John Power (Bewarings Koördineerder General De La Rey-tak)
Lizanne Nel (Bewaringsbestuurder)
2 Februarie 2024
Op 31 Januarie 2024, het SA Jagters se tak in Lichtenburg, die Generaal De La Re-tak, gehelp om ʼn otter te red wat in residensiële eiendom op die buitewyke van Lichtenburg, Noordwes, beland het. Die otter was in die erf vasgekeer en het selfs die huis binne gegaan wat uiteraard groot chaos veroorsaak het. Die otter het selfs gehap na die eienaar se Yorkshire terriër wat maar net sy huis wou beskerm. ʼn Plaaslike veearts is uitgeroep en die provinsie se natuurbewaringsowerheid is dadelik in kennis gestel. Die otter was waarskynlik op pad om ʼn gerieflike wegneemete uit die Khoi dam te vang.
Soos gebruiklik in Noordwes, het personeel van die provinsiale bewaringsowerheid uitgekom om die dier te vang en van die perseel te verwyder. Danksy die goeie samewerking tussen die owerheid en SA Jagters en die Wildbewaringsverenging, het die Gen. de la Rey-tak se span vinnig ʼn geskikte krat gemaak om die otter na veiligheid te vervoer.
Die otter is geïdentifiseer as ‘n Groototter wat waarskynlik in die Hartsrivier sowat 500 m van die dorp af is. Dié otters is geneig om verder van hulle watertuistes af te dwaal. Soos die meeste karnivore, is hulle territoriaal. Hierdie outjie was ʼn subvolwasse diertjie wie se wanderlust hom die pad laat vat het om dalk sy eie gebied af te baken. Behalwe vir die Groototter, is dit net daar net een ander spesie wat in Suid-Afrika voorkom, nl., die Kleinotter.
Die provinsiale bewaringsowerheid het besluit om die otter verder weg te skuif in ‘n poging om hierdie natuurlike verspreidingsgedrag te simuleer. As dit ‘n ouer volwasse dier was, sou hul hom bloot na die naaste geskikte habitat geneem het. ʼn Soortgelyke insident het ʼn week vantevore ook in Klerksdorp gebeur. In daardie geval het die otter al die huiseienaar se vis gevang. Gelukkig vir die eienaar in Lichtenburg, was die otter se jagtog nie suksesvol nie, maar was daar egter meer skade aan die huis aangerig.
Otters kan in sommige gevalle problematies wees, en dit is gewoonlik landelike plaasopstalle wat kwesbaar is vir predasie, nie net van vis nie, maar soms ook van pluimvee, veral eende. Dit is selde dat hulle dorpsgebiede besoek, maar indien dit wel gebeur, word huisbewoners aangeraai om die betrokke owerhede of bewaringsorganisasies so gou moontlik in te lig.
Alhoewel otters nie dikwels gesien word nie versoek ons lede om enige waarnemings van hierdie fassinerende spesie op die Sightings App in te lees. Dié spesies word tans op die App gevoeg.
Bewaringstatus
Bedreigings
Die vernaamste bedreiging vir die Groot- en Kleinotter oor hul totale verspreidingsgebied is die agteruitgang van varswater-ekosisteme. In Suid-Afrika word 84% van die rivier-ekosisteme bedreig, insluitend 54% wat krities bedreig is, 18% wat bedreig is en 12% wat kwesbaar is. Die situasie word vererger deur die verlies aan habitat as gevolg van verhoogde landbou-aktiwiteit en verhoogde versteuring van otters as gevolg van uitbreiding van menslike nedersettings.