Die Departement van Bosbou, Visserye en die Omgewing (DBVO) opdateer tans Suid-Afrika se Nasionale Biodiversiteitstrategie en Aksieplan (NBSAP). Hierdie dokument bepaal die rigting vir bewaring, grondgebruik en wildbestuur vir die volgende dekade.
Besprekings het onder meer die volgende ingesluit:
- Herstel van ekosisteme
- Verbetering van ekologiese infrastruktuur
- Die balansering van volhoubare hulpbronbenutting
- Verbetering van mens-wildlewe saambestaan
- Volhoubare finansiering
Ons bewaringsbestuurder, Lizanne Nel, het aktief aan die proses deelgeneem om te verseker dat die volgende aspekte in die plan vervat word:
- betekenisvolle benaderings tot biodiversiteitsbewaring
- erkenning van die rol van die private sektor in biodiversiteitsbewaring, ekonomiese ontwikkeling en voedselsekerheid
- erkenning van die rol van die wildbedryf as ’n volhoubare finansieringsmeganisme vir bewaring en die bereiking van die doelwitte van die NBSAP, insluitend klimaatsveerkragtigheid
- beleid geskoei op wetenskap en ekonomiese realiteit om die toekoms van verantwoordelike jag te verseker
Die volgende belangrike aspekte is uitgelig:
Die wildsvleisrevolusie: Die regering wil die wildsvleisbedryf vinnig uitbrei om werksgeleenthede op die platteland te skep en gesonde proteïen te voorsien. Wetgewing, spesifiek die Wet op Vleisveiligheid (Wet 40 van 2000) en die regulasies, maak dit baie moeilik om vleis wettig by gewone slaghuise te verwerk en om vleis te verkoop wat in die veld geoes is. SA Jagters werk aktief daaraan om ’n betekenisvolle wetgewende raamwerk te help vestig.
Jag en die wildbedryf verskaf volhoubare finansiering vir bewaring: Die konsepplan vir ʼn nasionale biodiversiteitstrategie (NBSAP) steun grootliks op internasionale skenkers, staatsubsidies en geld van nie-regeringsorganisasies om bewaring te finansier. Dit ignoreer grotendeels die multi-miljardrand-waarde van die wild- en jagbedryf. Die grootste biodiversiteit kom egter buite beskermde gebiede voor waar die wildbedryf en plaaslike gemeenskappe dit bewaar. Hierdie bewaarders gebruik hul eie fondse om habitatte te rehabiliteer, indringerplante te beheer, erosie te bekamp en spesies te bewaar, soos die projek vir volhoubare wildlewe-ekonomie aandui. Gereguleerde jag dra jaarliks R44 miljard tot die ekonomie by, hoofsaaklik gedryf deur plaaslike jagters wat betaal om vrylopende proteïen op hierdie wildgebiede te jag en ’n volhoubare bron van inkomste vir hierdie gebiede verseker. SA Jagters het duidelik die boodskap oorgedra dat wettige, gereguleerde en volhoubare benuttingsaktiwiteite, soos jag, Suid-Afrika se biodiversiteitsdoelwitte aktief finansier en erkenning verdien in die NBSAP.
Ekosisteembewaring en klimaatsveerkragtigheid: Die wêreldwye teiken is dat alle lande teen 2030, 30% van hul grondgebied moet beskerm (die “30 teen 30”-teiken). Private wildplase en jaggebiede verseker dat groot landskappe met wild nie fragmenteer nie en koolstof behou, wateropvangsgebiede beskerm en wildhabitatte beveilig. Ons beywer ons vir die erkenning van hierdie gebiede, waar ons lede vrywillig kan deelneem volgens die benadering van die OECM (Other Effective Area-Based Conservation Measures). Dit dien as amptelike erkenning aan lede se bydraes tot klimaatsverandering en bewaring van ons ekosisteem.
SA Jagters sal voortgaan om ’n samelewingbenadering tot biodiversiteitsbewaring te bevorder. Ons lede en SA Jagters is nie bloot belang-hebbendes nie; ons is sleutel-vennote in die beskerming van ons biodiversiteitserfenis vir die nageslag.