Die publiek moet besorg wees wanneer die regering wetgewing promulgeer sonder sinvolle konsultasie met diegene wat direk daardeur geraak word. Die parlement het met hul wetgewende prosesse, ’n definisie vir animal well-being in bewaringswetgewing ingesluit. Dit vereis onder andere dat die geestesgesondheid (mental health) van alle wilde diere – van ’n erdwurm tot ’n olifant – in ag geneem word in besluite oor bewaring, bestuur en benutting.
Hierdie definisie oor die welstand van diere en die implikasies daarvan is nooit met die publiek, die landbousektor, bewaringsorganisasies en die wildlewesektor gekonsulteer nie, al kan dit wesenlike implikasies vir Suid-Afrika se wildlewe inhou. Die definisies is verder onprakties en onuitvoerbaar. SA Jagters se gesprekke hieroor met die Departement Bosbou, Visserye en die Omgewing (DBVO) was egter onsuksesvol en daarom het die vereniging die hof genader om die proses ongrondwetlik te verklaar en die owerhede te dwing om behoorlik te konsulteer.
SA Jagters was nog altyd besorg oor die welstand van ons natuurlewe soos wat ons gedragskodes, bewaringswerk en beleidstandpunte duidelik bevestig. Een voorbeeld hiervan is ons suksesvolle hofsaak teen die Departement Landbou, Grondhervorming en Landelike Ontwikkeling om die toevoeg van inheemse wildspesies op die lys vir diereverbetering te stuit. Die onverwagte negatiewe implikasies van hierdie ondeurdagte definisie oor welstand op voedselproduksie, wildbestuur, bewaring en die wildlewe-ekonomie verg dringend aandag. Lede van SA Jagters kan trots wees daarop dat hul hierdie saak rugsteun. Die saak is sub-judice.