Twee lede van SA Jagters het ʼn belangrike rol gespeel in die onlangse skuldigbevinding van twee misdadigers wat betrokke was by die onwettige smokkel van ’n ietermagog naby die Beitbrug-grens. Die suksesvolle vervolging is ’n belangrike oorwinning in die onwettige handel in wilde diere. Dit beklemtoon die welslae van samewerking tussen bewaringskenners en wetstoepassers.
Jan Krijt, takbestuurder van SA Jagters se Hardekool-tak en ’n staatsaanklaer, het die vervolging in die saak gelei. Francois Meyer, die tak se bewaringskoördineerder en ’n spesialis in die bewaring van ietermagogs het as deskundige getuig.
In November 2022 het die twee beskuldigdes Suid-Afrika onwettig binnegekom en gepoog om ’n lewende ietermagog en ’n olifanttand in die Musina-omgewing te verkoop. Owerhede het met behulp van inligting ’n gesamentlike operasie van stapel gestuur nadat die verdagtes met ’n potensiële koper kontak gemaak het. Hulle is agtergevolg en later by ’n strategiese padblokkade deur kaptein Willie Taute en sersant Gafane van die Musina-eenheid vir
veediefstal en bedreigde spesies (STES) onderskep, met die hulp van private individue. Die twee mans is in hegtenis geneem en die ietermagog is gered.
Die dier was egter in ’n kritieke toestand: ernstig uitgeteer en gedehidreer. Sy is onmiddellik na Hoedspruit Dierehospitaal geneem, waar dr. Debbie (English) Coetzee haar behandel het. Nadat sy gestabiliseer is, is die ietermagog, wat Maruti gedoop is, na die Umoya Khulula-wildrehabilitasiesentrum oorgeplaas, waar sy onder die sorg van Emma de Jager en ’n toegewyde span verder herstel het.
Na maande se toegewyde versorging het Maruti merkwaardig herstel. Francois Meyer wat haar herstel as deel van sy navorsing gemonitor het, het haar vrygelaat. Hy is medevoorsitter van die IUCN SSC Pangolin Specialist Group vir Suider-Afrika, en sy navorsing speel ’n sleutelrol in die ontwikkeling van protokols vir die rehabilitasie en monitering van ietermagogs wat uit onwettige handel gered is.
Hierdie saak is ʼn goeie voorbeeld van die sukses van samewerking tussen natuurbewaarders, wetstoepassers, veeartsenykundiges en die burgery met ’n gemeenskaplike belang. SA
Jagters bring hulde aan die SAPD, LEDET, die staatsaanklaer in Musina, die Limpopo Pangolin Collective, Hoedspruit Dierehospitaal, Umoya Khulula Wildrehabilitasiesentrum en alle individue wat by Maruti se redding en die suksesvolle vervolging van haar ontvoerders betrokke was.
Danksy hul toewyding loop Maruti weer vry rond in die natuur. Die oortreders is tot agt en ’n half jaar tronkstraf gevonnis.