Die Vrystaat Sandveld-tak by Soutpan tussen Bultfontein en Bloemfontein in die Vrystaat bied ʼn baie gewilde pretskietgeleentheid met lug- en randslaggewere aan vir alle ouderdomsgroepe. Een van die eienskappe van die pretskiet is dat dit nie op papierteikens geskiet word nie. Die fokus is op ʼn wye verskeidenheid reaktiewe teikens. Ongeveer 130 skuts het die 22 kaliber skietdag in 2019 bygewoon – merkwaardig vir hierdie plattelandse tak met ongeveer 300 lede.







Op so ʼn skietdag loop die spanning hoog en daar word met smaak vertel hoe ervare skuts sukkel om ʼn 22 geweer se magasyn vinnig genoeg te laai om voort te gaan met ʼn man-vs-man oefening soos met die gholfballe of die Flipping Jack. Skuts moet vinnig skiet en raak skiet. Dit is hier waar magasyne soms onder groot druk herlaai word en patrone selfs op die grond beland. Beslis groot pret!