Kremetartbome (Adansonia digitata) word honderde jare oud en speel ʼn belangrike rol in die ekologie van savannas. Die reuse van die bosveld bied skuilplek, versamel water in die holtes tussen die takke terwyl die blomme en vrugte kos is vir baie diere. Die boom kan beskou word as ʼn unieke mini-ekosisteem. Kremetartbome is ook bekend onder jagters wat dikwels in hul skadu vertoef of dit as ʼn landmerk gebruik wanneer hulle jag omdat hulle ver bo die ander bome uittroon.
Kremetartbome speel ook ʼn belangrike rol in die lewe van ʼn ander bosreus – die olifant – wat die sappige jong takke en blare eet en in droogtetye die boom se vlesige bas stroop vir kos. In ʼn gesonde ekostelsel kry die kremetartbome kans om te herstel en nuwe bas groei bo-oor die beskadigde dele. Die benutting deur olifante dra by tot die uitsonderlike groeivorm en knoetsagtige dik stamme van dié bome.
Waar die aard en frekwensie van olifant se impak egter te groot word, kry kremetartbome nie kans om die weefselskade te herstel nie. Dit beperk die vloei van voedingstowwe na die res van die boom sodat dit uiteindelik vrek. Met die ongekende toename in olifantgetalle in Suidelike Afrika, is die tendens duidelike sigbaar in dele van Botswana, Zimbabwe en Suid-Afrika. Hierdie ongekende toename in olifantgetalle is die gevolg van beleidsbesluite wat die beheer van olifantgetalle deur onder andere gereguleerde jag en oesoperasies drasties beperk of uitgeskakel het.
Met die toename in olifantgetalle ontstaan daar kompetisie tussen spesies vir kos en ruimte. Droogte toestande in lande noord van Suid-Afrika plaas verder druk op kremetartbome en ander spesies in twee van ons eie nasionale parke, naamlik Mapungubwe Oorgrenspark en die noorde van die Nasionale Kruger Wildtuin.
Die situasie in Botswana is tans kommerwekkend en troppe olifante migreer suidwaarts oor die Limpoporivier na Suid-Afrika. Hier is die eerste stop dan Mapungubwe Nasionale Park op die grens tussen Suid-Afrika, Botswana en Zimbabwe wat deel is van die groter wêrelderfenisgebied. Behalwe vir die goue renosterbeeldjie waarvoor Mapungubwe bekend is, word hierdie park beskou as die Valley of the Kings vir sy reuse kremetartbome.
Kremetartbome in Mapungubwe gaan nie die verhoogde impak van die olifante oorleef nie en kommer bestaan dat die groot bome uit die landskap kan verdyn. Verskeie universiteite se plantkunde en dierkunde afdelings werk saam aan ʼn plan om veral die reuse kremetartbome in die park te beskerm. Dit behels die span van stewige staalheinings rondom die boom se stam tot op ʼn hoog waar die olifante kan bykom om te verhinder dat hulle die bas op ʼn groot skaal van die bome stroop. Hierdie plan volg wetenskaplike riglyne. Nie al die bome word beskerm nie sodat kremetartbome steeds hul ekologiese rol in die landskap kan vervul. Hierdie plan is nie noodwendig ʼn oplossing oor die langtermyn nie.
Die omheining van hierdie ikoniese bome kos baie geld omdat die materiaal aan spesifieke vereiste moet voldoen. Verder verg dit tyd en arbeid wat tot die koste bydra. SANParke se ereveldwagters hanteer hierdie projek. SA Jagters se Baviaanspoort-tak het besluit om geld in te samel om hierdie inisiatief finansieel te ondersteun. Die tak het reeds R10,000 hiervoor geskenk.
Die Vereniging is reeds betrokke by verskeie langtermynprosesse rakende olifantbestuur in Suid-Afrika en Suidelike Afrika waaronder:
- Olifantbestuurstrategie vir SA
- Regulasies vir bedreigde en beskermde spesies (TOPS)
- Die Wet op Nasionale Omgewingsbestuur: Biodiversiteit (NEMBA)
- Nasionale beleid oor die bewaring en ekologies volhoubare gebruik van olifante, leeus, luiperds en renosters.
Lede wat wil bydrae tot die beskerming van ons ikoniese groot kremetartbome kan geld aan SA Jagters se bewaringsfonds skenk. Die Tinyarhi Trust is ʼn geregistreerde Openbare Welsynsorganisasie (PBO) – Nr. 930072003, ingevolge Artikel 18A (1)(a) van die Inkomstebelastingwet. Skenkings aan Tinyarhi Trust kan van belasting afgetrek word.
Om ʼn belastingsertifikaat vir ʼn individu/maatskappy te ontvang, stuur die onderstaande inligting aan lizanne@sahunt.co.za Beperk asseblief versoeke vir belastingsertifikate tot skenkings van R500 of meer.
- naam en van
- kontakbesonderhede
- adres
- identiteitsnommer
- gedrag
- heg bewys van betaling aan
Bankbesonderhede
- Bank: Absa
- Naam van rekeninghouer: Tinyarhi Trust
- Rekeningnommer: 4093220340
- Tak: Absa Retail and Business Bank Tshwane Noord