Insurance
      Membership FAQs
    • Branches Home Page
      Find Branches on Google Maps
      Branch Information per Province
      Branch Matters and Accomplishments
      Branches FAQs
    • Firearms Home Page
      Firearm Licence Helpline
      Firearm Legislation
      Application Process for Firearm Licences
      Dedicated Status (Sport Shooting & Hunting)
      Firearm Licence FAQs
    • Hunting Affairs Home Page
      Our Hunting Policy and Code
      Hunting Heritage
      Hunting Statistics
      Hunting Committee
      Hunting Licences and Proclamations
      Transport Permits Pigand Other Game Meat
      Hunting Packages 2026
      Hunters Education
      Professional Hunting
      Measuring Wildlife
      Game Meat
      Fishing
      Awards
      Hunting Articles, News and Resources
      Foot and Mouth Disease
      Hunting FAQs
      SA Hunters Shop
      Lorem ipsum dolor sit amet, consectetur adipiscing elit.
    • Shooting Home Page
    • Conservation Home Page
      Lorem ipsum dolor sit amet, consectetur adipiscing elit.
      Conservation Initiatives
      Conservation Committee
      Lorem ipsum dolor sit amet, consectetur adipiscing elit.
      Conservation News
      Lorem ipsum dolor sit amet, consectetur adipiscing elit.
      Support Conservation
      SA Hunters’ Policy and Position Statements
      Legislation and Policy Framework
      Responsible Use of Resources
      Position on Lead Ammunition
      Conservation FAQs
    • Photography Home Page
      Photography Competition Information
      Photography Competition Gallery
      Photography Club on Facebook
      Photography Club Gallery
      Photography FAQs
  • SA Hunters Shop
Search

SA HUNTERS AND GAME CONSERVATION ASSOCIATION

SA HUNTERS AND GAME CONSERVATION ASSOCIATION

SA JAGTERS- EN WILDBEWARINGSVERENIGING

SA JAGTERS- EN WILDBEWARINGS- VERENIGING

hunters jagters
hunters jagters

Kweek jong jagters en bewaarders

Deur: André van der Merwe (SA Jagters Bestuurder Tak- en Skietsake)

Inhoudsopgawe

Die opwinding van die jagseisoen

Voorbereiding vir die jagseisoen is altyd ʼn opwindende tyd en te oordeel na my eie ervarings maak dit nie saak hoe oud jy is nie, dit bly ‘n heerlike proses, elke keer! Ek het groot geword in die noordelike bosveld van Suidwes-Afrika (nou Namibië) en ek het wonderlike herinneringe van my kinderjare toe ek en my Pa, jonger broer en later my swaer die kortwielbasisviersilinder Landrover pak met ons kampeer- en jagtoerusting, die rit na die jagplaas (gewoonlik baie vroeg op ’n koue wintersoggend), arriveer, afpak en kamp opslaan. Ons het nooit in tente geslaap nie, maar almal in ʼn kermisbed onder die sterrehemel op die sandbed van die Ugabrivier onder reuse Anabome tot 30 m hoog met die Bosveldfisante wat jou met dagbreek luidkeels wakker kekkel. Die eerste taak wat ek en my broer gehad het, was om te besluit wie uit die warm bed moes kruip en die vroegoggendkoue trotseer om die vuur en koffieketel aan die gang te kry. Ek onthou hoe Pa dit geniet het om ons dop te hou en selfs kommentaar te lewer gedurende die proses.

My jonger broer wat toe net agt jaar oud was, het in die kamp agter gebly en die hele dag op en af in die rivierbed en op die walle met sy luggeweer gejag. Hierdie gebied was ʼn skatkis wat vir kilometers in beide rigtings gestrek het met bos aan beide kante van die rivieroewer en ʼn ryk verskeidenheid voëllewe wat die jong jagtertjie van sonop tot sononder besig gehou het. Hy was ʼn baie onafhanklike jong seun en kon vir sy eie etes sorg wanneer nodig. Hy het selfs af en toe ʼn ogie gehou oor ons volgende maaltyd in die swart driebeenpot wat op die warm as van die vorige aand se vuur geprut het.

Leer groot verantwoordelikhede vir klein handjies

Ek was 14 jaar oud – toegerus met my eie .303 British P14 Enfield jaggeweer – en toestemming om op my eie in ʼn 1 000 ha kamp op die spesifieke plaas te jag. Hierdie voorreg het gekom met gepaardgaande verantwoordelikhede, soos onder andere, verantwoordelike vuurwapenhantering en indien jy sou skiet, moes jy verslag doen van elke skoot! Daar was nie genoeg geld vir ammunisie om met die senterslagjaggeweer te oefen nie, maar Pa het gesorg dat ons genoeg .22 LR-patrone en ʼn feitlik onbeperkte voorraad .177-kaliber luggeweerkoeëltjies het om mee te oefen. Só het ons, ons basiese skietvaardighede geoefen.

Wanneer ek terugkyk na daardie dae dan besef ek dat Pa ons vryhede gegee het wat baie mense vandag sou bevraagteken. Pa het die basiese beginsels toegepas. Eerstens, het hy ons op ʼn baie jong ouderdom blootgestel aan vuurwapens, jag en verwante ervarings. Ek was drie jaar oud toe ek die eerste keer saam met hom gaan jag het en op vyf het ek my eerste luggeweer gekry. Hy het ons met die luggewere geleer skiet, wapenveiligheid by ons gevestig en verseker dat ons presies weet wat ons mag en nie mag doen nie. ʼn Oortreding van veiligheidsreëls is nie geduld nie en het jou straf op die hals gehaal indien dit sou gebeur. Tweedens, wanneer jy bewys het dat jy verantwoordelik optree, is jy die vryheid gegee om sonder toesig met die luggeweer rond te loop of met ʼn senterslag jaggeweer te jag. Hierdie benadering het ons baie vinnig laat besef wat die voordele is om Pa se vertroue te behou.

Verstewig die kosbare band tussen ouer/grootouer en kind

In my kontak met die SA Jagters-lede landwyd, is dit vir my opvallend hoe nou die band tussen ouers en kinders is waar kinders op ’n gereelde grondslag saam met pa en ma kampeer, skiet, jag, en aan ander buitelugaktiwiteite deelneem. My kinderjare het my geleer wat die voordele van hierdie band tussen ouer en kind is. Ongelukkig is daar ’n baie groot groep van ons moderne jeug wat nie hierdie geleenthede het nie weens onder ander verstedeliking, een-ouergesinne en die besige sportprogramme by skole. Ek moedig ouers aan om hulle kinders bloot te stel aan die natuur sodat hulle ook die wonderlike voorreg kan ervaar. Probeer dit! Die langtermynvoordele van só ’n belegging is onmeetbaar!

Was dit jou pa, oupa of miskien ʼn oom wat ʼn grootoog-jagtertjie vergesel het op sy/haar se eerste kamp of jaguitstappie? Dit bied vir beide volwassene en kind aangename herinneringe wat ons vir die res van ons lewe bybly.

Nou is dit die kleinkinders se beurt

Jagters ervaar verskillende lewensfases. Vir my is dit nou ‘n heerlike voorreg om my belangstellings en passie vir vuurwapens, jag en die natuur met my kinders en kleinkinders te deel. Sedert 2008, volg ons uitgebreide familie die tradisie van ʼn jaarlikse familiejag waar ek my twee skoonseuns aan hul eerste jag blootgestel het. Daarna het my drie kleinkinders (twee meisies en ʼn seun) vanaf hulle eerste jaar hierdie familietradisie meegemaak. Aanvanklik was die kleinkinders nie teenwoordig wanneer diere geskiet word nie. Dit het slegs gebeur wanneer hulle emosioneel gereed was daarvoor.Hulle word egter blootgestel aan al die ander ondervindinge rondom die jag soos die herwinning van karkasse (die ritte agter op die jagbakkie is die lekkerste deel!), slag van die diere en vleisverwerking. Terwyl die jagters in die veld is, geniet hulle die plaas- en jagkampervaring saam met die res van die familie. Aangesien hulle in ʼn stad groot word, is dit geleenthede wat hulle nooit andersins sou beleef het nie. Soos hulle begin belangstel het in skiet het ons hulle met ʼn luggeweer begin leer.

Ek het vir my kleinseun, Janko op sy vyfde verjaardag met die familiejag van 2019 sy eerste windbuks gegee. Tydens die 2020 familiejag wat eers in September kon plaasvind a.g.v. COVID-19 se beperkings het sy belangstelling in skiet spoed gekry. Na hierdie jag het hy eendag by ons gekuier en ek en hy het ʼn luggeweerskietbaan in die motorhuis gebou. In die uur of twee wat ons daar spandeer het, het sy skietvernuf met rasse skrede gevorder. My vrou het na die tyd die opmerking gemaak dat Janko bevoorreg is om by sy Oupie te leer skiet – my antwoord was dat ek ook bevoorreg is om die rol as mentor kan vervul.

In 2022 toe Janko 8 jaar oud was, het hy gevra of hy sy eerste patrys of tarentaal met die .22 LR geweer kan skiet Hy het dit suksesvol gedoen en het daarna bewys dat hy emosioneel reg was vir hierdie stap. Hy en sy ma het die bospatrys saam skoongemaak, hy het dit gebraai en almal het saam geëet. Die volgende dag het hy vir sy Oumie genoem dat hy graag ook ‘n tarentaal sou wou skiet, maar dat hy nie regtig nog ’n voel wil doodmaak nie. Duidelik het die lesse oor die belangrike verantwoordelikheid om ‘n dier se lewe te neem by hom ingesink. So is Janko van sy kleuterdae af voorgestel aan gewere en jag en word hy toegelaat om te besluit teen watter pas sy belangstellings vorm.

Belê in die jeug en verseker hul toekoms

Oorweeg dit om jou passie vir jag en die natuur te deel met jongmense in jou gemeenskap of in jou familie sodat hulle ook voordeel kan trek uit die verrykende ondervindings. Een van die mees kosbare trofee van hierdie ervarings is die herinneringe vir beide die leermeester en die student. Ons jeug is die toekoms. Koester hulle, Binnekort neem hulle by ons oor in meer as een opsig. Óf hulle toegerus gaan wees vir die taak, gaan afhang van ons, die huidige geslag van jagters.

“In the end we will conserve only what we love;
we will love only what we understand;
and we will understand only what we have been taught.”
Baba Dioum, Africa

SA Jagters 'n kultuur van mentorskap

  • Mentorskap is die leiding of rigting wat ʼn mentor bied.
  • ʼn Mentor bied kennis, hulp of advies aan ʼn minder ervare en dikwels jonger persoon.
  • Mentors het ervaring en kundigheid waaruit ander kan leer.
  • SA Jagters: ʼn kultuur van mentorskap – ouers na kinders na kleinkinders

Oor die skrywer

André van der Merwe is ‘n benuttingsjagter wie se passie vir jag oor meer as 60 jaar strek. Die afgelope drie dekades het hy aktief deelgeneem aan jaggeweer- en veldskietkompetisies. André het in 2006 by SA Jagters begin werk as bestuurder Tak- en Skietsake en bied ondersteuning aan die takbesture van die vereniging se 83 takke. As sekretaris van die skietkomitee koördineer hy SA Jagters se skietaktiwiteite op tak-, streek- en nasionale vlak en bevorder deurlopend die groei en sukses van die skietsport. Sy passie vir mentorskap van die volgende geslag vuurwapeneienaars, skuts, jagters en bewaarders van ons natuur- en kultuurerfenis is verweef in sy nalatenskap. Lees André se biografie hier.

Search

Share This Article

More Articles

error: Content is protected !!