Lizanne het in September die Paddafontein-boerevereniging besoek vir produktiewe gesprekke oor bewaring. Japie Buckle, ‘n lid van SA Jagters en ‘n restorasie-deskundige het aan boere verduidelik hoe verskillende tipes erosiestrukture bydra om erosie by seisoenale stroompies hok te slaan en die watertafel te lig. Hiermee kry rivieroewerplante kans om weer te vestig waar vog langer beskikbaar is en sodoende plantegroei en weiding verbeter. Die positiewe impak van die strukture is reeds sigbaar na slegs twee goeie reënbuie.
Die Somerset-Oos area is ook bekend vir besonderse voëlspesies soos kraanvoëls en sekretarisvoëls. Aasvoëls is ook onlangs daar waargeneem. Lizanne het met boere gesels oor verantwoordelike karkasbestuur om die risiko’s wat loodammunisie vir wildlewe mag inhou, te beperk. Jagters by plase wat deur Hive Ecosystems bestuur word, doen egter reeds hul deel vir die natuur en bestuur hul impak deur vleisreste wat dalk lood partikels mag bevat, in ‘n gat te gooi en dit te verbrand. Hul het ook reeds begin oorskakel na alternatiewe loodvrye koeëls.