Vroueskuts kan solank voorberei vir die Marico Bosveld-tak se Vrouedag skietbyeenkoms wat op 9 Augustus 2024 by die Derby-skietbaan sal plaasvind. Die geleentheid word geborg deur René van Niekerk.
Dit is die derde jaar wat die tak hierdie skietdag op Vrouedag aanbied nadat daar in 2022 ʼn behoefte geïdentifiseer is vir ’n skietdag waar vroueskuts in ʼn ontspanne atmosfeer (sonder druk van hulle lewensmaats) en met die hulp van ervare skuts met drie soorte vuurwapens kan skiet.
Deelname is oop vir vroueskuts van alle ouderdomme en skietvaardighede. Die tak sal vuurwapens beskikbaar stel vir diegene wat nie hulle eie vuurwapens het nie. ʼn Opgeleide vroue-baanoffisier sal onervare skuts bystaan en raad gee. Ander gewillige en ervare skuts sal ook teenwoordig wees om te help. Daar is talle voorbeelde van beginnerskuts wat met die regte ondersteuning en leiding, soms beter as bedrewe skuts vaar.
Volgens Rene van Niekerk, word baie moeite gedoen om hierdie skietdag vir vroue op 9 Augustus ʼn spesiale geleentheid te maak. Elke skut wat inskryf, sal ʼn geskenk ontvang, terwyl skuts wat eerste, tweede en derde plekke in die junior en senior kategorieë verower, ook pryse sal ontvang. “Niemand verlaat die baan met leë hande nie.”
Deur die loop van die dag, hou ons deelnemers fyn dop en kies wenners vir pretkompetisies soos die bes-geklede skut, grootste hoed, unieke tekkies, ens. Die oudste en jongste deelnemers kry ook spesiale pryse. Die oudste skut wat al aan hierdie byeenkoms deelgeneem het, was 82 jaar oud.
By registrasie op die skietbaan, word deelnemers verwelkom met stomende Cappuccino om die dag mee te begin. Sop en sjerrie sal na afloop van die skietdag bedien word om die koue Augustus-lug te verdryf.
Jagterslede wat deelneem se besonderhede sal op die aanlyn administrasiestelsel ingevoer word. Deelname aan dié skietdag kwalifiseer as ʼn geldige aktiwiteit vir die handhawing van toegewyde status. Deelnemers se lewensmaats kan na afloop van die hoofprogram ook aan ʼn pretskiet deelneem.
SA Jagters nooi veral nie-lede uit om in te skryf en deel te neem aan die Vrouedag skietbyeenkoms. Hulle sal meer kan uitvind oor die voordele wat lede van SA Jagters geniet en dalk ook aansluit. Wanneer die skietgogga eers gebyt het, is daar geen keer nie. Dit is glad nie ongewoon vir eerste keer skuts om ná sulke geleenthede hulle eie vuurwapens aan te skaf om gereeld aan tak-skietdae en kompetisies deel te neem nie.
Elke jaar se byeenkoms het ʼn tema om die gees van Vrouedag te vier. In 2022 was die tema ballonne. Van die teikens was ballonne gevul met poeierverf met skouspelagtige gevolge wanneer die ballon bars.
In 2023 was die tema blomme. Die teikens en die baan was met papierblomme versier. Deelnemers het die blom-tema ter harte geneem met blombontuitrustings en blomme in hulle hare, skoene en hoede.
Vanjaar se tema is Colour Splash. Deelnemers sal wit t-hemde aantrek wat hulle met kleurvolle poeierverf sal versier. Verfbomme en bottels vol poeierverf sal die dag ophelder. Dit sal beslis ʼn kleurvolle dag vol pret en plesier te wees.
Teken nou hierdie datum aan: 9 Augustus 2024 – Marico Bosvbeld-tak se Vrouedag skietdag!