Die nasionale Safari & Outdoor/SA Jagters Intertak Spanskiet het op Vrydag, 18 Augustus 2023 op die Meerkatgat-skietbaan plaasgevind. Die kompetisie het baie goed afgeloop met uitstekende tellings wat behaal is. Die Duikerramme het met hul telling van 2680.54/2880 met die louere weggestap.
Beide die Duikerramme en die Baviaanspoort-buffels het gekwalifiseer vir die nasionale Wildehonde-toekenning nadat hulle die minimum, totale telling van 2590/2880, en minstens 1225/1440 per skietoefening behaal het. Baie geluk aan al die spanne wat deelgeneem het!
Dankie aan die takke in die Vrystaat-streek wat die byeenkoms aangebied het, en veral aan die Bloemfontein-tak wat as koördineerder en gasheertak vir seepgladde reëlings gesorg het. Julle gasvryheid was besonders! Kliek hier vir die volledige resultate.
Safari & Outdoor se borgskap van R40 000 se geskenkbewyse is aan die plekwenners oorhandig. ʼn Deel van die borgskap is ook in die vorm van ʼn gelukstrekking uitgedeel. Baie dankie aan Safari Outdoor vir die 2023 borgskap en hul volgehoue ondersteuning vir hierdie skietkompetisie oor die afgelope paar jaar.
Die nasionale SA Jagters-winkel Presidentskietkompetisie is op Saterdag, 19 Augustus 2023 ook op die Meerkatgat-skietbaan aangebied. Gelukkig het die baie sterk wind wat voorspel was nie gerealiseer nie. Die kompetisie het baie goed afgeloop en skuts het uitstekende tellings geskiet.
Die wenners in die verskillende klasse is:
- Ope klas: Nic Joubert van Vaalharts-tak
- Juniors: Xander Bailey van Edelvalk-tak
- Vroue: Sulene Stoltz van Bosbok-tak
- Seniors: Gawie Hattingh van Centurion-tak
64 skuts het vir die nasionale Platinum-toekenning gekwalifiseer. Die minimumvereistes vir hierdie toekenning is 610/720 op die totale telling en 290/360 per skietoefening.
Baie geluk aan die skuts wat so goed presteer het. Die Vrystaat Sandveld-tak wat die gasheer was by die Meerkatgat-skietbaan het hul klubhuis uitstekend voorberei vir die twee dae se kompetisies. Die reëlings het vlot verloop en die gasvryheid was uit die boonste rakke.
Volg die skakels vir die volledige uitslae: Ope klas, Juniors, Dames, Seniors en Platinum-kwalifiseerders
Hierdie jaar het die SA Jagters-winkel geskenkbewyse ter waarde van R50 000 as pryse vir plekwenners en die gelukkige trekking geborg. Baie dankie aan die SA Jagters-winkel vir die 2023 borgskap.