SA Jagters het Vulpro se nuwe projek by Shamwari in die Oos-Kaap besoek om verdere samewerking tussen die vereniging en Vulpro te bespreek. Kerri Wolter van Vulpro se passie vir aasvoëls is inspirerend. Hul teelprojek met gerehabiliteerde Kaapse aasvoëls wat nie vrygelaat kan word nie, is ‘n groot sukses. Vulpro verwyder die eiers wat hierdie aasvoëls in die neste teen die kunsmatige kranse by die sentrum lê en vervang dit met fopeiers waarop die aasvoëls dan broei. Die regte eiers word geïnkubeer en sodra die kleintjies gebore word, word hul teruggeplaas in die neste sodat die ouers hulle grootmaak. Wanneer die jong voëls groot en sterk genoeg is, word hul vrygelaat.
Beide SA Jagters en Vulpro is lede van die nasionale loodtaakspan wat die risiko van loodvergiftiging in natuurlewe wil verminder. Aasvoëls is ’n bedreigde spesie en uiters sensitief vir lood. Verskeie aasvoëlpopulasies in die land toon hoë bloedloodvlakke wat hul oorlewing beïnvloed. In ons strewe na volhoubare bewaring en verantwoordelike benutting, het die vereniging reeds verskeie inisiatiewe van stapel gestuur wat spesifiek op aasvoëlbewaring fokus. Bewusmaking word deurlopend gedoen onder lede en ander grondeienaars, jagters en natuurbestuurders oor hoe om ’n bydra te maak:
Lees alle waarnemings van aasvoëls in op die SA Jagters App se Sightings waar die data bydra by tot verskeie bewaringsinisiatiewe.
- Meld onmiddellik enige waarnemings van beseerde, vergiftigde of dooie aasvoël aan by die bestuurder bewaring of by Vulpro.
- Jagters wat loodammunisie gebruik, moenie die reste van diere wat geskiet is in die veld agterlaat of dit aan aasvoëlrestaurant skenk nie. Dit vergiftig nie net aasvoëls nie, maar ook ander aasdiere en bedreigde spesies soos bromvoëls.
- Waar moontlik, skakel oor na loodvrye ammunisie. Lees meer op die webwerf of kontak Lizanne of Boetie by Inyathipark vir meer inligting by Lizanne@sahunt.co.za of Boetiek@sahunt.co.za
- Skenk veilige karkaste aan aasvoëlrehabilitasieprojekte soos die een van Vulpro by Shamwari.
- Indien daar kraglyne of windturbines op jou grond is of opgerig gaan word, maak seker dat die risiko’s wat dit vir aasvoëls inhou, aangespreek word.
- Help met die bewusmaking oor die bewaring van aasvoëls.
Kliek om te vergroot