SA Jagters se regstappe teen die regering rakende gebrekkige betekenisvolle openbare konsultasie oor die insluiting van die onpraktiese definisie vir “animal wellbeing” in bewaringswetgewing, moet nie verwar word met die belangrikheid wat SA Jagters op dierewelsyn plaas nie. In ʼn onlangse artikel in Daily Maverick is daar verwys na die vereniging se hofsaak teen die parlement in dié verband.
SA Jagters en verantwoordelike jagters gee baie om vir die welsyn van diere, net soos miljoene Suid-Afrikaners wat vrylopende lam, bees of hoender eet. SA Jagters het sterk standpunt ingeneem teen praktyke wat as onverantwoordelik beskou word. Behalwe dat ons jagterskode respek vir diere vereis, help die vereniging ook met hulp aan beseerde diere deur bydraes aan dierewelsynsorganisasies en inisiatiewe soos die Snare Busters-projek wat honderde diere uit strikke red. Die vereniging voel baie sterk oor die welsyn van wilde diere en het ook die Departement van Landbou hof toe geneem toe hulle wilde diere by ʼn lys gevoeg het wat sou toelaat dat hulle intensief gemanipuleer sou kon word ingevolge die diereverbeteringswet.
Ons almal het ʼn verantwoordelikheid om ons natuurerfenis te bewaar in al die aktiwiteite waarby ons betrokke is, insluitende jag. Die welsyn van diere is ʼn prioriteit.