Slange speel ‘n belangrike rol in die ekologie. Hulle beheer knaagdierpopulasies en is ‘n waardevolle voedselbron vir roofdiere. Slange kan vir maande sonder kos oorleef, maar kan hul voedselinname tot 20 keer verhoog tydens ʼn oorbevolking van knaagdiere. ‘n Groot slang kan maklik ‘n hele knaagdierfamilie in hul nes in een voedingsessie verslind.
Slange se gif het geleidelik ontwikkel om hul prooi te immobiliseer en dood te maak. Die vervaardiging van gif vereis energie wat slange uit maaltye verkry. Slange hou min gevaar vir mense in en vermy ons maar sal hulself verdedig wanneer hulle bedreig voel. Hou minstens vyf tree tussen jou en ʼn slang om te verhoed dat jy gebyt word. Om op ‘n slang te trap, dit vas te leer of te beseer, sal ‘n aanval veroorsaak. Sommige slange, soos die rinkhals en die Mosambiekse spoegkobra, spoeg uit selfverdediging as ‘n afskrikmiddel en mik vir die oë van ‘n persoon of dier wat te naby kom. Daarna beweeg hulle vinnig aan om van die bedreiging te ontsnap.
Wees versigtig wanneer jy in die veld stap en gebruik ‘n flitslig wanneer dit donker is. Die meeste slangbytslagoffers word onder die knie gebyt en gewoonlik in die nag. Moenie slange doodmaak nie. As jy ’n slang in jou tuin of huis waarneem, skakel ‘n ervare slanghanteerder om dit te verwyder en in ‘n veilige omgewing weg van woongebiede vry te laat.