Die nuus is in die laaste paar weke oorheers deur die kennisgewing van die Polisie van die voorneme om die Wet op die Beheer van Vuurwapens te wysig. Hierdie kennisgewing het mense en organisasies warm onder die kraag en met erge emosie laat optree. SA Jagters het reeds besluit oor gepaste optrede en het lede verlede week per spesiale nuusbrief daaroor ingelig. In hierdie nuusbrief handel ons met ander sake van belang.
Die kennisgewing in die Staatkoerant is hier beskikbaar. `n Kopie van die konsepwysigingswetsontwerp op die webwerf van die Siviele Sekretariaat van Polisie is hier beskikbaar.
Indeling van die nuusbrief
Belangrike inligting en boodskappe verskyn eerste in die nuusbrief en herhalende inligting verder aan.
Lede wat min tyd het om te lees, kan dus op die eerste deel van die nuusbrief fokus vir nuwe inligting en die res vir later los.
Nuwe boodskappe
- Hoëvlak paneel om minister te adviseer oor bestuur van olifante, leeus, renosters en luiperds
Die Minister van Bosbou, Visserye en die Omgewing, Barbara Creecy, het twee jaar gelede `n paneel deskundiges aangestel om die staat te adviseer oor die bestuur, handel, aanhou, teel en jag van olifante, renosters, leeus en luiperds. Die paneel het sy taak afgehandel en die verslag is aan die minister oorhandig en aan die kabinet voorgehou en goedgekeur.
Min. Creecy het die inhoud van die verslag en aanbevelings op Sondag 2 Mei bekendgestel.
Uit die kommentaar wat veral op sosiale media die rondte doen is dit redelik duidelik dat die standpunte wat SA Jagters oor hierdie saak huldig verskil van sommige ander rolspelers. Daar was ook heelwat kritiek op SA Jagters.
Om dit vir lede maklik te maak het ons vir Lizanne Nel, bestuurder bewaring, gevra om die verslag van bykans 600 bladsye en veral die belangrikste bevindings en aanbevelings daarin op te som. `n Kopie van die opgesomde verslag is hier beskikbaar. Lede kan die volledige verslag hier lees.
- SA Jagters-ledekaarte
Vir baie jare reeds is die praktyk om elke drie jaar ledekaarte te druk en aan lede te stuur. Weens die ineenstorting van diens van die poskantoor is daar `n baie groot getal van hierdie kaarte wat nie afgelewer word nie, of, wat na ons teruggestuur word. Nuwe kaarte word gedruk en aangestuur wanneer lede van tak verander, hul status verander, adres verander ens. Ons druk en pos bykans 20 000 van hierdie kaartjies elke jaar, waarvan die helfte dikwels na ons terugkom.
Om die koste en vermorsing van onnodige druk van kaartjies en posgeld te bespaar, het die Raad besluit dat ons slegs kaartjies sal druk en stuur na lede wat dit versoek. Lede wat nie eksplisiet vra om `n kaartjie te kry nie se kaartjie sal voortaan nie gedruk word nie. Die ledekaartjie en alle inligting daarop is beskikbaar op die Toep (toepassing) van SA Jagters wat u op u selfoon kan aflaai.
Tommy Liversage sal `n spesiale kennisgewing aan lede uitstuur om te bevestig dat die kaartjies nie verder gedruk en versend sal word nie, hoe u die toepassing op u selfoon kan aflaai en hoe u dan elektronies toegang tot u ledekaartjie kan kry. Hy sal ook verduidelik wat u moet doen om wel `n gedrukte kaartjie gedruk per pos te ontvang. Die feit dat ons wel die kaartjie pos is ongelukkig geen waarborg dat dit by u sal uitkom nie.
Ons vertrou dat lede hierdie besluit aanvaarbaar sal vind.
- VP Opleiding
Die Raad het op die afgelope vergadering die besluit geneem om Danie Momberg aan te wys om die rol van VP opleiding vir die res van die jaar te vervul en nie `n ander persoon te koöpteer in hierdie vakante pos nie. By die eersvolgende Kongres sal `n nuwe VP Opleiding verkies word.
- Gebruik van Loodammunisie
Tydens die streekbyeenkomste wat vanjaar as virtuele vergaderings aangebied is, het Lizanne Nel en Boetie Kirchner lede ingelig oor internasionale besluite en druk wat al sterker raak teen die gebruik van alle lood, selfs in ammunisie.
Na aanleiding hiervan het die Raad kommentaar ontvang wat aandui dat hierdie boodskap verstaan is as “jy mag nie loodammunisie gebruik nie”. Dit is gelukkig `n verkeerde begrip en onwaar.
Die bedoeling van hierdie boodskap is eerder: “Regoor die wêreld word die gebruik van enige lood sterker bevraagteken. Ons voorsien dat die internasionale druk op die RSA al groter sal raak om ook die gebruik van alle lood te verban, selfs in ammunisie. Wees daarom versigtig watter ammunisie u gebruik. Ons aanbeveling is dat u eerder patrone met `n goeie kwaliteit “bonded core”, of alternatiewelik ammunisie met mono-metaal punte (ander metale as lood) gebruik om te jag.” Op hierdie manier beperk ons die moontlike blootstelling en risiko.
Ons kan uiteraard nie vir lede voorskryf wat hulle moet doen nie maar ons kan advies gee. Die Raad is ook ten volle bewus van die feit dat daar vir windgewere, haelpatrone en .22 randslagpatrone geen alternatief anders as lood beskikbaar is nie. Net so is die gebruik van ammunisie met ongebonde punte waar die huls (dikwels koper) en die kern (dikwels lood) van mekaar skei op skietbane en onder gekontroleerde omstandighede in die skietwal vasgeskiet word, nie verbode nie.
SA Jagters sal nie onverantwoordelik wees en lede aansê om nie lood te gebruik nie. Die bedoeling is eerder: Kom ons wees versigtig wat ons gebruik en beperk liewer self enige moontlike risiko.” Lizanne het reeds talle artikels oor hierdie onderwerp geskryf wat mooi verduidelik wat die risiko is en hoe skade gedoen kan word. Die artikels is hier beskikbaar.
5. Gebruik van Sosiale Media
Deur middel van ons Facebook en Twitter bereik SA Jagters `n groter teikenmark om die Vereniging te bemark. Volg ons by https://web.facebook.com/SAJagtersHunters (@SAJagtersHunters) en op Twitter by: @SAJagters
Gesels saam en deel dit met vriende en lede. Die SA Jagters se bewaringsblad op Facebook is reeds bekend en deel inligting en nuus oor bewaringsaktiwiteite.
Ek gebruik die geleentheid om kommentaar te lewer oor negatiewe kritiek teen SA Jagters op sosiale media soos ons onlangs ervaar het. Daar heers `n wanpersepsie dat die beginsel van vryheid van spraak mense vrywaar teen ondeurdagte uitlatings wat hulle op sosiale media maak. Laster, leuens en haatspraak op Facebook en Twitter kan ernstige nagevolge inhou. Jy kan jou werk verloor, tronkstraf of boetes opgelê word en jou naam sal vir altyd gekoppel wees aan onverantwoordelike optrede. Gaan lees hier meer oor vryheid van spraak, haatspraak en laster binne die konteks van sosiale media interaksie. Die artikel is insiggewend.
- HAWASA Lidmaatskap
HAWASA (die Hunting and Wildlife Associations of South Africa) is in 2006 gestig onder leiding van SA Jagters met die doel om `n gemeenskaplike basis te vind vir gesprek met die van Departement Omgewingsake oor bewaring, jag en verwante sake.
Ongelukkig het die sentiment van die meeste ander lede van HAWASA so negatief teen SA Jagters gedraai en is daar veral `n lasterlike veldtog teen Lizanne Nel persoonlik gevoer. Derhalwe het die Raad besluit dat SA Jagters uit HAWASA onttrek. Die oogmerk met die stigting van HAWASA was “om gemeenskaplike grond te probeer vind maar aanvaar dat individuele standpunte kan verskil wat nie problematies is nie”, het dit nou verander na `n “niemand durf anders dink en sê as hierdie groep nie”.
Weens hierdie negatiewe sentiment en die slegmaak van Lizanne in die openbaar op sosiale media, kan SA Jagters ongelukkig nie langer met HAWASA vereenselwig nie. Ons sal onsself liewer skaar by ander organisasies wat soortgelyke standpunte as SA Jagters handhaaf.
- Skietsake – Opleiding vir Toegewyde Sportskutstatus
SA Jagters bied nou aanlyn opleiding aan vir Toegewyde Sportskut. Die volledige handleiding met die prosedure is hier beskikbaar.
Takke bied steeds die gewone opleidingsproses aan vir lede wat daardie metode verkies. Doen navraag by jou tak se senior opleidingsbeampte. `n Volledige lys van takke se kontakbesonderhede is hier beskikbaar.
- Nasionale Skietkompetisies
Ten spyte van COVID-19 wat steeds tot `n mate die aktiwiteite van SA Jagters op tak- en streekvlak beperk, verloop die streekskietkompetisies onder omstandighede baie goed met bywoning van 50 tot 70% van vorige jare se tipiese bywoning. Indien daar nie onvoorsiene gebeure is nie, word die streekskietkompetisies teen 30 Junie 2021. Voltooi Die reëlings word reeds getref om die nasionale skietkompetisies volgens die SA Jagters nasionale kalender vanaf Augustus 2021 aan te bied indien die COVID-19 inperkings dit toelaat.
Jaggebaseerde skietkompetisies:
Die Vrystaat Sandveld-tak is die gasheer vir die Nasionale Intertak Spanskietkompetisie op 14 Augustus 2021 op die Meerkatgat-skietbaan en
Die Bloemfontein-tak is die gasheer vir die Nasionale Presidentskietkompetisie op 11 September 2021 op die Meerkatgat-skietbaan.
Uitnodigings aan die kwalifiserende skuts gebaseer op die ranglyste volg gedurende Julie en Augustus 2021 op die gewone wyse.
Sportskietkompetisies
Die streeksportskietkompetisies verloop ook baie goed en word beplan volgens die datums op die SA Jagters nasionale kalender. Meer inligting volg binnekort.
- Jagsake
Die jagseisoen is ten volle aan die gang. Gelukkig mag ons vanjaar jag ten spyte van die derde vlaag van Covid-19 wat duidelik uitspeel in RSA. Daar is tog `n paar ander sake waarop lede moet let.
Bek-en-klouseer
Die goeie reën wat in groot dele van die land voorgekom het, het `n gunstige omgewing geskep vir die uitbreek en verspreiding van virusse. Die onlangse uitbreking van bek-en-klouseer in die noordelike dele van Natal bevestig dit.
Grondeienaars in die distriksmunisipaliteite van King Cetshwayo en Umkhanyakude sowel as die plaaslike munisipaliteite van Nongoma, Ulundi en Pongola in die Zululand distriksmunisipaliteit word versoek om te voldoen aan die voorskrifte in die onlangse persverklaring van die Departement van Landbou, Grondhervorming en Landelike Ontwikkeling. Lees die persverklaring hier.
Afrika-varkpes
Varkpes het ook onlangs in die Wes-Kaap uitgebreek en jagters en grondeienaars moet deeglik bewus wees van die vereistes vir die vervoer van wilde varkvleis.
Ingevolge Regulasie 20 van die Wet op Dieresiektes (Wet 35 van 1984) mag geen vleis van wilde varke sonder `n permit in Limpopo, Gauteng, Mpumalanga, Noordwes en Kwazulu-Natal vervoer word nie.
Regulasie 20(a)(ix) lui: “Enige vlakvark-, bosvark- of wildevarkkarkas, -vleis, -vel, -trofee of enige ander produk van vlakvark-, bosvark- of wildevark oorsprong, mag nie na, oor, of vanaf grond in die provinsies Limpopo, Gauteng, Mpumalanga, Noordwes of KZN verwyder word of beweeg nie.”
SA Jagters is reeds in 2018 deur die Departement van Landbou, Bosbou en Vissery se Direktoraat Dieregesondheid erken as `n bedryfsorganisasie wat sy lede kan magtig om permitte uit te reik vir die vervoer van wildevarkvleis. (vlakvark en bosvark)
Grondeienaars wat lede is van SA Jagters kan hul eiendomme waarop vlakvarke en bosvarke gejag word gratis registreer om wildevarkvleisvervoerpermitte uit te reik. Inligting oor die stap- vir-stap registrasie van u plaas is hier beskikbaar. `n Volledige verslag wat handel oor die uitbreek van Afrika-varkpes sedert April 2019 is hier beskikbaar.
Oos-Kaap herroep wetgewing oor wildsvleis
In die Staatskoerant No.44545 van 7 Mei 2021 herroep die Departement van Landbou, Grondhervorming en Landelike Ontwikkeling van die Oos-Kaap die provinsie se vleisveiligheidswet (gedeelte 7 van 2001). ’n Kopie van die betrokke staatskoerant is hier beskikbaar.
Die rede hiervoor is omdat dit `n onnodige duplisering is van die Nasionale Vleisveiligheidswetgewing (Wet 40 van 2000). Die Oos-Kaap implementeer dus nou die nasionale vleisveiligheidswetgewing. In die lig hiervan het die departement op 24 Mei 2021 `n skrywe oor Vleisveiligheidswet uiteensit wat hier beskikbaar is.
Kortliks, verbied dit die slag van enige dier of die verwerking van `n karkas waarvan die vleis bedoel is vir menslike en dierlike gebruik op enige ander plek as `n geregistreerde slagpale (abattoir). Let wel, wildvleis wat vir eie, kulturele en geloofsgebruik benut word, is vrygestel van die wetgewing, met die vereiste dat sulke vleis nie verkoop mag word nie.
Jagters wat self hul wildvleis verwerk en benut is hiervan vrygestel. Wees egter versigtig om u wildvleis deur `n slaghuis te laat verwerk aangesien die slaghuis aan die vereistes moet voldoen.
- Toegewyde status
SA Jagters het 16 976 toegewyde jagters waarvan slegs 6 407 voldoende aktiwiteite geregistreer het om hul status in 2021 te behou. Daar is ook 13 320 toegewyde sportskuts waarvan net 3 457 voldoende aktiwiteite geregistreer het om hul status in 2021 te behou. Lede word herinner om aktiwiteite te registreer om te voorkom dat SA Jagters hul toegewyde status teen die einde van 2021 kanselleer.
Herhalende boodskappe
- Fotokompetisie
Die Vereniging se Fotokompetisie vir lede vir 2021 stel `n nuwe beoordelingsproses in werking. Alle inskrywings word beoordeel volgens `n puntestelsel wat tegniese en visuele kriteria insluit. Sertifikate sal soos volg toegeken word vir kwalifiserende foto’s: 60-74% Brons, 75-89% Silwer, 90-100% Goud.
Die beoordelaars sal terugvoer gee oor die inskrywings aan alle deelnemers om lede aan te moedig om hulle vaardighede te verbeter.
Lees gerus hier wat u moet doen om in te skryf en hoe die reëls vir die kompetisie werk. Mei maand se toekennings is hier op on webwerf.
Kategorieë vir die 2021 Kompetisie
- Bewaring in Aksie – Foto’s wat bewaringsaksies en gemeenskapsdiens deur lede of die tak uitbeeld.
- Plant- en Dierelewe – Foto’s wat plant- of dierelewe, insluitend landskappe, voëls, reptiele en insekte uitbeeld. Onthou asseblief dat hierdie kategorie nie foto’s van gejagte diere insluit nie.
- Ons kulturele erfenis –Foto’s wat die kultuurerfenis van ons land en sy mense oor die totale spektrum uitbeeld.
- Fotografie werkwinkels
Om fotografie verder te bevorder beplan SA Jagters om fotografie werkwinkels op streek- en takvlak aan te bied. Opleiding sal op 3 vlakke plaasvind: beginner, gevorderd en meesters, of `n kombinasie van die drie vlakke. Lede sal `n sertifikaat van voltooiing ontvang.
`n Spesiale boodskap oor die fotografieklub is op 4 Junie aan lede gestuur en kan hier gekry word.
Spesiale aanbiedings
SA Jagters het verwantskappe met verskeie handelaars wat spesiale korting aan lede bied. Sommige van hierdie verskaffers stel van tyd tot tyd spesiale aanbiedings vir `n beperkte tyd beskikbaar.
Crown National Fabriekswinkel Limpopo
Crown National bied 5% korting op alle aankope van speserye, souse en verpakkingsmateriaal van hulle fabriekswinkel in Polokwane, Limpopo aan lede van SA Jagters wat hierdie advertensie en hulle lidmaatskapbewys saambring winkel toe.
Doctari Messe
Die Doctari ivoormes-projek is weer op dreef. Die projek behels die maak van messe met hewwe uit ivoor afkomstig van olifante wat Nico van Rooyen gejag het. Plaas gerus u bestellings so gou moontlik om teleurstellings te voorkom aangesien daar net 50 van hierdie messe beskikbaar is.
Belangstellendes kan R5 500 in SA Jagters se bankrekening betaal. Die rekening is by Absa en die rekeningnommer is 01443990077; met takkode 632005. Gebruik die verwysing Mes en u selfoonnommer. Stuur ook die betalingsbewys aan admin@sahunt.co.za
Gedenkboek
Die gedenkboek is steeds beskikbaar in A4-formaat in twee weergawes: Die een met `n gewone omslag teen R300 per boek; en `n tweede luukse weergawe met `n buffelleer omslag. Slegs 100 van die buffelleer-eksemplare teen R1000 elk sal beskikbaar wees. Plaas bestellings vroegtydig om teleurstelling te voorkom.
Bestellings:
- Plaas die korrekte bedrag (R300 vir die gewone boek of R1 000 vir die leergebinde weergawe) elektronies oor na die bankrekening van SA Jagters. Die rekening word gehou by ABSA en die rekeningnommer is 01443990077.
Gebruik net u Lidnommer en Boek as verwysing. Maak seker dat u lidnommer korrek is anders kan ons nie die bestelling uitvoer nie.
Buck-knipmesse
Daar is slegs 220 van die beperkte reeks van 500 Buck-knipmesse teen R1 000 elk beskikbaar. Hierdie knipmesse het ivoorinlegsels op die hef met SA Jagters se logo op die hef gegraveer. Plaas die R1 000 elektronies oor na die bankrekening van SA Jagters by ABSA, rekeningnommer 01443990077. Gebruik u lidnommer en Knipmes as verwysing. Stuur die betalingsbewys saam met u lidnommer en kontakbesonderhede aan Realda Goosen by realda@sahunt.co.za
Uitverkoping SA Jagterswinkel
SA Jagters het besluit om sy klerevoorraad uit te dun en ons produkreeks te verander. Talle items is tans op `n spesiale uitverkoping. Rig navrae aan Rene by (012) 808 9300 of rene@sahunt.co.za
Humansdorp Koöperasie
In Junie bied Humansdorp Koöperasie die volgende produkte teen 10% korting aan lede van SA Jagters:
- Alle Hornady produkte
- Alle Starline doppe
- Alle Norma Doppe
Dan word die 4Deadlock-skietstok aangebied teen R1 950,00
Ondersteuning aan lede
Baie van ons lede is erg geraak deur die Covid-19-omstandighede. Hieronder is inligting van geleenthede wat ons lede aan ander lede bied om mekaar te help.
- Goeie droë bosveld vuurmaakhout is beskikbaar teen `n billike prys in die Pretoria-omgewing. Meer detail hier.
- Een van ons lede, Dawie Staruss van Clocolan, is `n boer en skrywer. Hy het sopas `n boek publiseer wat handel met herinneringe sy jagervarings oor verloop van ongeveer 50 jaar. ’n Leeftyd se Bekruip is beskikbaar by Naledi uitgewers teen die spesiale SA Jagterslid prys van R 200 per eksemplaar en kan bestel word by word by naledi.online, of by Tertia Swart by 078 648 8616. So bietjie meer inligting is hier beskikbaar.
- 1 Lidmaatskap
Werf lede vir kommissie
SA Jagters het nou 44 296 lede.
Die Raad het besluit dat elke lid of tak wat 10 of meer lede per jaar vir SA Jagters werf, kommissie van tussen R100 tot R150 per lid sal ontvang. Meer inligting is hier beskikbaar. SA Jagters het weer aansoekvorms vir lidmaatskap aan `n verskeidenheid handelaars verskaf. Takke kan ook hierdie vorms by Dorothy Ras aanvra by dorothy@sahunt.co.za
- Kommersiële sake
Die ooreenkoms met Humansdorp Koöperasie bestaan reeds vanaf 1 November 2019 en bied unieke geleenthede aan lede van SA Jagters. Dit is `n uitstekende aanbod. Lede van SA Jagters kwalifiseer vir 5% spesiale korting op aankope van jag- en skietverwante produkte. Volg die skakel by die lys van produkte hieronder vir inligting oor afslag.
Neem asseblief kennis dat die aflewering van produkte dalk bietjie later kan plaasvind.
Om hierdie geleentheid te benut:
- Besoek die webwerf van Humansdorp Koöperasie by:
- http://firearms.humkoop.co.za/
- co.za en klik op die skakel vuurwapens
- co.za en klik op die skakel vuurwapens
- Kies die produk waarin u belangstel en plaas bestelling per e-pos. Die e-pos adresse word verskaf.
- U moet `n opbetaalde lid wees en u lidnommer verskaf. Alvorens Humansdorp Koöperasie enige korting toestaan, sal hul nagaan of u `n lid is van SA Jagters en of u ledegeld op datum betaal is. Slegs opbetaalde lede kwalifiseer vir die korting.
- Plaas bestellings by Eduan du Toit, Cheryl Coetzee of Riaan Vermaak by een van die onderstaande e-pos adresse:
Sodra die bestelling ontvang en die rekening betaal is, sal die koöperasie die produk laat aflewer.
Die volledige lys van diensverskaffers wat spesiale pryse aan lede van SA Jagters bied is hieronder beskikbaar. Neem asseblief kennis dat sommige van hierdie verskaffers gesluit kan wees gedurende die inperking.
- Humansdorp Koöperasie
- Toyota SA
- Westvaal Nelspruit
- Wildman Hunting and Outdoor
- Hokaai Slaghuis
- Die Wildshoekie Vleismark
- LAVA Vakuumverpakking
- Selftrack
- MAINSU Kragopwekkers
- Cens Digital Gehoorbeskerming
- Uitlaatstelle van De Graaf Autosentrum in Van der Hoffweg Pretoria
- Helle-messe
- Nitecore Flitse
- Fitch and Leedes
- Otterskloof
- Cassie Nienaber – Ladingontwikkeling en Herlaai
- Dovetail Wooden Boxes
- 4Deadlock Skietstok
Kliek hier vir meer inligting oor enige van die bogenoemde voordele.
Vriendelike groete
Fred Camphor
SA Jagters: HUB