SA Jagters se bewaringbestuurder, Lizanne Nel, het onlangs met plaaslike grondeienaars, wildplase, jagbestemmings en private natuurreservate in die Rooiberg-bewaringsgebied vergader oor metodes om die bewaring en hervestiging van bromvoëls te verbeter. Lucy Kemp en haar span van die Mabula Bromvoëlprojek het ʼn wonderlike maar ʼn uitdagende taak om die teenwoordigheid van hierdie majestueuse voëls in die landskap te verseker.
Benewens die tipiese uitdagings wat met hervestigings vereenselwig word, word bromvoëls se voortbestaan bedreig deur kontak met elektriese kabels en transformators, onopsetlike vergiftiging deur looddeeltjies in vleis wat vir aasdiere in die veld agtergelaat is of gifstowwe om predasie te bekamp.
Sowat 50 mense het deelgeneem aan die vergadering wat by die Qwabi Private Natuurreservaat gehou is. Die reaksie was oorweldigend positief dat alle rolspelers in die Rooiberg-bewaringsgebied moet saamwerk en die beste bestuurspraktyke moet toepas om die oorlewing van hierdie majestueuse voëls te verbeter.
Positiewe benaderings sluit in:
- ‘n gesamentlike en samewerkende benadering tot bewaring in die breër landskap aangesien hierdie voëls van een plaas na ‘n ander vlieg;
- Gesprekke met Eskom om risiko’s van kraglyne en transformators te bespreek;
- bestuur van die risiko’s van looddeeltjies in karkasse wat in die veld agterbly en waarvoor bromvoëls veral baie sensitief is;
- ekologiese en omgewingsvriendelike benaderings tot predasiemaatreëls.