Dirk Swanepoel van Marico Bosveld-tak is aangewys as SA Jagters se Fotograaf van die jaar vir 2024. Gedurende 2024 het Dirk in drie DSLR/ML-kategorieë deelgeneem, nl.: Fauna en Flora, Buffels en Die Jagveld waarvoor hy agt platinum en meer as 60 goue toekennings verwerf het. Dirk se foto van die Europese byevangers het hom ook die titel van die Foto van die Jaar 2024 besorg.
Dirk Swanepoel se verbintenis met die natuur en fotografie
Om foto’s te neem is Dirk Swanepoel se tweede liefde. Sy eerste liefde is sy vrou, Christine, met wie hy al 36 jaar lank getroud is. Beide sy eerste en tweede liefdes het reeds in sy laerskooldae op Rustenburg Dirk se toekomsrigting bepaal.
As tienjarige laaitie het hy met sy pa se Kodak Instamatic begin foto’s neem. “Ek dink dit is iets wat net in my bloed was want as ek ‘n kamera gesien het, wou ek dit vashou en bekyk,” vertel Dirk. Op hoërskool het hy sy eerste ‘ordentlike’ filmkamera – ’n Yashica – aangeskaf wat vir baie jare en selfs gedurende sy tyd in die SA Lugmag vanaf 1985 ʼn permanente bêreplek in sy hempsak gehad het. Hy het spesiale toestemming van sy bevelvoerders gehad om foto’s in die spergebied te neem.
Na sy tyd in die Lugmag, het Dirk in die mynbedryf in die Barberton-omgewing begin werk terwyl Christine haar opleiding as geregistreerde verpleegkundige in Pretoria ontvang het. Troukoors het hoog geloop tussen Dirk en Christine. In 1989 is hulle spesiale vriendskap wat tydens hulle laerskooljare begin het, uiteindelik as lewensmaats bevestig. In die natuurskoon van die Oos-Transvaal het Dirk sy liefde vir fotografie voortgesit. Sy loopbaan het hom later laat terugkeer Rustenburg toe.
Met die aanbreek van die 21ste eeu, het nuwe digitale tegnologie die kamerabedryf oorrompel toe die DSLR-kameras bekend gestel is. Dirk se broer, Chris, het juis met ʼn blinknuwe Nikon D80 met ‘n 18-55mm lens en ‘n 70-300mm lens gespog. Tydens ʼn besoek aan Mabalingwe het Dirk sy broer se D80 geannekseer. Die koeël was deur die kerk. Hy moes toe ook net ‘n DSLR kry. Dirk se eerste digitale kamera was ʼn Nikon D300. Hy het ook ʼn D700 Full Frame Sensor aangeskaf en later die D500 en D4 plus ʼn verskeidenheid lense by sy versameling gevoeg.
Dirk en Christine se liefde vir Afrika het hulle na verskeie buurlande geneem waar hy hom goed kom uitleef in fotografie. Hulle gesin het intussen uitgebrei met die geboorte van hulle seun, Dirkie, in 1994.
Toe drones die kommersiële mark tref, het Dirk natuurlik nie gehuiwer om geleidelik sy kameratoerusting uit te brei nie en het mettertyd vier verskillende DJI-drones tot sy bestaande versameling DSLR en GoPros gevoeg. Hierdie tegnologie het ʼn weer ʼn nuwe dimensie aan sy fotografie gegee. Behalwe vir visuele stil en videomateriaal, het Dirk ook hoë kwaliteit klanktoerusting aangeskaf om video’s te neem. “Fotografie en die toerusting tot ons beskikking verskerp jou sintuie vir wat in die natuur aangaan en stel jou in staat om dit op soveel maniere vas te vang,” sê Dirk.
Teen einde 2023 het Dirk se mynloopbaan van meer as twee dekades drasties verander toe hy die pos van bestuurder van die Fahad Private Game Reserve aangebied is. Christine is ook ʼn pos aangebied as bestuurder van gasvryheid- en menslike hulpbronne by Fahad. In dieselfde jaar het die koms van spieëllose (mirrorless) kameras Dirk se belangstelling geprikkel en het hy Nikon se Z9 en Z6 iii kameras aangeskaf. Hy geniet veral die stil werking van die nuwe Z-kameras en lense.
Fahad Private Natuurreservaat is sowat 60km van Ellisras tussen Groblersbrug en Stokpoort-grensposte geleë. Die ongerepte natuurlewe op Fahad se 7500 ha knus teen die Botswana-grens is ʼn paradys vir fotografie. “Die Limpopo- en Mogol-riviere vloei deur die reservaat. Hier kan ʼn mens net in die veld verdwyn met jou kameras. Gelukkig is Fahad se direkteur net so lief vir die veld en die natuur en moedig hy my aan om die skoonheid van Fahad op film vas te lê.“
Dirk en Christine is nou 36 jaar getroud. Hy voel veral geseënd om sy gesin saam met hom op Fahad te hê. Hy neem elke dag nuwe insekte en voëls waar en hoor nuwe klanke. “Ek deel my passie vir die natuur met besoekers wat net soos ek ‘n liefde vir die veld en fotografie het. Wat meer kan ek vra!”