Kom sit maar aan!
Ek het in die Kalahari groot geword, en hoewel ons baie bokvleis in die huis gehad het (geskenk), het my pa nooit gejag nie. Ek het self eers begin jag toe ek 35 jaar oud was, maar toe het die gogga behoorlik gebyt.
Ek is al 30 jaar lid van SAJWV waarvan die laaste 23 by die Pretoria-Oos-tak is.
My liewe vrou het besef “if you can’t beat them then join them”, en het toe ook lid geword. Sy het ook vir twee termyne op die Pretoria-Oos-tak se komitee gedien as tesourier.
Ons kinders is grootgemaak op wildsvleis, en twee van hulle jag nou self vir die pot. Fanie jag uitsluitlik met sy 9,3×62 terwyl Mia haar deel doen met haar 6,5X55.
Terloops, Mia het self 7 jaar op die Pretoria-Oos-tak se bestuurskomitee gedien, terwyl Fanie tans op die komitee is.
Ek is baie lief vir biltong, geel-vet beesbiltong, nog effe nat. Wildsvleis is net te kosbaar om droëwors en biltong van te maak. So in ons huis word wildsvleis gebruik vir bak, braai, stowe, ens.
Neem byvoorbeeld ‘n rooibok:
- Die filette word uitgehaal en eenkant weggesteek vir my persoonlike gebruik.
- Die rugstringe word ook uitgehaal, die sening verwyder en dan gehou om steaks uit te sny.
- Die ribbes word ontbeen om ribrol van te maak
- Een van die bladjies word in skywe gesny vir ‘n oondbakgereg. Die ander bladjie word heel gehou om lank en stadig te bak.
- Uit die boude sny ons schnitzels.
- Die nek en skenkels is potjievleis.
- Die res van die vleis – nie dat daar veel oor is nie – word maalvleis of braaiwors.
- Die tong, hart, lewer en niertjies (die bok se vyfde kwart) word vir verskeie geregte gebruik.
En nou is ek sommer lekker honger!
Ek deel graag met julle ‘n paar van my alternatiewe resepte, almal gunstelinge in ons huis, en wenners aan tafel.