So kom ons aan die einde van nog ʼn jaar; ʼn taamlike “deurmekaar jaar”. `n Jaar waarin die konstitusionele hof `n ietwat kontroversiële uitspraak teen SA Jagters gegee het, `n jaar vol hofaansoeke deur verskeie instansies teen die Minister van Polisie en kie, `n jaar waartydens brandstofpryse drasties gestyg het, `n jaar waarin die land verneem het dat grondonteiening sonder vergoeding in Suid Afrika `n moontlikheid is, `n jaar waarin die vuurwapenlisensies oor die laaste maand of so sommer lukraak afgekeur word. Genoeg om enige mens negatief te stem!
Tog was daar ook ligpunte oor die afgelope jaar en dit is waarvoor ons as lede van die SA Jagters dankbaar moet wees. Ongeag die knypende ekonomiese toestande was die HuntEx-uitstalling in Gauteng `n groot sukses met derduisende jagters- en vuurwapengeesdriftiges wat met `n mengsel van “’n gewilligheid om te koop en `n kredietkaart wat nie kan wag om gebruik te word nie”, die “nodige, relevante” kopies gemaak het. Daar was ook derduisende van ons lede wat aan die verskillende skietdissiplines deelgeneem het. (Daar is immers niks soos brandende buskruit om `n gemoed in die regte stemming te kry nie).
Verder meer het duisende van ons lede suksesvolle jagtogte onderneem, iets wat deesdae bykans net in Suid Afrika moontlik is en wat derhalwe `n groot voorreg is. Voorts is ons geseënd met `n uitstekende personeelkorps by Inyatipark (hoofkantoor) wat uit hul pad gaan om ons lede na die beste van hul vermoë te dien en sodoende puik diens te lewer.
Dan is daar ook my kollegas op die Raad, die Takbesture en Streekkoördineerders wat onbaatsugtige diens aan die lede van die vereniging lewer, iets wat baie maklik ongesiens verbygaan! Baie dankie aan elkeen van julle, asook elke lid vir jul brandende passie en begeerte om SA Jagters `n effektiewe en funksionele organisasie te maak. Laastens, ook `n groot dankie aan elke borg en persoon wat bygedra het tot ons verskeie suksesvolle fondsinsamelingsprojekte en ander inisiatiewe.
Wat hou die toekoms vir ons as individue in? Waarheen is ons skip van drome op pad? Dit laat my aan die Titanic dink, die skip van drome, “the unsinkable”. Tog op 12 April 1912 sink die “unsinkable” Titanic binne etlike ure en neem meer as 1400 lewens saam na sy ysige watergraf. Tydens hierdie vreesbevange ure het die bemanning en passasiers besef dat daar heeltemal te min reddingsbote was. Die rykes en gesiene mense het derhalwe gesorg dat hul eerste plek op die reddingsbootjies kry, dis tog mos maar hoe die hiërargie in die samelewing werk. Later het die kaptein van die Titanic afgekondig dat daar nog enkele plekke vir vroue met babatjies op die oorblywende reddingsbootjies is. `n Gewone vrou, sonder `n kind, het ook die afkondiging gehoor en besef dat dit haar doodsvonnis was. Met dié het `n man met `n babatjie in sy arms verby haar gehardloop en by haar vasgesteek. Skielik het haar situasie verander toe die man sy kind in haar arms druk met die volgende woorde: “Dit is joune… hardloop en kry vir jou plek op die reddingsbootjie! Sodoende is haar lewe gered. Indien sy dus nie `n baba by haar gehad het nie, sou sy saam met die Titanic haar lewe verloor het.
Wat is jou grootste Kersgeskenk? ’n Mooi geskenk, `n lekker ete, `n ontspanne dag, of dalk iets anders? Elkeen van ons weet dat ons lewensreis iewers, net soos die Titanic, gaan sink… niemand van ons se lewens is “unsinkable” nie. Ons weet ook dat nie elkeen van ons in hierdie lewe die reddingsboot van Jesus gaan haal nie. Met Kersfees kom sit God egter opnuut weer sy kind in jou arms en sê: “Dit is joune… hardloop en kry vir jou plek op My reddingsboot! Moenie wag tot dit te laat is nie, daar is tans nog plek op DIE reddingsboot. Die meeste mense wat hul lewens in die Titanic-ramp verloor het, het nie verdrink nie maar verkluim. Wie wil nou in die lewe se yskoue water ronddobber as Jesus reeds vir jou `n plek op Sy “unsinkable” reddingsboot voorberei het. Maak seker dat elkeen DIE kind in sy/haar arms het wat vir jou `n plek op die ewige reddingsboot sal verseker. Dit is waaroor Kersfees gaan, om die geboorte van DIE Kind te herdenk.
Kom ons vier die naderende Kersfees met die regte gesindheid! Kom ons sluit dan ook hierdie jaar met liefde, waardering vir mekaar en sonder enige twis af. Kom ons vat hande en beweeg saam 2019 in… ek weet dit is `n jaar wat nog vreemd en leeg is, maar ons is die outeur van ons eie lewens en ons bepaal ons eie denkrigtings en ingesteldheid. Deur die komende jaar positief in te gaan, is die “gevegte”, wat dit ook al mag wees, halfpad gewen! Daar staan immers geskrywe in Spreuke 15:15: “Dit gaan altyd sleg met `n bedrukte mens; die lewe van `n blymoedige mens is `n fees”. `n Positiewe ingesteldheid is eerstens `n keuse en tweedens sal dit `n opgeruimde gemoed tot gevolg hê wat meestal op sukses uitloop! Moet nie 2019 negatief ingaan nie, dis `n keuse wat elkeen van ons het.
Mag `n iedere en elk `n vreugdevolle Kersfees saam met jul geliefdes beleef en mag elkeen van jul se vuurtjies hoog brand in 2019.
Geseënde Kersfees en voorspoed vir 2019.
Carl Arnold
President: SA Jagters