SA Jagters se Snare Busters program het sedert 2021 voorkom dat sowat 6000 diere met ‘n geskatte ekonomiese waarde van R100 miljoen in wildstropers se strikke in die Phalaborwa-omgewing beland.
SA Jagters se bewaringsbestuurder Lizanne Nel het op 10 en 11 September 2024 in Pretoria tydens ‘n simposium oor strikke deelgeneem aan ‘n paneelbespreking oor die ekonomiese, bewaring- en sosiale gevolge van die onwettige oes deur middel van strikke. Dit was duidelik dat die omvang van strikstropery veel groter is as wat aanvanklik vermoed is. Die staat het nie die kapasiteit om die wet toe te pas nie, en daarom is ‘n geïntegreerde aksieplan nodig waarin die private sektor ‘n belangrike rol sal moet speel.
Sedert 2021 werk SA Jagters se Mopani-tak saam met die Phalaborwa Natural Heritage Foundation om strikke in die groter Phalaborwa-omgewing te verwyder en diere wat in strikke gevang is, te red. Die Vereniging se Snare Busters program het 195 strikverwyderings- en wildreddingsoperasies uitgevoer waarin 385 diere uit strikke gered en met die hulp van plaaslike veeartse versorg is voordat hulle weer in die natuur vrygelaat is. Altesaam 2068 mense het oor die afgelope vier jaar 1142 km gepatrolleer in Snare Buster-operasies.
Die stel van strikke is ‘n onverskillige en wrede aktiwiteit wat geen ag slaan op die welsyn van diere nie. Gereguleerde wettige jagpraktyke in ‘n inklusiewe wildsekonomie in die landelike gebiede van Mpumalanga kan ‘n beduidende bydrae lewer tot die landelike ekonomie en tot voedselvoorsiening in die algemeen.
Kyk na die skyfies hier.
Gaan na die Snare Busters bladsy