Die jaar begin afloop en die lente is in die lug. Ons het vroegoggend hier in Pretoria die eerste buitjie reën van die nuwe groeiseisoen gehad en skielik is die wêreld skoon afgespoel en die paaie glad.
- Indeling van die Nuusbrief
Soos ek voorheen onderneem het, plaas ons belangrike inligting en boodskappe eerste in die nuusbrief en herhalende inligting verder aan.
Lede wat min tyd het om te lees, kan dus op die eerste deel van die nuusbrief fokus vir nuwe inligting en die res vir later los.
Nuwe Boodskappe
- Ou Groen Lisensies
Alhoewel daar van ons lede is wat van mening is dat SA Jagters nie moet aandag gee aan die hele kwessie rondom die ou groen lisensies nie, het baie van ons lede nog wapens met net die ou groen lisensies.
Sommige individue het destyds meer as 4 lisensies gehad tydens die aansoek vir hernuwing maar het nie oor toegewyde status beskik nie. In hierdie gevalle het die Polisie bloot 4 nuwe lisensies uitgereik maar die res van die wapens op ou groen lisensies gelaat.
Dan is daar ook `n groep van ons lede wat wel aansoek gedoen het vir hernuwing van lisensies maar waarvan die Polisie die aansoek laat verlore raak het en geen nuwe lisensies is uitgereik nie.
Die Raad van SA Jagters het deeglik besin oor hierdie kwessie en reageer op die skrywe van die Staatsprokureur deur aan te dui dat ons saamstem met die beginsel dat daar slegs een regime of stelsel behoort te wees in die land waarmee vuurwapenbesit rasioneel en redelik bestuur behoort te word. Daarom sou SA Jagters verkies om in gesprek te tree met die Polisie oor die skep van `n stelsel waarmee individue wat nog wapens met ou groen lisensies besit die geleentheid kan kry om met `n rasionele, redelike en goed bestuurde proses die lisensies vir hierdie wapens te kan hernu.
Sou die Polisie egter nie bereid wees om tot so `n gesprek in te stem nie sal SA Jagters voortgaan en die Polisie se hofaansoek om die interdik van 2009 te herroep, teenstaan.
- Amnestietydperk
Twee maande is verby van die nuwe amnestietydperk wat van 1 Augustus 2020 tot 31 Januarie 2021 duur, met slegs 78 werksdae van die amnestietydperk oor. Lede wat wel `n wapen besit waarvan die lisensie verval het en nie meer die wapen wil besit nie, kan die amnestie gebruik om die wapen in te handig of iemand anders wat wel die wapen wil hê, kan dit inhandig.
Die Minister van Polisie se fokus van hierdie amnestie is om die wapens waarvan die lisensies reeds verval het, ingehandig te kry. Om hierdie doelwit te haal moet naasteby 4 500 wapens ingehandig word op elke werksdag vir die res van die amnestietydperk. Dis onwaarskynlik dat dit sal gebeur, maar die tyd sal leer.
Ons advies aan lede bly dat indien u enige wapens onwettig in u besit het, of `n wapen in u besit het waarvan die lisensie reeds verval het en nie betyds aansoek gedoen is vir die hernuwing nie, handig die wapen in tydens die amnestie en doen aansoek vir `n nuwe lisensie.
Die volgende is belangrik om te onthou
- U moet bevoeg wees om `n vuurwapen te mag besit. Maak seker dat u bevoegdheid op datum en gepas hernu is soos die Wet vereis.
- U sal die wapen onder die amnestie moet inhandig. Daar is nie ander genade nie.
- U sal binne 14 dae moet aansoek doen vir `n nuwe lisensie vir die wapen wat u ingehandig het. Doen daarom verkieslik gelyktydig met die inhandiging van die wapen ook aansoek vir `n nuwe lisensie daarvoor.
- Maak seker dat die dokumentasie vir die lisensie-aansoek vir die betrokke wapen volledig en korrek is. Dit sal die kans om wel `n lisensie te kry verbeter.
- Die individu wat die wapen inhandig mag binne 14 dae aansoek doen vir `n nuwe lisensie vir die wapen wat ingehandig word.
- Skietsake
Ons ontvang heelwat navrae oor die beperking van maksimum 50 persone op skietbane wat steeds toegepas word (in vergelyking met die beperking van maksimum 500 persone by ander buitelug geleenthede). Die rede hiervoor is soos volg: Die Minister van Sport, Kuns en Kultuur het nog geen vlak 1 veranderinge aangekondig in die protokol vir sportbyeenkomste nie. Tot verdere kennisgewing, bly die beperking vir skietbane onveranderd op `n maksimum 50 persone op die skietbaan met geen besoekers of toeskouers toegelaat nie.
SA Jagters ook in die afgelope tyd heelwat aandag bestee aan die saamstel van riglyne en beleid oor die toeken van Streekkleure en Nasionale Kleure vir sportskiet. Die beginsels wat van toepassing is, is duidelik uiteengesit en is hier beskikbaar.
- Takaktiwiteite
Die jongste verlaging van die COVID-19 inperkingregulasies na Vlak 1 vanaf 21 September 2020 het meegebring dat SA Jagters takke al meer aktiwiteite kan hervat met die toepassing van COVID-19 beskermingsmaatreëls. `n Gepaste protokolle is geskep vir elke aktiwiteit en aan al die Takke gestuur. Elke takbestuur besluit met inagneming van plaaslike omstandighede, wanneer om watter aktiwiteite te hervat. Lede kan navrae rig aan takvoorsitters of takbestuurslede.
Die landwye terugvoer van takbesture is baie positief waar aktiwiteite reeds begin het. Lede se goeie samewerking van lede om aan die beskermingsmaatreëls te voldoen om die verspreiding van Covid-19 te beperk is puik. Die goeie dissipline by SA Jagters takke was nog altyd `n uitstaande kenmerk van ons aktiwiteite en u positiewe optrede in hierdie moeilike tyd is prysenswaardig. Baie dankie daarvoor.
- Jagsake
Verlengde Jagseisoen
Die inperking het jagters verhoed om gedurende `n groot deel van die gebruiklike jagseisoen in die veld uit te kom. Ons herinner lede aan ons gesprek met Minister Creecy hieroor.
SA Jagters het met al die provinsiale omgewingsbewaringsdepartemente deur middel van die Wildleweforum in verbinding getree. Die provinsies sal spesiale permitte aan grondeienaars uitreik wat nie die nodige vrystellingspermitte het nie. Hierdie spesiale permitte om buite die normale jagseisoen te mag jag word per aansoek uitgereik en is onderhewig aan bepaalde voorwaardes.
Beroepsjag
Met die opening van RSA se grense vir reis bestaan die hoop dat die beroepsjagters moontlik nog vanjaar `n kliënt of twee op jag sal kan begelei.
Ons verskaf ook die 2021 SCI jaarlikse Jagterskonvensie se Covid-19 riglyne aan lede wat moontlik by hierdie geleentheid wil gaan bemark. Die detail inligting is hierbeskikbaar.
Korridorsiekte by Buffels
Daar was redelik algemeen in die pers berig oor die uitbreek van korridorsiekte onder buffels op `n plaas in die Vrystaat.
Die Vrystaat val buite die korridorsiekte beheergebied en daar mag slegs siektevrye buffels in die provinsie aangehou word. Sou daar korridorsiekte wel uitbreek, is daar streng beheermaatreëls wat die plaaslike staatsveearts op die plaas kan toepas om die verspreiding van die siekte te voorkom.
Die Wet op Dieresiektes (Wet 35 van 1984) en sy regulasies bepaal dat buffels en beeste nie saam op dieselfde grondgebied aangehou mag word nie. Verder mag buffels wat korridorsiekte het slegs binne die korridor-beheergebied aangehou word met sekere voorwaardes soos byvoorbeeld dat die plase elektriese omheinings moet hê.
Buffels mag ook slegs van een plaas na `n ander plaas verskuif word nadat hulle negatief getoets het vir korridorsiekte, bek-en-klouseer, bees brucellose en beestuberkulose.
Buffels met korridorsiekte toon geen simptome nie, maar kan die siekte deur middel van die bruinoorbosluis, wat as vektor dien, aan beeste oordra indien hulle in direkte kontak met mekaar kom. Die siekte kan dodelik wees vir beeste. Korridorsiekte kan nie direk van buffel tot buffel, of van buffel tot bees, of van bees tot bees oorgedra word sonder die teenwoordigheid van die bruinoorbosluis nie. `n Streng dipprogram vir beeste in die Korridorsiekte-beheergebiede word aanbeveel.
- Bewaring
Paneel van deskundiges
Richard Sowry, VP Bewaring van SA Jagters het tydens `n openbare aanlyn vergadering op 29 September `n voorlegging gedoen aan die minister se paneel van deskundiges wat die beleid, wetgewing en praktyke vir die bestuur, hantering, teel, jag en handel in olifante, leeus, luiperds en renosters hersien.
Die Vereniging het in Junie `n formele skriftelike voorlegging gedoen wat ons kern standpunte hieroor ingesluit het. SA Jagters ondersteun nie die aanhou en teel van wild vir suiwer kommersiële doeleindes nie, insluitende die handel in leeubene, renosterhoring, luiperdvel of enige ander byprodukte, en waar daar nie `n bewese voordeel vir die bewaring van wilde bevolkings en habitatte bestaan nie.
SA Jagters ondersteun die verantwoordelike en volhoubare oes van wildbevolkings volgens die beginsels van volhoubare benutting wat as aansporing dien vir die bewaring van spesies in hulle natuurlike omgewing.
SA Jagters het uitgewys dat die werklike waarde van die vier ikoniese spesies juis gesetel is in die feit dat hulle wild voorkom. Die Vereniging steun ook nie die insluiting van wildspesies as deel van die Diereverbeteringswet nie. Dit is verder uitgewys dat die jag van `n wilde leeu sewe keer die inkomste genereer as die jag van ’n leeu wat in aanhouding geteel is. Laasgenoemde hou ook aansienlike risiko’s in vir die jag en wildbedryf se reputasie.
Ons beklemtoon verder dat die bewaring van wild as `n grondbenuttingspraktyk moet kan meeding met die alternatiewe benutting van dieselfde grond. Die volhoubare benutting van wild, insluitende die goed-gereguleerde en verantwoordelike jagpraktyke, en die handel in renosterhoring en ivoor moet ondersteun word.
Slegs wanneer die bewaarders van ons wildlewe dit na waarde ag, sal meer grond vir wildlewe beskikbaar gestel word. Kry die volledige voorlegging hieren sien die aanbiedinghier.
Wysiging van wetgewing
Baie dankie aan die lede en takke wat voorstelle aangestuur het vir SA Jagters se voorlegging deur SA Jagters aan die Portefeuljekomitee vir die Omgewing (insluitend bewaring en jag), oor die voorgestelde veranderinge aan die nasionale biodiversiteitswet, en die nasionale wet vir bosbou. Kry SA Jagters se voorleggings hier.
SAJWV en die Media
Daar was onlangs verskeie mediaberigte wat volhoubare benutting van wild, insluitend jag, in `n swak lig probeer stel het. Verskeie van hierdie berigte was baie eensydig en emosioneel gedrewe.
SA Jagters het individueel en saam met ander organisasies in die wildbedryf besluit om op te tree hieroor en aan verskeie redakteurs geskryf om ons misnoeë oor swak verslaggewing uit te lig. Lede kan verseker wees dat SA Jagters ook hier die belange van lede beskerm.
- Advertensies in ons Tydskrifte
Beide ons tydskrifte, SA Jagter/Hunter sowel as ManMagnum, benodig u hulp met advertensies. Weens die Covid-19 pandemie het beide hierdie publikasies adverteerders verloor. Verskeie opsies sowel as baie mededingende tariewe is beskikbaar. Lede kan gerus die geleentheid benut om hulle ondernemings, plase of produkte te adverteer. Tree in verbinding met die advertensiekonsultant, Jacques Boshoff, by 079 528 8793 of jacques.boshoff@media24.com
- Kolskoot
SA Jagter, ons tydskrif, gee elke jaar `n addisionele tydskrif Kolskoot uit. Vanjaar se hele uitgawe word gewy aan grootkalibergewere.
Grootkalibergewere ontlok ’n spesiale gevoel onder baie geweerentoesiaste. Dit was immers waarmee bekende en beroemde jagters soos Selous, Taylor, Pretorius en ander in Afrika gejag het.
Alhoewel ons nie vandag die geleenthede as die grootwildjagters van ouds het nie, kan ons wel droom om eendag `n grootkalibergeweer te besit en te gebruik, al is dit net op papierbuffels.
Kolskoot is jou gids tot alles wat te make het met grootkalibers. In dié spesiale, losstaande uitgawe kan u kennis maak met van vandag se groot geeste van die grootkaliber-wêreld. Hierdie gids sal van waarde wees vir die beginner wat sy eerste grootkalibergeweer gekoop het en graag meer daaroor wil weet. Dit bied ook heelwat pitkos vir die meer gesoute jagter en geweerliefhebber.
U sal nie net inligting kry oor rare en interessante kalibers en gewere nie, maar ook die name en kontakbesonderhede van die vervaardigers van grootkaliber-koeëls en –ammunisie.
Kolskoot sal eersdaags by handelaars beskikbaar wees in `n beperkte oplaag teen R60 per eksemplaar. Bestel die elektroniese kopie van Magzter teen 50% kortinghier.
Spesiale Aanbiedinge
SA Jagters het verwantskappe met verskeie handelaars wat spesiale korting aan lede bied. Sommige van hierdie verskaffers stel van tyd tot tyd spesiale aanbiedings vir `n beperkte tyd beskikbaar.
- Uitverkoping SA Jagters Winkel
SA Jagters het besluit om die voorraad van klerasie in die winkel uit te dun en ons produkreeks te verander. Talle items is beskikbaar op `n spesiale uitverkoping. Rig navrae aan Rene by (012) 8089300 of rene@sahunt.co.za
- 4Deadhold Skietstok
4DeadHold het so pas die eerste skietstok bekend gestel wat in alle posisies van sit tot staan gebruik kan word. Die stok verstel baie vinnig in hoogte met behulp van fliplocks, vanaf 77cm tot 177cm. Enige persoon, selfs kinder- en vroueskuts kan dit gebruik vir optimale skootplasing. Persone van tot 2m kan gemaklik die skietstok gebruik. Die stok is baie stabiel; die bene word van fluted aluminium gemaak en is liggewig. Dit weeg net 1kg.
SA Jagters se lede kan die skietstok koop teen R1 950,00. Meer inligting is hier beskikbaar.
- Humansdorp Koöperasie
Humansdorp Koöperasie bied vir Oktober ook die 4Deadhold skietstokke teen dieselfde prys aan. Wanneer u die bestelling plaas, dui aan dat u `n lid van SA Jagters is.
- Ondersteuning van Lede
Baie van ons lede is erg geraak deur die Covid-19-omstandighede. Hieronder is inligting van geleenthede wat ons lede aan ander lede bied om mekaar te help.
- Goeie droë bosveld vuurmaakhout beskikbaar teen `n billike prys in die Pretoria-omgewing. Meer detail hier.
- Compuknit – Ranger hoede, Fishermans-pette, camo- en ZA-pette en nekdoeke. Aal die kopbeskerming wat u nodig het vir die somer! Sien ook die nuwe reeks prettige “emoji” herbruikbare gesigmaskers. Meer inligting is hier beskikbaar.
- Wildsvleisresepteboek – Lede kan R50 afslag kry per eksemplaar. Ouma Leonè de Lange gee R50 afslag en skenk R50 aan SA Jagters vir elk resepteboek wat sy verkoop op https://www.ouma-se-wildsboek.co.za Gebruik die “SAHUNT” promosiekode wanneer jy die boek bestel. Die resepteboek is perfek vir die jagter, en sluit 220 resepte in om op die kampvuur te maak; omskakelingstabelle vir gewig en oondtemperature; en die slaankrag van verskeie kalibers.
Herhalende Boodskappe
- Jagsake
Jaggeleentheid geborg deur Archers Rock Safaris
Archers Rock Safari’s borg ’n jaggeleentheid ter waarde van sowat R50 000 wat `n gelukkige lid met `n R50 kaartjie kan wen. Die jagpakket vir geweer of boogjag, of ’n kombinasie daarvan, is soos volg:
Een koedoebul tot 52 duim, een wildebeesbul tot 29 duim, twee rooibokramme tot 22 duim, een vlakvark tot 12 duim. Gratis verblyf in vyfster lodge vir twee jagters of een jagter en een gas vir vier nagte met vyf jagdae en ’n gratis spa-behandeling met alle etes, vervoer, koelgeriewe en gidse ingesluit.
Aangesien ons nie nou die jaggeleentheid kan benut nie het Archers Rock Safari’s ingestem om hierdie geleentheid uit te stel na 2021. Diegene wat reeds `n kaartjie gekoop het, sal nie die kans verbeur nie. Vir die res, is hier nou weer `n geleentheid om deel te neem. Lees meer hier oor Archers Rock Safari’s se jaggeleentheid. By voorbaat dankie aan Archers Rock wat reeds aangedui het dat ons die jaggeleentheid na volgende jaar kan aanskuif. Met die sluit van alle jag vir alle praktiese doeleindes op 28 Julie sou ons in elk geval nie nou die geleentheid kon gebruik nie.
Om in aanmerking te kom vir hierdie jag:
- Plaas R50 of veelvoude van R50 (vir meervoudige kanse) elektronies oor na die bankrekening van SA Jagters by ABSA, rekeningnommer 01443990077.
- Gebruik u eie selfoonnommer en Archers as verwysing.
Inskrywings vir hierdie trekking sluit op 30 Maart 2021. SA Jagters sal u selfoonnommer gebruik om die trekking van die gelukkige wenner van hierdie jag te doen.
Vir enige navrae oor hierdie jaggeleentheid skakel met Boetie Kirchner by boetiek@sahunt.co.za.
Hierdie jaggeleentheid sal tussen Junie en Augustus 2021 kan plaasvind.
- Lidmaatskap
Werf lede vir kommissie
SA Jagters het nou 42 522 lede.
Die Raad het besluit dat elke lid of tak wat 10 of meer lede per jaar vir SA Jagters werf, kommissie van tussen R100 tot R150 per lid sal ontvang. Meer inligting is hier beskikbaar.
SA Jagters het weer aansoekvorms vir lidmaatskap aan `n verskeidenheid handelaars verskaf. Takke kan ook hierdie vorms by Dorothy Ras aanvra by dorothy@sahunt.co.za
- Ivoorprojek
Die Doctari ivoormes-projek is weer goed op dreef nadat ons effe agter geraak het met bestellings en aflewerings. Die projek behels die maak van messe met hewwe uit ivoor afkomstig van olifante wat Nico van Rooyen gejag het. Plaas gerus u bestellings so gou moontlik om teleurstellings te voorkom aangesien daar slegs nog 50 van hierdie messe beskikbaar is.
Belangstellendes kan R5 500 in die bankrekening van SA Jagters betaal. Die rekening is by Absa en die rekeningnommer is 01443990077; met takkode 632005. Gebruik die verwysing Mes en u selfoonnommer. Stuur ook die betalingsbewys aan admin@sahunt.co.za
- Gedenkboek
Die gedenkboek is nou beskikbaar. Dit is voorwaar `n uitstekende publikasie.
Die boek is beskikbaar in A4-formaat in twee weergawes: Die een met `n gewone omslag teen R300 per boek; en `n tweede luukse weergawe met `n buffelleer omslag. Slegs 100 van die buffelleer-eksemplare teen R1000 elk sal beskikbaar wees. Plaas bestellings vroegtydig om teleurstelling te voorkom.
Vir bestellings, doen die volgende:
- Plaas die korrekte bedrag (R300 vir die gewone boek of R1 000 vir die leergebinde weergawe) elektronies oor na die bankrekening van SA Jagters. Die rekening word gehou by ABSA en die rekeningnommer is 01443990077.
- Gebruik net u Lidnommer en Boek as verwysing. Maak asseblief baie seker dat u lidnommer korrek is anders kan ons nie die bestelling uitvoer nie.
- Buck-knipmesse
Daar is slegs 220 van die beperkte reeks van 500 Buck-knipmesse wat teen R 1 000 elk beskikbaar was oor. Hierdie is Buck knipmesse met ivoorinlegsels op die hef en SA Jagters se logo op die hef graveer is iets besonders en raak minder. Plaas die R1 000 elektronies oor na die bankrekening van SA Jagters by ABSA, rekeningnommer 01443990077. Gebruik u lidnommer en Knipmes as verwysing. Stuur die betalingsbewys saam met u lidnommer en kontakbesonderhede aan Realda Goosen by realda@sahunt.co.za
- Kommersiële sake
Die ooreenkoms met Humansdorp Koöperasie bestaan reeds vanaf 1 November 2019 en bied unieke geleenthede aan lede van SA Jagters. Dit is `n uitstekende aanbod. Lede van SA Jagters kwalifiseer vir 5% spesiale korting op aankope van jag- en skietverwante produkte. Volg die skakel by die lys van produkte hieronder vir inligting oor afslag.
Neem asseblief kennis dat die aflewering van produkte dalk bietjie later kan plaasvind.
Om hierdie geleentheid te benut:
- Besoek die webwerf van Humansdorp Koöperasie by:
- http://firearms.humkoop.co.za/
- diekooperasie.co.za en klik op die skakel vuurwapens
- humansdorpkooperasie.co.za en klik op die skakel vuurwapens
- Kies die produk waarin u belangstel en plaas bestelling per e-pos. Die e-pos adresse word verskaf.
- U moet `n opbetaalde lid wees en u moet u lidnommer verskaf. Alvorens Humansdorp Koöperasie enige korting toestaan, sal hul nagaan of u `n lid is van SA Jagters en of u ledegeld op datum betaal is. Slegs opbetaalde lede kwalifiseer vir die korting.
- Plaas u bestelling by Eduan du Toit, Cheryl Coetzee of Riaan Vermaak by een van die onderstaande E-pos adresse:E-pos Adresse
Sodra die bestelling ontvang en die rekening betaal is, sal die koöperasie die produk laat aflewer.
Die volledige lys van diensverskaffers wat spesiale pryse aan lede van SA Jagters bied is hieronder beskikbaar. Neem asseblief kennis dat sommige van hierdie verskaffers gesluit kan wees gedurende die inperking.
- Humansdorp Koöperasie
- Toyota SA
- Westvaal Nelspruit
- Wildman Hunting and Outdoor
- Hokaai Slaghuis
- Die Wildshoekie Vleismark
- LAVA Vakuumverpakking
- Selftrack
- MAINSU Kragopwekkers
- Cens Digital Gehoorbeskerming
- Uitlaatstelle van De Graaf Autosentrum in Van der Hoffweg Pretoria
- Helle-messe
- Nitecore Flitse
- Fitch and Leedes
- Otterskloof
- Cassie Nienaber – Ladingontwikkeling en Herlaai
- Archers Rock Safaris
- Dovetail Wooden Boxes
- 4Deadlock Skietstok
Kliek hier vir meer inligting oor enige van die bogenoemde voordele.
- Fotokompetisie
SA Jagters se fotokompetisie vir 2020 sluit einde Oktober. Die doel van die kompetisie is om `n portefeulje saam te stel van die beste foto’s wat SA Jagters se lede geneem het sodat ons dit op die webwerf, in aanbiedings en advertensies by geleenthede soos die jaarlikse kongres se gala-aand kan vertoon.
Aan die einde van elke maand sal ons foto’s kies om by hierdie portefeulje in te sluit en dit ook op www.sahunters.co.za publiseer. Lede sal ook erkenning in die vorm van goud, silwer of brons sertifikate ontvang.
Kyk gerus hier na September maand se finaliste.
Ons borg het weer `n nuwe kamera as prys vir die algehele wenner beskikbaar gemaak. Aangesien ons nie meer teen die einde van die jaar `n kongres sal hê nie kan die prys nie die aand met die dinee oorhandig word nie maar ons sal steeds `n spesiale geleentheid hiervoor reël. Hierdie jaar se foto sal wel ook by die volgende gala geleentheid vertoon word.
Ons kategorieë vir 2020 se kompetisie is:
- Ons Erfenis. Enige landskap, plant- of dierelewe (insluitend voëls en insekte) wat ons land of buurlande se natuurlike erfenis uitbeeld.
- Die Jagter. Foto’s wat mense of diere se jag ervarings en aksies uitbeeld. Onthou asb. dat hierdie kategorie nie foto’s van gejagte diere insluit nie. Stuur daardie foto’s gerus na die tydskrif se Bokspog.
- Die mens in die natuur. Enige foto’s waar mense interaksie met die natuur het.
Lees gerus hier wat u moet doen om in te skryf.
Vriendelike groete
Fred Camphor
SA Jagters: HUB