Thomas Bredenkamp, die stigter en eienaar van Promark wat veral bekend is vir die Stevenson Hamilton-klerereeks, is op 15 Februarie op die ouderdom van 72 oorlede. Oom Thomas het altyd na homself as ’n lappiesmous verwys, maar hy het baie diep spore in die jag-, wildbewaring- en landboubedrywe getrap.
Oom Thomas se hand was altyd oop om te gee en te help waar hy kan. Sy kamoefleerpatroon word nou nog deur SANParke gebruik. Hy borg ook al vir jare die prys vir SA JAGTER/HUNTER-tydskrif se Bokspog-wenner en heelparty ander pryse.
Hy het ʼn groot verskeidenheid produkte van goeie gehalte verkoop, maar sy leerhoede en kamoefleerpatroon was sy trots. Met meer as 11 verskillende diere- en diervelpatrone wat goed uitgelê is, is dit ’n unieke patroon gepas vir die Suid-Afrikaanse omgewing – regtig iets om op trots te wees. Oom Thomas het daarna gestreef om hoëgehalte-produkte te lewer wat trots Suid-Afrikaans vervaardig is, met die fokus op ons liefde vir die natuur, diere, jag, buitelewe en landbou.
Thomas Bredenkamp was baie meer as net ’n lappiesmous en sal onvoorwaardelik gemis word. As jy van sy produkte besit, dra dit met trots en weet dit kom van ’n man af wat lief was vir ons bedryf, ons natuur, ons wilde diere en die plaaslewe. Hy het ’n bydrae gelewer tot die beskerming daarvan.
Aan al Oom Thomas se naasbestaandes en familie, ons innige simpatie met julle verlies.