Een van die belangrike jaarlikse geleenthede by die takke van SA Jagters is die Algemene Jaarvergaderings (AJV). ‘n Belangrike item op die agenda is die verkiesing van nuwe lede op die takbestuur waar nodig en die sukses van die proses word onder andere bepaal deur die hoeveelheid taklede wat daaraan deelneem.
Die SAJWV is ’n vereniging vir lede, deur lede en takbesture bestaan uit individue wat in hul vrye tyd takke bestuur en aktiwiteite vir lede beplan en aanbied. Die sukses van ‘n tak begin by die verkiesing van entoesiastiese bestuurslede wat bereid is om die werk te doen, genomineer word in portefeuljes waarin hulle belangstel en oor die nodige kennis, vermoë, infrastruktuur en vrye tyd beskik om hul take behoorlik uit te voer. Die identifisering van bekwame vrywilligers vir takbesture behoort ’n deurlopende proses in elke tak te wees en die lede kan ’n groot bydrae maak. Takbestuur moet voortdurende op opvolgbeplanning fokus, om te sorg dat daar plaasvervangers is wanneer bestaande bestuurslede se termyne verstryk.
In die algemeen is persone met ‘n suksesvolle geskiedenis in hul persoonlike en besigheidslewe goeie kandidate vir takbestuur. Die takvoorsitter is die leier en bestuurder van die tak en hy bepaal tot ‘n groot mate die sukses van ‘n tak. Hy moet take effektief kan delegeer na sy bestuurspan en die bydraes van almal koördineer. ‘n Paar van die eienskappe wat ‘n voorsitter moet besit is: integriteit, selfdissipline, volharding, invloed, ‘n positiewe ingesteldheid, en effektiewe kommunikasie vaardighede. Hy is in meer as een opsig ‘n rolmodel vir sy bestuurspan en elke lid van sy tak. Evalueer enige suksesvolle tak en sonder uitsondering ontdek jy ‘n dinamiese voorsitter met ‘n positiewe ingesteldheid en die vermoë om mense te inspireer tot ‘n gesamentlike doel.
Die skietkoördineerder moet goed kan organiseer en met ‘n sterk persoonlikheid om dissipline op die skietbaan te verseker. Offisiere of onderoffisiere (tans in diens al dan nie) van die SA Weermag of SA Polisie is dikwels goeie kandidate vir die pos. Finansies van takke moet volgens basiese rekenkundige beginsels bedryf word met ‘n behoorlike stel boeke. Die Tesourier moet ‘n persoon wees met rekenkundige agtergrond en nougesette aandag tot finansiele sake. Persone met bestaande vaardighede en ondervinding in opleiding word benodig in die poste van junior en senior Opleier. Die Vereniging se opleiding bestaan uit: Toegewyde Jagters, Toegewyde Sportskuts en Baanoffisiere.
Opsommend, persone verkies tot bestuursposte op takvlak moet genomineer en verkies word gebaseer op bestaande ondervinding en vaardighede, dit kan nie op takvlak aangeleer word nie. Lede, kontak u takbestuur en raak betrokke in die nominasie en verkiesingsproses en waar moontlik maak u beskikbaar as vrywilliger waar u dienste benut kan word. Ons Vereniging word gebou op die bydraes van vrywilligers!