Die Tuinroete-tak van SA Jagters het op 3 Augustus in samewerking met Afriforum Jeug se George-tak die gesondheid en ekologiese status van die Witelsrivier se boloop met ʼn mini-SASS opname getoets. Dit maak deel uit van die tak se Water-vir-Lewe inisiatief om die gesondheid en ekologiese status van rivierstelsels te evalueer. Tuinroete-tak se jeug monitor reeds drie ander riviere in die George omgewing.
Die resultate van die toetse in die Witelsrivier was bemoedigend en dui aan dat die rivierstelsel gesond is vanweë die diverse verskeidenheid makro-invertebrate wat waargeneem is. Hierdie inligting is belangrik vir watergebruikers, bewaringspogings en vir die inligting van toekomstige waterbestuurspraktyke.
Die Mini-SASS (Semi-kwantitatiewe makro-invertebraatbeoordeling) riviermonitering is ’n vereenvoudigde weergawe van die tradisionele SASS-metodologieë wat die waterkwaliteit vinnig en doeltreffend beoordeel deur die teenwoordigheid van makro-invertebraatpopulasies te ontleed. Hierdie organismes is sensitief vir veranderinge in hul omgewing. Deur hulle te ondersoek, kry ʼn mens kry waardevolle inligting oor die algehele gesondheid van rivier-ekosisteme.
Volgens Gerhan Archer, bewaringskoördineerder van die Tuinroete-tak, bewys die Mini-SASS opnames dat dit ’n waardevolle hulpmiddel in ons omgewingsarsenaal kan wees waardeur veral die jeug betrokke kan raak om data in te samel vir bewusmaking oor die gesondheidstatus van plaaslike rivier-ekosisteme.
Afriforum Jeug van George sal voortgaan om saam met die Tuinroete-tak en omgewingsagentskappe te werk om die voortgesette gesondheid en volhoubaarheid van ons rivierstelsels te bevorder.