Die afgelope twee tot drie jaar is daar meer as een keer versoek dat skietstokke soortgelyk aan die 4DeadHold hunting sticks hierbo oorweeg moet word vir gebruik op die SA Jagters skietbane en tydens skietkompetisies. ʼn Volledige evaluasie is gedoen en die volgende is bevind:
1. Definisie van skietstokke volgens die SAJWV Universele Reëls uitgereik op 28 Februarie 2020 – item 3.2
Skietstokke – skietstokke moet opvoubaar wees, gemaklik in die jagveld saamgedra kan word en moet onafhanklik op drie bene staan vir stabiliteit. Stokke wat tot staanhoogte gebruik kan word (ook geskik vir lê-, sit- en knielposisies) se gewig is beperk tot ʼn maksimum van 2.4 kg. By stokke vir sit/knielhoogte (ook geskik vir lê-hoogte), word die gewig beperk tot 1.4 kg. Vir stokke wat net tot lê-hoogte gebruik word, is die maksimumgewig beperk tot 0.4 kg. ʼn Haak/stut/ verdikking waarop die geweer kan rus mag slegs op een van die bene gebruik word. ʼn Kanaal of ander ondersteuning wat die geweer onafhanklik op een poot of bo-oor ʼn driepoot kan ondersteun, is nie toelaatbaar nie. Opvoubare Harris-tipe tweepoot aanhegtings mag gebruik word ongeag die gewig en mag tussen afstande op dieselfde skietoefening aangesit of afgehaal word. Indien meer as een stel skietstokke gebruik word vir verskillende hoogtes tydens ʼn skietkompetisie waar skietstokke geweeg word, moet elke stel geweeg word.
2. Die hoofoorwegings van bogenoemde reëls i.v.m. SAJWV skietstokke is die volgende:
2.1 Skietstokke moet onafhanklik staan op drie bene vir stabiliteit. In 2005 en 2006 het SA Jagters aanvanklik tweepoot skietstokke toegelaat maar dit is daarna vir veiligheidsredes weens stabiliteitsprobleme verander na die huidige voorskrif van driepoot skietstokke;
2.2 Die maksimumgewig vir skietstokke op staanhoogte is 2.4 kg;
2.3 ʼn Haak/stut/verdikking waarop die geweer kan rus mag slegs op een van die bene gebruik word;
2.4 ʼn Kanaal of ander ondersteuning wat die geweer onafhanklik op een poot of bo-oor ʼn driepoot kan ondersteun is nie toelaatbaar nie.
3. 4DeadHold hunting sticks se eienskappe
3.1 Staan net op twee bene (net twee raakpunte op die grond) en kan dus nie onafhanklik staan vir stabiliteit nie;
3.2 Twee mikke waarop die geweer rus voldoen nie aan die beperking van een haak/stut/verdikking waarop die geweer mag rus nie.
4. In ʼn poging om aan die Universele Reëls te voldoen is die 4DeadHold hunting sticks soos volg gebruik vir die volgende tipiese oefeninge:
Universele Reëls 18.2.3: Sitposisie met vrye ondersteuning – met hierdie gesteunde sitposisie kan die skut sy skietstokke of Harris-tipe tweepoot gebruik na die beste van sy oordeel (kan ook meer as een poot van die skietstok benut) sonder enige beperking, behalwe waar die baanoffisier dit onveilig ag. Dit is toelaatbaar om die elmboë op die knieë te stut en ʼn geweerband is ook toelaatbaar. Die elmboë en enige deel van die arms of knieë mag nie die grond raak nie en die geweerkolf moet in die skouer wees, bv. die Vlakteskietoefening met vrye ondersteuning op 200m.
SAJWV-goedgekeurde driepoot

Sitposisie: Met 4DeadHold hunting sticks mag die tweede ruspunt agter nie gebruik word nie en die linkerhand moet die tweede ruspunt agter skep. Dit veroorsaak dat die geweer en skietstokke saam nie behoorlik onder beheer is vir stabiliteit nie. Wanneer ʼn volgende rondte gelaai word of met ʼn storing moet die skut die skietstok in die linkerhand los om die geweer te beheer. Die skietstok kan omval/platval.
Universele Reëls 18.3.2: Knielposisie met vrye ondersteuning – knielposisie soos hierbo beskryf in item 18.3.1, maar die skut kan skietstokke gebruik na die beste van sy oordeel (kan ook meer as een poot van die skietstok benut) sonder enige beperking, behalwe waar die baanoffisier dit onveilig ag bv. by die Bosveldskietoefening in die knielposisie met vrye ondersteuning op 150m.
SAJWV-goedgekeurde driepoot

Knielposisie: Dieselfde probleme soos hierbo beskryf met die 4DeadHold hunting sticks by die sitposisie geld ook vir die knielposisie.
Universele Reëls 18.4.4: Staanposisie met vrye ondersteuning – met hierdie gesteunde staanposisie kan die skut skietstokke gebruik na die beste van sy oordeel (kan ook meer as een poot van die skietstok benut) sonder enige beperking, behalwe waar die baanoffisier dit onveilig ag by bv. die Bosveldskietoefening in die staanposisie met skietstokke, vrye ondersteuning op 100m.
SAJWV-goedgekeurde driepoot

Staanposisie: Dieselfde probleme wat hierbo genoem word met die 4DeadHold hunting sticks by die sitposisie geld ook vir die staanposisie. Indien die skietstok sou vooroor val, kan dit naburige skuts steur.
5. Resultaat van die evaluasie
5.1 Indien die 4DeadHold hunting stick gebruik word soos ontwerp vir jag, is dit baie stabiel omdat die skut se hande in natuurlike posisies is wat die skut se beheer oor die geweer verseker;
4DeadHold hunting stick – dit is baie stabiel indien dit gebruik word op die manier waarvoor dit ontwerp is.
5.2 Die 4DeadHold hunting stick voldoen nie aan die basiese vereiste van stabiliteit vir veiligheid op skietbane nie aangesien dit net op twee bene staan met twee raakpunte op die grond en nie onafhanklik kan staan nie;
5.3 Hierdie probleem met stabiliteit vererger wanneer gepoog word om aan die beperking van een haak/stut/verdikking te voldoen. Verwys na die foto’s van voorbeelde waar die 4DeadHold hunting stick gebruik word om aan die Universele Reëls te voldoen deur net een haak/stut/verdikking te gebruik. In hierdie geval word die 4DeadHold hunting stick aangewend op ʼn wyse waarvoor dit nie ontwerp is nie en skep dit ʼn probleem met veral stabiliteit.
5.4 Die 4DeadHold hunting stick voldoen nie aan SA Jagters se vereistes en Universele Reëls vir gebruik op skietbane nie. Hierdie evaluering en besluit is goedgekeur en bevestig deur die nasionale Skietkomitee van SA Jagters.
Evaluering deur: André van der Merwe – Bestuurder: Tak- en Skietsake & Boetie Kirchner – Bestuurder: Jagsake