Deur Phillip Marais
Die 2024 SA Jagters Nasionale Intertak-spanskietkampioenskap en die Nasionale Presidentskiet kampioenskap (individueel) is onderskeidelik op 16 en 17 Augustus op die CMH-skietbaan naby Vereeniging gehou.
Baviaanspoort-tak se Buffelspan het die spanskietkompetisie gewen.
Hierdie was ʼn besondere geleentheid waar pa en dogter in dieselfde span kon skiet. Dit was ook die enigste span wat in 2024 die Wildehonde-toekenning verdien het met ʼn telling van 2 600.48 2880.96 (90.28%).
Baviaanspoort-tak se Buffelspan bestaan uit gedugte skuts wat vir die afgelope vyf jaar onder die top 5 in hierdie kompetisie geëindig het.
2019 | 2020 | 2021 | 2022 | 2023 | 2024 |
5de | Geen kompetisie a.g.v. pandemie | 4de | 5de | 2de | 1ste |
Vian van der Merwe is sedert 14 Junie 2018 ʼn lid van SA Jagter. Hy het in 2024 vir die eerste keer aan die Nasionale Intertak- en Nasionale Presidentskietkompetisies deelgeneem en die volgende prestasies behaal:
- lid van die wenspan wat ook die Wildehonde-toekenning ontvang het;
- eindig onder die Top 20 by die individuele nasionale Presidentskietkompetisie, (17de plek); en
- behaal die Platinum-toekenning met ʼn telling van 670.09/720.24 (93.1%).
Jan Taljaard is sedert 11 September 1998 ʼn lid van SA Jagters. Hy is alombekend in skietgeledere en het in sy skietloopbaan té veel prestasies behaal om hier op te noem. By die individuele nasionale Presidentskietkompetisie, eindig hy in die top 20 (19de plek) en behaal die Platinum-toekenning met ʼn telling van 660.14/720.24,(91.7%).
Diandri Taljaard is sedert 6 Februarie 2013 ʼn SAJWV-lid. Diandri het as junior skut vele prestasies behaal en was die afgelope drie lid van ons Buffelspan. In die individuele nasionale Presidentskietkompetisie, eindig sy in die derde in die Damesklas en ontvang die Platinum-toekenning met ʼn telling van 640.12/720.24, (88.9%).
Deon de Villiers is sedert 1 September 1999 ʼn lid van SA Jagters. Net soos Jan, is Deon ook alombekend in skietgeledere met vele skietprestasies op sy kerfstok.
Ons tak se Olifante-span het ʼn negende plek behaal onder die top 10 spanne.
Die Luiperdspan het tydens deelname aan die Nasionale Spanskietkompetisie hul posisie op die ranglys verbeter.
Ses van die agt skuts van Baviaanspoort-tak wat vir die Nasionale Presidentskiet gekwalifiseer het, het Platinum-toekennings op nasionale vlak behaal. Hulle is: Vian van der Merwe, Willie Cloete, Jan Taljaard, Riaan Bronkhorst, Diandri Taljaard en Philip Marais.
Ons tak is voorwaar trots op ons skuts. Baie geluk aan julle almal met jul puik prestasies!