So het nog ‘n jaar met spoed ten einde gesnel. ‘n Jaar wat vol verwagting begin het oor die land se Nasionale verkiesing waar ons almal hoop gehad het oor die moontlikheid van positiewe verandering. Tog het daar na die verkiesing nie veel verander nie. Inteendeel, dienslewering is op alle vlakke in die land aan die taan; politieke binnegevegte; xenofobiese aanvalle waartydens geboue beskadig word; die ekonomie wil maar net nie op dreef kom nie; die kwessie rondom die hernuwing van vuurwapenlisensies wat verval het is nog steeds nie uitgesorteer nie. (Daar is wel in die verband ‘n “amnestie” afgekondig wat van 1 Desember 2019 tot 31 Mei 2020 strek, iets wat myns insiens nie haalbaar is nie en wat net op verdere “kopsere” afstuur synde ek o.a nie kan sien hoe daar bykans 600 000 vuurwapens in 6 maande se tyd suksesvol deur ballistiese toetse gesit kan word nie).
Tog was daar heelwat ligpunte oor die afgelope jaar waaroor ons as lede van SA Jagters dankbaar kan wees! Nie net het SAJWV die IGRF wêreldkampioenskap suksesvol aangebied nie, maar ons skuts het ook stof in die oë van ons internasionale eweknieë geskop en sodoende met die louere weggestap. Voorts het ons die nuwe MDS-skiet suksesvol implimenteer met honderde skuts wat reeds aktief daaraan deelneem. Ons Nasionale Spanskiet en Presidentskiet het uitstekende tellings opgelewer met die skuts se skietvernuf wat elke jaar verbeter. (Daar is immers niks soos brandende buskruit om ‘n gemoed in die regte stemming te kry nie). Verdermeer het duisende van ons lede suksesvolle jagtogte in ons pragtige land onderneem. Ons is ook gesëend met ‘n uitstekende personeelkorps by Inyatipark (hoofkantoor) wat uit hul pad gaan om ons as lede na die beste van hul vermoë te dien en sodoende puik diens te lewer. Dan is daar ook my kollegas op die Raad, die Takbesture en Streekkoordineerders wat onbaatsugtige diens aan die lede van die vereniging lewer, iets wat baie maklik ongesiens verbygaan! Baie dankie aan elkeen van julle, asook elke lid vir jul brandende passie en begeerte om SAJWV ‘n effektiewe en funksionele organisasie te maak. En laastens, ook ‘n groot dankie aan elke borg en persoon wat bygedra het tot ons verskeie suksesvolle fondsinsamelingsprojekte en ander inisiatiewe.
Wat hou die toekoms vir ons as individue in? Waarheen is elkeen se skip van drome oppad? Dit laat my aan Noag en die Ark dink. (Almal ken sekerlik die bekende Bybelse verhaal). Noag, sy gesin en die diere was vir baie lank in die ark waar dit vir 40 dae lank aaneen gereen het, soveel so dat die aarde later oorspoel was. Die algemene denkrigting is dat Noag en kie veilig in die ark was omrede dit nie net volgens God se spesifikasies gebou was nie, maar omrede Noag ook net die beste materiaal gebruik het om die ark te bou en uitstekende vakmanskap aan die dag gelê het.
Ek het egter nou onlangs ‘n stukkie in die verband gelees waar die outeur daarvan vir my ‘n ongelooflike mooi boodskap gegee het. Kom ons gaan kyk wat staan in Genesis 7:16: “En die wat ingaan het gegaan as mannetjie en wyfie soos God hom beveel het…En die HERE HET AGTER HOM TOEGESLUIT”. (In een van die ander vertalings staan daar: “God het hulle binne in die ark geseel”)
Nadat Noag die ark gebou het en al die lewende wesens, soos God beveel het, die ark binne gegaan het, het God die ark toegesluit en hulle binne in geseël ten einde die water uit die ark te hou. (God het hul dus beskerm). Ons vergeet gereeld dat ons nie die lewe met al sy uitdagings op ons eie kan aanpak nie. Ons vergeet baie vining dat ons absoluut op God se beskerming aangewese is. Mag die Here dus elkeen van ons oor die Kersseisoen en in die komende jaar “seël in Sy ark van beskerming” en mag ons, net soos Noag van ouds, gehoorsaam aan God wees. God het immers sy enigste Seun, Jesus Christus, aan die kruis laat sterf sodat elkeen van die wat glo, die ewige lewe kan erf. Dit is waaroor Kersfees gaan, om die geboorte van DIE SEUN te herdenk. Kom ons vier die naderende Kersfees met die regte gesindheid!
Kom ons sluit dan ook hierdie jaar vol hoop en geloof vir 2020 af. Daar staan immers in Heb 11:1 geskrywe: “Om te glo, is om seker te wees van die dinge wat ons hoop, om oortuig te wees van die dinge wat ons nie sien nie”. Kom ons vat hande en beweeg vol hoop, geloof en positiwiteit, saam 2020 in! Saam kan ons baie vermag en ‘n enorme verskil maak….
Mag ‘n iedere en elk ‘n vreugdevolle Kersfees saam met jul geliefdes beleef en mag elkeen van jul se lewenspaadjie in 2020 so gemaklik wees soos ‘n paar ingeloopte Boere-vellies!
Gesëende Kersfees en voorspoed vir 2020.
Carl Arnold