Lede van SA Jagters kan deelneem aan die Sightings inisiatief om waarnemings van geïdentifiseerde skaars en skugter spesies aan te teken. Dit kan ook gebruik word vir spesifieke inisiatiewe soos die vereniging se Projek Grootoog.
Die verkeer op Sightings oor die afgelope jaar (Oktober 2023 tot einde September 2024) was interessant met 2,576 aanmeldings van 18,405 diere.
Flip Potgieter van Mpungini was die aktiefste met 680 aanmeldings, gevolg deur Dave Hayter van Bloemfontein met 446 aanmeldings.
Die data word gebruik in verskeie bewaringsinisiatiewe en gesprekke met die regering. Jagluiperdwaarnemings is ingesluit in die nasionale jagluiperdopname, terwyl bromvoëldata bygedra het tot die nasionale opname van die voëls. Daar is bykans dubbel die aantal broeipare as wat vorige data aangedui het. Waarnemings het ook bygedra tot die opdatering van die rooidatalys en bewaringsinisiatiewe vir spesies soos oorbietjies en ietermagogs.
Daar was ʼn spesiale versoek aan lede om kolganswaarneming te deel na aanleiding van die verslae oor die negatiewe impak wat groot getalle kolganse op gewasse het. Dié spesie is by die Sightings lys gevoeg om data in te samel sodat ons sinvolle gesprekke met die regering kan voer oor jagproklamasies.
Hierdie aktiwiteit het tot die aanmeld van 10 885 kolgans gelei. Die meeste waarnemings was 6,945 kolganse in KwaZulu/Natal en 1,886 in die Vrystaat. Swerms van tot 500 voëls is op ʼn slag waargeneem.
Ons moedig lede aan om waarnemings van die gelyste spesies in te lees op die SA Jagters App. Met voldoende motivering kan ander spesies bygevoeg word.
Gaan na Wildlife Sightings bladsy