Predasiebestuur SA, waarvan SA Jagters ʼn lid is, het in Augustus vergader het om die omgewingsvriendelike bestuur van die impak van roofdiere op beide die vee- en wildbedryf te bespreek. Ons deel graag die volgende aspekte:
- Kraaie en vlakvarke is nie tradisioneel bekend as predatore nie, maar hul impak is wel insiggewend. Die impak van witborskraaie kom redelik wydverspreid voor in die westelike dele van die land en die Vrystaat, terwyl dié van vlakvarke voorkom as spesifieke insidente. Vlarkvarke versprei egter na streke waar hul nie vroeër voorgekom het nie en a-tipiese gedrag mag deel wees van ʼn oorlewingstrategie.
- Rondloperhonde het ʼn wesenlike impak op predasie, veral vir gemeenskapsboere. Van die diere kom nou vrylopend in die veld voor en as hul in die natuur begin aanteel en die kleintjies oorleef, kan dit lei tot ‘n probleem, soortgelyk aan die dingo’s in Australië. Mak honde wat rondloop en wild word, dra by tot die predasieprobleem en hou risiko’s in vir mense aangesien inenting teen ernstige siektes soos hondsdolheid byna onmoontlik sal wees.
- Dit is belangrik om ʼn holistiese benadering te volg by die bestuur van die impak van predasie. Top predatore soos luiperds het byvoorbeeld ʼn wesenlike impak op mesopredatore soos jakkalse. Die uitroei van alle predatore in die landskap het nie net ʼn ekologiese impak nie, maar dit kan ook die koste van predasiebestuur verhoog indien jakkalse se natuurlike vyande uit die weg geruim word. Die onoordeelkundige skiet van jakkalse kan gedragsveranderinge veroorsaak soos dat jakkalse op ʼn vroeër ouderdom begin teel en groter werpsels produseer.
Vir meer inligting oor predasiebestuur en die volledige verslag van moniteringsplase kliek hier.