Verskeie takke van SA Jagters het in Mahikeng vergader om samewerking te bevorder vir die bewaring van aasvoëls as deel van die vereniging se aasvoëlerfenisprogram. Hierdie bewaringsinisiatief is daarop gemik om Suid-Afrika se krimpende aasvoëlbevolking te beskerm deur habitatverlies, voedselsekerheid en vergiftiging aan te spreek.
Die Tembo-tak borg opsporingstoestelle om die voëls na te spoor wat Vulpro by rehabilitasiefasiliteite vrylaat. Ongelukkig het ʼn aasvoël met ʼn geborgde toestel in ʼn botsing met oorhoofse kraglyne gevrek. Die data help bewaringsorganisasies om bedreigings te identifiseer sodat toepaslike bewaringsaksies geneem kan word. Kraglyne bly een van die grootste bedreigings vir aasvoëls.
Die De la Rey-tak in Mahikeng verskaf skoon karkasse vir soveel as 200 voëls by die aasvoëlrestaurant naby Lichtenburg. ʼn Permanente kamera op die perseel maak dit moontlik om die aasvoëls te monitor.
Die Kameeldoring-tak koördineer ʼn samewerkingsooreenkoms met Vulpro wat data oor swartaasvoëls insamel.
Ander takke en lede kan ook op die volgende maniere bydra tot die bewaring van die kritiek bedreigde aasvoëls:
Bewaring op grondvlak
- Bestuur voerplekke: Vestig, ondersteun en verskaf risiko vrye karkasse aan plaaslike aasvoëlrestaurante. ’n Riglyn is hier.
- Registreer veilige sones: Grondeienaars kan hulle plase registreer as aasvoël-erfenisterreine en onderneem om broeigebiede te beskerm en te verseker dat bestuur en jagaktiwiteite nie die voëls benadeel nie.
Jag en grondbestuur
- Verminder loodrisiko: Jagters jag verantwoordelik en laat geen karkasreste of afval met loodpartikels in die veld agter nie, of skakel oor na loodvrye ammunisie.
- Verbeter reaksietye: Rapporteer beseerde en vergiftigde voëls of gevalle waar voëls in kragdrade beseer is so gou moontlik om vinnige reddings- en rehabilitasiereaksie te verseker.
Data-insameling en tegnologie
- Teken waarnemings aan: Gebruik SA Jagters se Wildlife Sightings App om ligging van voëls, broeiaktiwiteite en sterftes aan te teken.
- Borg opsporingstoestelle: Sluit aan by inisiatiewe soos die van Tembo-tak om opsporingstoestelle vir die monitering van voëlbewegings te borg.
- Ondersteun plaaslike projekte: Neem deel aan spesifieke navorsing deur takke, soos die beplande projek van die Kameeldoring-tak om data oor swartaasvoëls in te samel.
Vir meer inligting oor hoe om betrokke te raak, doen navraag by die bewaringsbestuurder by lizanne@sahunt.co.za