Verantwoordelike jag dra wesenlik by tot die waarde van wild en speel ’n belangrike rol om volhoubare inkomste te genereer vir die beskerming van spesies en hul habitatte. Die voorsiening van vrylopende proteïen bevorder voedselsekerheid en lewer ’n beduidende bydrae tot die ekonomie, veral in landelike en onderontwikkelde gebiede. In lande waar jag verbied is, soos Kenia, toon data uit verskeie wetenskaplike bronne ’n afname van tussen 60% en 70% in grootwildbevolkings, terwyl die situasie in Wes-Afrika selfs meer kommerwekkend is.
Verantwoordelike jag finansier bewaring. Ongeveer die helfte van die spandering verwant aan ‘n jag, vloei direk na wildplase, oop plase en private beskermde gebiede wat deel vorm van Suid-Afrika se habitat vir natuurlewe. Hierdie areas wat onder bestuur van die privaatsektor is, beslaan sowat 20 miljoen hektaar (14% van Suid-Afrika se grondgebied). Dit is meer as dubbel die grootte van bewaringsgebiede onder staatsbeheer. Die area huisves ook aansienlik meer wild wat ‘n betekenisvolle bydrae lewer tot die land se bewaringsdoelwitte vir onder andere bontebok, renoster en die bergkwagga.
Die ekonomiese impak van jag strek veel verder as die wildbedryf self. Jagters en die private sektor dra beduidend by tot Suid-Afrika se ekosisteemdienste, wat in 2019 op R7,002 miljard gewaardeer is, en tot die bio-ekonomie wat ongeveer 1,5 miljoen werksgeleenthede onderhou en jaarliks 8,3% tot die bruto binnelandse produk bydra. As een van die belangrikste dryfkragte in die bio-ekonomie genereer die jagsektor jaarliks R44,7 miljard vir die ekonomie, met plaaslike jagters wat R12.6 miljard en internasionale jagters wat R2.9 miljard bestee. Na raming, ondersteun hierdie bedryf sowat 95,000 werksgeleenthede.
‘n Nuwe Nature Sustainability-studie beaam die positiewe bydraes van verantwoordelike jag en bevestig dat goed gereguleerde, verantwoordelike en wetenskaplik-gebaseerde jag ‘n kernkomponent is van suksesvolle wildbestuur. Die studie toon dat:
- Soogdiere wat verantwoordelik gejag word, geneig is om stabiele of groeiende bevolkings te hê wat minder dikwels bedreig word as spesies wat glad nie gejag word nie
- Spesies wat vir voedsel gejag word geen verhoogde risiko van afname of bedreiging toon nie
- Verantwoordelike jag bydra tot beter bewaring en volhoubare wildbestuur.
Lees die volledige artikel hier