Dias-tak, een van ons jongste takke, het groot planne vir bewaring in die Boknes- en Cannon-Rocks-omgewing aan die Oos-Kaapse kusgebied. Tydens ‘n besoek van die bewaringsbestuurder, Lizanne Nel, is daar lekker gesels oor potensiële bewaringsinisiatiewe terwyl gebiede vir potensiële projekte besoek is. Opsies wat oorweeg word, sluit in bewusmaking en bestryding van die verklaarde indringerplant, Lantana. Wetgewing verplig grondeienaars om lantana te verwyder omdat dit uiters giftig vir mense en diere is. Lede van Dias-tak fokus reeds daarop om waarnemings van die skaars swart tobies wat aan die kus voorkom op die Sightings App in te lees. Uilkaste vir nonnetjies- en ooruile is opgerig en lede help ook om seelewe te red wat op die strand uitspoel.
Springbok-tak het meer as eenhonderd vroue onthaal tydens ʼn gesellige oggendtee ten bate van die bewaring van uile as deel van Projek Grootoog. Die gasspreker was die bekende aktrise Lizz Meiring, terwyl Lionel Smit die gaste meer vertel het oor Projek Grootoog.
Mopani-tak het naas die strikke wat hul verwyder het as deel van Snare Busters, ook ʼn bewaringsaand aangebied met dr. Bart Gazendam van Wildscapes Veterinary Services as gasspreker. Hy het ‘n insiggewende aanbieding gelewer oor die rasionaal en proses om renosters te onthoring in ‘n poging om die diere teen stropers te beskerm.
Centurion-tak het die bekende Johan Marais van die African Snakebite Institute as gasspreker genooi om oor slange en slangbyte te gesels. By Kwagga-tak se bewaringsaand het die bestuurder bewaring, Lizanne Nel gepraat oor die noodsaaklike rol wat verantwoordelike jagters in bewaring kan speel.
Baie dankie aan al ons lede wat deelneem aan die nasionale jagluiperdopname saam met die Cheetah Trust, Ashia en Stellenbosch Universiteit. Tot dusver toon die data dat jakkalse, rooikatte en luiperds die drie spesies is wat verantwoordelik is vir die meeste konflik tussen grondeienaars en roofdiere. Jagluiperds is sesde op die lys ná bruin en gevlekte hiënas. Wild maak 93% uit van die voedselvoorkeur van jagluiperds.