Die SA Jagters Browning Nasionale Haelgeweerkampioenskap is op Saterdag 14 September 2024 by die Wattlespring Sportklub aangebied. SA Jagters se Pretoria-Oos-tak was die gasheer. Die tak se administratiewe beamptes was reeds vroeg op hul pos om die registrasietafel vanaf 07:00 te beman. Tagtig skuts het ingeskryf asook 12 spanne van verskillende takke. Deelnemers aan die byeenkoms is volgens 2024 se streekranglys genooi.
Dorothy, Charlene en Angelique van SA Jagters se nasionale kantoor was ook daar met die kenmerkende stalletjie.
Ds. Fritz Snyman, voorsitter van Pretoria-Oos-tak, en Basie Bergh, president van SA Jagters het die skuts verwelkom. Andy Sutton was die hoofbaanoffisier vir die dag en het die skuts se geheues verfris oor die belangrikste reëls. Die kompetisie het uit tien verskillende bane bestaan met ’n totaal van 100 kleie wat volgens die Combined Pairs reëlboek aangebied is.
Uitstekende tellings is behaal met Jacques van Rooy van Transvaal-tak se wentelling van 92 uit 100 kleie wat hom die titel van Nasionale Haelgeweerkampioen besorg het. Die ouer garde het vanjaar op gelyke voet kom deelneem in die klasse vir Meester Mans en Super Veterane Vroue.
Basie Bergh en Boetie Kirchner (Bestuurder Haelgeweerskiet) het die prysuitdeling behartig. Inyathi Sporting Supplies was die hoofborg van die dag. Behalwe vir die pryse vir die wenners, het ander deelnemers ook pryse in ’n gelukkige trekking ontvang wat onder andere geskenkbewyse van Jonssons Workwear ingesluit het.
Alhoewel dit ’n dag van strawwe kompetisie was, het almal dit terdeë geniet en was die gees onder deelnemers gemoedelik, veral wanneer skuts die gesamentlike pare se haasteiken misgeskiet het. Die dag se verrigtinge is afgesluit met ’n heerlike ete wat Wattlespring se personeel voorberei het.
Topskut:
1ste: Jacques van Rooy (92)
2de: Kurt Wilhelm Frees (90)
3de: Cobus Alberts (90)
Die tweede en derde plekke is met die terugtel-metode bepaal.
Junior Mans:
1ste: Alan Smith (79)
2de: Rian Swanepoel (78)
3de: Dewalt Le Roux (75)
Senior Mans:
1ste: Jacques van Rooy (92)
2de: Kurt Wilhelm Frees (90)
3de: Alwyn Annandale (89)
Senior Dames:
1ste: Anita Kriel (80)
2de: Sanet van Jaarsveld (72)
3de: Sandra Linde (71)
Veterane Mans:
1ste: Cobus Alberts (90)
2de: Erich Erichsen (85)
3de: Wim Bornman (83)
Super Veterane Mans:
1ste: Cecil van Jaarsveld (83)
2de: Cliffie Holmes (79)
3de: Dave Gould (78)
Super Veterane Dames:
1ste: Linda Swanepoel (60)
Meester Mans:
1ste: Charl Naude (80)
2de: Bob Nixon (74)
3de: Dekker van der Merwe (41)
Spanskiet:
1ste: Centurion Waterbokke
2de: Wesrand Sabre Top Guns
3de: Suikerbosrand Shotgun Jesters