SA Jagters het onlangs aan die Wildlife Economy Conference in Maputo, Mosambiek deelgeneem waar regeringsamptenare, ontwikkelingsvennote en internasionale bewaringsdeskundiges die rol van die bewaring in nasionale ontwikkeling onder die loep geneem het. Die twee-dag kongres is aangebied deur die National Administration of Conservation Areas (ANAC), die vereniging vir Safari-operateurs in Mosambiek (Association of Safari Operators of Mozambique – AMOS), en Biofund.
SA Jagters se bewaringsbestuurder, Lizanne Nel, is spesifiek uitgenooi om oor Suid-Afrika se suksesvolle wildlewe-ekonomie te praat. Sy het inligting gedeel oor die aard en omvang van die wildlewe-ekonomie, verskillende modelle wat dit moontlik gemaak het, en statistieke oor die impak op die ekonomie en bewaring.
Bemagtigende wetgewing, eienaarskap- of hulpbronbenuttingsregte, ’n vryemarkekonomie en doeltreffende gemeenskapsbestuurstrukture is as kritieke dryfvere beklemtoon. Lizanne het verder gepleit vir die belangrike rol wat goed gereguleerde plaaslike jag in bewaring, voedselsekerheid en landelike ontwikkeling kan speel.
Die primêre temas van die kongres was die bevordering van wildlewe-aktiwiteite wat jong landsburgers se belangstelling sal prikkel; herevaluering van bewaringsgebiede wat moderne omstandighede en die bydrae tot die plaaslike ekonomie weerspieël; tasbare ekonomiese voordele vir plaaslike gemeenskappe; en die rol van gereguleerde jag as aansporing vir sosio-ekonomiese transformasie en voedselsekerheid.