SA Jagters en lande en/of jagverenigings van verskeie lande in die Suider-Afrikaanse Ontwikkelingsgemeenskap (SAOG) het in Augustus vergader om die uitdagings ten opsigte van die bestuur van renosters en olifante te bespreek ter voorbereiding van die volgende African Wildlife Consultative Forum wat later vanjaar in Stellenbosch plaasvind. Botswana, Namibië, Zimbabwe, Zambië en Tanzanië was verteenwoordig. Die Safari Club Stigting van Amerika het die vergadering geborg. Dit was duidelik uit data van die verskillende lande, dat CITES en die uitvoerbeperkings wat Amerika en Europese lande ingestel het, ’n negatiewe impak het op die vermoë om genoeg geld in te samel om die koste van die bewaring van spesies en teenstropingsaksies te dek, en om die lewenskwaliteit van gemeenskappe te handhaaf wat daagliks saam met olifante en renosters leef. Tydens die vergadering het SAOG-lede wat deel is van die African Wildlife Consultative Forum besef dat regerings, gemeenskappe en verenigings van hierdie lande aktief moet saamwerk om uitdagings op die volgende terreine die hoof te bied:
- nouer samewerking om data en inligting te konsolideer;
- ʼn geïntegreerde benadering voor die volgende CITES-vergadering;
- meer aandag gee om die publiek, plaaslik en internasionaal, in te lig gelig oor die werklike toedrag van sake ten opsigte van die bewaringstatus van die spesies en die positiewe rol wat volhoubare benutting in bewaring kan speel;
- verantwoordelike benuttingsopsies van renosters en olifante (ingesluit renosterhoring en olifanttande) en jagpakkette in SAOG.