Die hersiene Biodiversiteitsbestuursplan (BBP) vir Swart- en Witrenoster in Suid-Afrika is op 18 Junie 2024 vir openbare kommentaar gepubliseer. Volgens die departement bosbou, visserye en die omgewing, bied hierdie plan ‘n strategiese benadering en gedetailleerde aksieplan om renosters in Suid-Afrika te bewaar en om in gesprek te tree met ander lande waar renosters voorkom. Hierdie plan konsolideer vorige werk rondom beleid oor die bestuur van renosters in ‘n enkele geïntegreerde plan wat die belange van renosters en gemeenskappe in Suid-Afrika dien.
Ons moedig lede en renostereienaars aan om hulself te vergewis van hierdie hersiening en om binne 30 dae na publikasie van die plan hul kommentaar te stuur aan conservationmanagement@dffe.gov.za Lede kan ook hulle kommentaar stuur aan Lizanne Nel, die bewaringbestuurder by lizanne@sahunt.co.za wat SA Jagters se kommentaar saamstel.
Die hersiene Biodiversiteitsbestuursplan vir Swart- en Witrenoster in Suid-Afrika is hier beskikbaar
SA Jagters- en Wildbewaringsvereniging se mening oor renosterbewaring
- Wetgewing wat dit vir die regering, die private sektor en gemeenskappe moontlik maak om die bewaring van wilde renosterpopulasies te verbeter, is noodsaaklik.
- Ons moet voortbou op die uitkomste van die Rhino Lab en spesifieke beleidsintervensies identifiseer om geleenthede te verbeter en risiko’s te verminder.
- Die komitee van ondersoek na renosterstroping (COI) en die Rhino Lab het duidelike die rigting aangedui vir omstandighede om die handel in renosters (en produkte) te realiseer. Daar moet egter meetbare mylpale gestel word om vordering in die rigting van handel te monitor.
- Spesifieke aansporings is nodig om die bewaring van wilde renosterpopulasies wat tot ons wilderfenis bydra, te ondersteun. Diegene wat renosters bewaar moet aangemoedig word om te belê in uitgebreide wildlewestelsels vir renosters en geleenthede – wat jag insluit – moet geskep word om volhoubaar en verantwoordelik inkomste te genereer; meganismes moet ontwikkel word om vennootskappe te verbeter wat wildlewegebiede vir renosterbewaring uitbrei en ondersteun; en renosters moet aan gewillige grondeienaars beskikbaar gestel word met die doel om hulle te bewaar.
- Alhoewel die doelwit moet wees om stabiele en/of groeiende wilde renosterpopulasies te vestig, moet die private sektor en gemeenskappe ondersteun word om nasionale en internasionale bedreigings te verminder. Solank as wat renosterstropery voortduur, is renosters veiliger onder innoverende bestuursmeganismes waar doeltreffende teenstropingsmaatreëls goedkoper is. Indien semi-intensiewe stelsels nodig is om die impak van stropery te verminder, is bestuursriglyne wat bydra daartoe dat renosters weer sonder risiko in die natuur vrygelaat kan word, ‘n stap in die regte rigting. Sodoende verlaag die risiko vir stropery terwyl die aanpasbaarheid en oorlewing oor die langtermyn bestuur word.