Die jaarlikse African Wildlife Consultative Forum, geborg deur die Safari Club International Foundation, het groepe byeengebring om geleenthede en uitdagings rondom jag en bewaring in Afrika te bespreek. Verteenwoordigers van die U.S. Fish and Wildlife Service, wetenskaplikes, regerings, jagverenigings en gemeenskappe regoor Afrika het die forum bygewoon. Die Suid-Afrikaanse Jagters- en Wildbewaringsvereniging was verteenwoordig deur sy president, Basie Bergh, sowel as die bestuurder bewaring, Lizanne Nel, en die bestuurder jagsake, Boetie Kirchner, wat namens SA Jagters se lede en verantwoordelike jag gepraat het.
Die gesprekke het gefokus op die negatiewe impak van CITES en internasionale handelsregulasies op die volhoubare jag van spesies soos olifante, leeus en luiperds; die handel in renosterhorings; en die rol van verantwoordelike jag in die beskerming van wildlewehabitatte; die bestuur van dierepopulasies; en die belangrike voordele wat dit vir landelike gemeenskappe inhou.
Die forum het beklemtoon dat die bewaringsuksesse van lande in Suidelike Afrika en hul landelike gemeenskappe se afhanklikheid van verantwoordelike jag as ‘n grondslag behoort te dien vir sterker voorspraak in besluitneming oor hul regte om voordeel uit die natuurlewe te put.
Lizanne het data uit opnames onder jagoperateurs en gemeenskappe in Botswana, Namibië, Tanzanië, Suid-Afrika, Zambië en Zimbabwe gebruik om te wys hoe verantwoordelike jag op leeus en luiperds bewaringspogings ondersteun. Sy het ook die groot positiewe impak van hierdie bedryf op landelike ekonomieë regoor Afrika uitgewys.
Baie van die dienste wat jagoperateurs lewer kan nie so maklik vervang word deur regerings of ander entiteite met dieselfde omgewingsvoetspoor nie. Haar aanbeveling was dat dit belangrik is om verby die finansiële bydraes van die bedryf te kyk om die werklike voordele van jag te verstaan. ’n Meer omvattende benadering is nodig om die bewarings-, sosiale en breër ekonomiese waarde van jag op die samelewing en die natuur aan te dui.
Soos wat die druk op jag toeneem, het die gesprek ook gefokus op maniere om jag meer sosiaal aanvaarbaar te maak. Tydens een van die sessies het mense van verskillende agtergronde hul diep emosionele eerste ervarings van jag gedeel. Spesifieke voorstelle is gemaak om die samelewing se siening en aanvaarding van jag te help verbeter.