• Home
    • About SA Hunters Home Page
      Who We Are
      Board and Excecutive Members
      Meet the Team
      Conservation Committee
      Hunting Committee
      Shooting Committee
      Inyathi Park News
      National Congress
      Social Media
      Our Magazines
      HuntEx
      SA Hunters Shop
      Commercial Offers to Member
      Our Youth
      FAQs
    • Membership Home Page
      Why become a member
      Membership Fees
      Membership Administration
      Mentorship - Make a Difference
      Commercial Offers to Members
      Liability Insurance
      Membership FAQs
    • Branches Home Page
      Find Branches on Google Maps
      Branch Information per Province
      Branch Matters and Accomplishments
      Branches FAQs
    • Firearms Home Page
      Firearm Licence Helpline
      Firearm Legislation
      Application Process for Firearm Licences
      Dedicated Status (Sport Shooting & Hunting)
      Firearm Licence FAQs
    • Hunting Affairs Home Page
      Our Hunting Policy and Code
      Hunting Heritage
      Hunting Statistics
      Hunting Committee
      Hunting Licences and Proclamations
      Transport Permits Pigand Other Game Meat
      Hunting Packages 2026
      Hunters Education
      Professional Hunting
      Measuring Wildlife
      Game Meat
      Fishing
      Awards
      Hunting Articles, News and Resources
      Foot and Mouth Disease
      Hunting FAQs
      SA Hunters Shop
      Lorem ipsum dolor sit amet, consectetur adipiscing elit.
    • Shooting Home Page
    • Conservation Home Page
      Lorem ipsum dolor sit amet, consectetur adipiscing elit.
      Conservation Initiatives
      Conservation Committee
      Lorem ipsum dolor sit amet, consectetur adipiscing elit.
      Conservation News
      Lorem ipsum dolor sit amet, consectetur adipiscing elit.
      Support Conservation
      SA Hunters’ Policy and Position Statements
      Legislation and Policy Framework
      Responsible Use of Resources
      Position on Lead Ammunition
      Conservation FAQs
    • Photography Home Page
      Photography Competition Information
      Photography Competition Gallery
      Photography Club on Facebook
      Photography Club Gallery
      Photography FAQs
  • SA Hunters Shop
Search

SA HUNTERS AND GAME CONSERVATION ASSOCIATION

SA HUNTERS AND GAME CONSERVATION ASSOCIATION

SA JAGTERS- EN WILDBEWARINGSVERENIGING

SA JAGTERS- EN WILDBEWARINGS- VERENIGING

hunters jagters
hunters jagters

Jaggids – die eintlike jagter?

Skrywer: André van der Merwe (Bestuurder Tak- en Skietsake)

Die aangename herinneringe van my jagervarings oor die jare heen herinner my aan die rol van jaggidse en spoorsnyers. Daar word gejag op plase waar die gidse wissel van gewone plaaswerkers wat bloot die rol vervul omdat hy die plaas ken en hoofsaaklik toesien dat die jagter nie verdwaal nie, tot opgeleide gidse. Die vereistes vir ’n goed opgeleide gids gedurende bv. ʼn Bosveldjag is om met die jagter in Afrikaans of Engels te kan kommunikeer (so jammer dat só baie van ons jagters nie ’n swart taal magtig is nie). Ander kenmerke sluit in goeie algemene kennis van die plantegroei; diere se gewoontes; spore en mis; fyn waarnemingsvermoë; korrekte gebruik van die wind en son; die vermoë om stadig en sag te beweeg; spoorsny en opspoor van die teikenwild; vermoë om die jagter in die mees gunstige posisie te kry vir ’n skoot; spoorsny en die opspoor van gekweste wild; hantering van ’n tweerigting radio; behoorlike en higiëniese slag van diere indien daar nie spesifiek slagters vir die doel op die plaas is nie; en die vermoë om bv. die kopvel of masker van ’n trofeedier volgens die korrekte tegnieke, sonder skade aan die vel, af te slag.

Leermeester: Josef Rapala was so ’n gids en nog meer. Hierdie Tswana het as jong man op die plaas Dikgakeng in die Ellisrasdistrik begin werk. Byna 30 jaar later is hy oorlede binne maande nadat lewerkanker by hom gediagnoseer is. Met ons familiejag op Dikgakeng in Junie 2009, het ek en my twee skoonseuns die voorreg gehad om die laaste keer saam met hom te jag. Hy was duidelik reeds baie siek, maar met ’n ysere wil het hy steeds alles probeer doen om sy plek vol te staan as plaasbestuurder en hoofgids. Ons was voorberei daarop deur die plaaseienaar, maar dit was steeds traumaties om die aangename en geliefde persoon te sien wegkwyn. Hy is kort na ons jag oorlede. ’n Beter gids en mentor sou ek nie self kon kies vir die twee seuns nie, wat in 2008 elk hul eerste bok kon skiet met hom as gids en leermeester.

Die skrywer Andre vd Merwe en bobaas jaggids Josef Rapala (2009) – Joseph is kort daarna oorlede

Jagters is dikwels geneig om die gids as vanselfsprekend te aanvaar. Na my mening is die jaggids, vir die deursnee jagter wat een of twee keer per jaar in die veld (veral Bosveld) kom, die eintlike jagter. Al die eienskappe van ’n goed opgeleide jaggids hierbo genoem, maak dit uiteindelik moontlik vir die jagter “om die sneller te trek” op ’n suksesvolle jag.

Baie jagters het dikwels van hul vaardighede by jaggidse geleer. Met elke nuwe jaggids wat ons ontmoet, evalueer ons hom waarskynlik gedurende die jag. Soms is ons teleurgesteld. Dikwels is ons aangenaam verras as ons besef hoe kundig die mense is en met hoeveel toewyding en erns hulle hul werk benader. Met die regte ingesteldheid kan jagters baie leer by die jaggidse wat hulle oor die jare op jagpaaie lei. Ek weet hoe my kennis verbreed het gedurende die drie winters wat ek bevoorreg was om saam met Josef te jag.

Josef het nie net met jou gesels nie. Met sy fyn humorsin en goeie kommunikasie-vaardighede kon hy waarde toevoeg tot alles wat julle in die veld teëkom: soms deur net te wys na ’n vars spoor of mis, ander kere deur dit eenvoudig maar effektief te verduidelik soos nodig. Ek onthou hoe ons met Mark, my seun se eerste jag, die oggend vroeg in die bos was. Josef was voor, Mark agter hom en ek heelagter. Ons het voetjie-vir-voetjie teen die wind in beweeg en baie mooi rondgekyk of ons Mark se eerste rooibok onder skoot kan kry. Na ’n ruk het ons die lyndraad van die kamp voor ons gesien. Josef het van rigting verander en onmiddellik het sy versigtige voetjie vir voetjie pas verander na ’n vinniger stappas met geen poging om stil te beweeg nie. Aan sy lyftaal was dit dadelik duidelik dat hy nie meer “jag” nie. Mark het omgekyk na my met ’n duidelike vraagteken op sy gesig en ek het besef dat hy wil weet wat nou gebeur het. Ek het vir Josef gestop en gevra om vir Mark te verduidelik wat nou gebeur. Op sy beskrywende manier het hy aan Mark verduidelik dat ons nie nou wild sal kry nie aangesien ons nou ná die rigting-verandering, saam met die wind stap. Hy was op pad na ’n plek in die kamp waar ons van rigting sou verander om weer “met die wind in ons gesig te jag”. Op die manier benut ons die wind reg, die diere kan ons nie ruik nie en ons kans is beter om hulle te verras. Hierdie was een jagles wat Mark in ʼn kort tyd by Joseph geleer het en wat hy waarskynlik nooit sal vergeet nie.

Leerling: In 2018 het ek alleen vir ʼn week lank op ʼn plaas in die Noord-Kaap gejag. Ek het reeds die vorige drie jaar op hierdie plaas gejag en het dit baie goed geken. Die vorige drie geleenthede was dit altyd ek en ʼn vriend wat saam gejag het. Die plaas is onbewoon, maar die boer besoek die plaas twee of drie keer per week om na die skape se water en aanvullende voer om te sien en seker te maak dat alles in orde is. Ek is dus alleen op die plaas, bevoorreg om alles op my eie te doen en veral om op my eie te jag – ʼn voorreg wat gekoester word. Aangesien ek dié jag alleen beplan het, het ek die boer gevra vir een helper. Ek het dikwels in die Karoo alleen gejag, maar dan het ek springbokke en blesbokke geskiet wat ek alleen kon herwin. Met koedoes het ek hulp nodig gehad. Vir hierdie jag het ek toe ʼn plaaswerker gekry wat nog nooit gejag het nie. Só ontmoet ek vir David, ‘n Shona van Zimbabwe. Hy was lank en skraal, maar sterk en sy Engels was maar effentjies. Dit het ʼn dag of twee geneem voor ons mekaar behoorlik begin verstaan het. Indien in ag geneem word dat ek nie Shona kan praat nie, was David meer veelsydig as ek!

Die plaas bestaan uit klipperige ranteveld met rooi Kalaharisand en twee groot berge op die oos- en wesgrense van die plaas. Met ʼn 4×4-voertuig kan jy op baie van die plekke kom, maar dikwels is die enigste opsie om ʼn karkas uit te sleep tot by die bakkie en dit verg twee mense. David se doel was om te help met die herwinning, laai en skoonmaak van die koedoekarkasse by die slagplek (m.a.w. die werk wat ten minste twee persone geverg het). Daarvandaan is dit na die besproeiingsgrond van die boer 50 km verder vervoer en in die koelkamer gebêre. Ek het binne die eerste twee dae agtergekom dat ek ʼn juweel gekry het. David was ʼn stil en aangename persoon, hardwerkend, intelligent en het die jag verskriklik geniet!

Hierdie was vir my ʼn nuwe, maar baie aangename ervaring: Aan die einde van die tweede dag het ek besef dat ek besig was om David te leer jag (hy was duidelik gretig om te leer). Met die eerste koedoe wys ek vir David in die veld hoe om die keel af te sny en dier te laat uitbloei en verduidelik hoekom dit belangrik is om dit so gou as moontlik te doen. Ek kloof die pens oop en laat hom die ingewande uithaal terwyl ek verduidelik hoe hy dit moet doen. Hy het die taak gou-gou netjies verrig. Toe ons die karkas laai, het ek besef hoe sterk hierdie man met sy skraal liggaamsbou is.

Terug by die plaashuis begin ek stap-vir- stap vir David wys hoe om die karkas skoon te maak en te versorg. Met die koedoekarkas aanvanklik op die betonvloer wys ek vir David hoe om die pote in die lit af te sny, en die anus van buite af los te sny en so ver soos die mes kan bykom rondom die dikderm aan die binnekant. Ons sny twee gleuwe in die agterbene tussen die been en groot senings en hys karkas op. Met die boude van die karkas op gesigshoogte trek ek die anus en dikderm van binne af uit na onder en sny dit verder los tot dit in een geheel uitkom. Ek kloof die vel oor die bors oop en saag die koedoe se borsholte oop. Terwyl David die twee ribbes van mekaar trek, sny ek die skoon binnegoed (hart, longe ens.) los en stroop dit saam met die gorrel uit na onder en plaas dit in die halwe drom wat ons daarvoor gebruik. Ons was die binnekant van die koedoe behoorlik uit met die tuinslang om te verseker dat daar geen bloed aan die binnekant oorbly nie. Terwyl die karkas met vel aan hang en afdroog, begin David om die slagplek met water en ʼn besem uit te was. Na die eerste koedoe was dit nooit nodig om vir David iets ʼn tweede keer te verduidelik of te wys nie. Dit is telkens foutloos gedoen. Elke aand is die jagbakkie, slagplek en slaggereedskap silwerskoon gewas en die karkasse netjies versorg voor ons uitgespan het vir die dag.

Vir die res van daardie week jag ek en David saam en ek wys hom hoe om die wind van voor te gebruik wanneer ons stap en wild soek en waar moontlik met die son op sy rug. ʼn Koedoe verdwyn oor ʼn berg na ʼn skoot en ons moet spoorsny. Gou-gou wys David dat hy ʼn natuurlike oog het om die bloedspoor teen die klipperige hang te volg en ons kry die koedoe waar dit dood onder ʼn klein boompie lê. ʼn Paar dae later stap ons stil-stil in ʼn plaat driedoringbosse teen die sanderige hang van ʼn rant uit. Teen hierdie tyd het ek genoeg vertroue in David se natuurlike wakker persoonlikheid en uitstekende sig. Ek laat hom voor stap. Daar is heelwat vars koedoespore in die sagte sand en ek stop David en verduidelik met ʼn fluisterstem dat ons moet uitkyk vir die horingpunte of ore van koedoes bokant die bosse wat gemiddeld ongeveer 2 m hoog groei. Die driedoringbosse groei redelik dig naby mekaar en sig is op die meeste plekke beperk tot sowat 15 tot 20m. Ek verduidelik aan hom indien ons byvoorbeeld d.m.v. horingpunte bokant die bosse ʼn bul eerste sien gaan dit baie help om ʼn skoot op baie kort afstand moontlik maak.

Ons stap stadig verder en ek kan aan David se lyftaal sien hy het nuwe moed na ʼn stil oggend wat ons geen koedoes gesien het nie. Stap, stop en soek is my gunsteling manier van jag wat elke sintuig inspan. Binne ʼn paar minute na my fluistergesprek met David sien ek ongeveer 25 m voor ons die son blink op die bewegende horingpunte van ‘n koedoebul.  Ek tik David op die skouer met my lang skietstok in my linkerhand en wys vir hom om doodstil te bly staan agter die bos. Die wind waai na ons toe en ek weet die koedoe kan ons nie ruik nie. In die sagte sand maak ons geen geluid nie en die bul het ons ook nog nie gesien nie – ʼn perfekte geleentheid! Ek beweeg ʼn paar tree vorentoe en gaan staan en wag skuins voor David met my geweer in posisie oor die skietstok, patroon in die kamer, die grendel gesluit en hou die koedoe dop soos hy stadig in ons rigting aanstap. Kort-kort stop hy en wei aan die groen blare van driedoringbosse. Uiteindelik stap hy skuins voor ons deur ʼn oop kol tussen die bosse. Ek fluit, hy gaan staan en kyk in my rigting. Ek mik en skiet op ongeveer 15 m na sy blad vir ʼn hart/longskoot. Die bul maak ʼn 90 grade draai en hardloop voor ons verby en slaan 30m verder neer. David draai om en kyk na my met groot oë terwyl hy sy kop skud oor wat pas gebeur het. Dit sal moeilik wees om hierdie voorbeeld van die teorie en die praktiese toepassing van ʼn jagles en die tydsverloop tussen-in beter te beplan.

Teen die einde van die week besef ek dat David ʼn aanleg het en waarskynlik met opleiding ʼn uiters bekwame jaggids kan word. Hy is egter baie ver van sy huis af in Zimbabwe. Gedurende ons gesprekke kan ek hoor dat hy sy mense mis en ʼn jaar later is hy permanent terug na sy familie toe. Ek kyk graag terug na daardie jag saam met ʼn jong man wat een van die beste jaggidse is wat ek ooit gehad het – nie oor sy bestaande kennis en vaardighede nie – maar oor alles wat hy bereid was om te leer, dit elke keer eerste keer foutloos toe te pas en die ywer waarmee hy alles gedoen het. David het vir my hierdie besondere jag moontlik gemaak en wanneer ek dink aan jagtrofee, sal hierdie een altyd spesiaal wees! Ek is net spyt dat ek David waarskynlik nooit weer sal sien nie en daarom sal ons ook nooit weer saam jag nie.

Daar is verskeie klein blyke van waardering wat die jagter aan ’n jaggids kan gee en wat ’n groot verskil in só ʼn gids se lewe kan maak, bv. ’n pakkie van sy gunsteling tabak en ’n foto van die vorige jaar se jag waar hy saam met die jagter op die foto verskyn. Dit is die jagter se keuse of en hoe groot die fooi is wat hy aan die jaggids wil gee, maar dit is ʼn belangrike aanduiding van die jagter se tevredenheid vir die gids se diens. ’n Bedrag wat vir die jagter kleingeld mag wees, sal ’n beduidende beloning vir die jaggids wees. Die fooi – of die grootte van die fooi – moet ook nie beïnvloed word deur faktore buite die beheer van die gids nie. Gebruik eerder die gesindheid en toewyding van die jaggids gedurende die jag – selfs wanneer dinge skeef loop – as maatstaf van jou tevredenheid met sy insette.

Betoon jou waardering teenoor jaggidse vir hul toegewyde bydrae om jou jag suksesvol en aangenaam te maak, by hulle te leer en hulle soms te leer indien nodig. Wys my die persoon wat opreg waardeer word, wat nie volgende keer probeer om beter te doen nie! Mooi loop Josef en David! Mag die veld mooi en die bokke vet wees daar waar julle nou is!

Oor die skrywer

André van der Merwe is ‘n benuttingsjagter wie se passie vir jag oor meer as 60 jaar strek. Die afgelope drie dekades het hy aktief deelgeneem aan jaggeweer- en veldskietkompetisies. André het in 2006 by SA Jagters begin werk as bestuurder Tak- en Skietsake en bied ondersteuning aan die takbesture van die vereniging se 83 takke. As sekretaris van die skietkomitee koördineer hy SA Jagters se skietaktiwiteite op tak-, streek- en nasionale vlak en bevorder deurlopend die groei en sukses van die skietsport. Sy passie vir mentorskap van die volgende geslag vuurwapeneienaars, skuts, jagters en bewaarders van ons natuur- en kultuurerfenis is verweef in sy nalatenskap. Lees André se biografie hier.

Search

Share This Article

More Articles

error: Content is protected !!