Die Suid-Afrikaanse Jagters-en-wildbewaringsvereniging (SAJWV) asook ander bewaringsinstansies is met reg bekommerd oor die departement van landbou en visserye se “eensydige” besluit dat wildboere nou met 12 wildspesies mag teel soos met vee om nuwe variëteite te vestig. Die “vreemde” of meer korrek, resessiewe kleurvariante wat nou vry algemeen deur wildtelers dmv selektiewe teelmetodes geproduseer word, hou sonder twyfel ‘n groot bedreiging in vir natuurlike wildbevolkings. Resessiewe kleurvariante is ‘n natuurlike verskynsel, maar diere wat kunsmatig geselekteer en geteel word om sekere “unieke” uiterlike kenmerke na vore te bring, skep ‘n besliste risiko vir wild wat in die natuur voorkom. Dit geld veral wanneer sulke geneties gemanipuleerde diere se getalle deur inteling tot kommersiële vlakke vermeerder word – en dit is presies wat nou op groot skaal aan die gebeur is.
‘n Algemene probleem met ingeteelde of “gedomestikeerde” diere, is dat hulle weens ‘n gebrek aan genetiese variëteit, blootgestel is aan siektes, afwykings of beide en in baie gevalle swak genetiese eienskappe oordra aan hul nageslagte. Sulke praktyke (insluitend die teel van trofeediere met langer en groter horings) hou veral ‘n genetiese besoedelingsgevaar in vir skaarsboksoorte soos bontebok, swartwitpens, baster-gemsbok, blou-duiker, oorbietjie ens. In die praktyk het die populariteitsborrel van kunsmatig geteelde kleurvariante soos swart-rooibokke, wit- en swartspringbokke asook wit blesbokke reeds gebars. Die gevolg was drastiese verlagings in markpryse en landbou-ekonome begin alreeds verwys na ‘n ooraanbod van sekere diere. Indien sulke geneties minderwaardige diere vir watter rede ook al terug gemeng word in natuurlike wildbevolkings, is dit niks anders as genetiese besoedeling nie. Onder die voorgestelde nuwe regulasies, sou kruis teling ook heeltemal aanvaarbaar wees. Dit sou dus in orde wees om naverwante wildsoorte soos die bles- en bontebok, asook die swart- en blou-wildebees, om slegs enkeles te noem, te kruisteel om nuwe “unieke” variëteite te skep. ‘n Mens sidder as jy dink aan die “unieke” drogdiere wat uit sulke praktyke kan voortspruit.
Wildtelers se primêre doel met die teel van vreemd of “uniek” gekleurde wildsbokke of buffels met abnormale groot horings, is natuurlik om sulke “rare” diere uiteindelik as jagtrofeediere aan oningeligte buitelandse jagters te bied. Bravo dus aan die SAJWV en sekere internasionale trofeejag-organisasies wat hewig gekant is teen enige vorm van genetiese manipulering van wild vir trofeejag doeleindes. Dié instansies se verklaarde doelwitte is om slegs jagtrofees van wild soos dit in die natuur voorkom te erken.
Die vraag is dus of daar ‘n voldoende kommersiële mark vir die SA wildtelers se geneties gemanipuleerde wild gaan wees wanneer hierdie diere se getalle voldoende opgebou het om dit aan ‘n beperkte trofeemark beskikbaar te stel? Soos die “skaarsheid” van hierdie diere afneem, is daar ‘n goeie kans dat die geldwaarde ook gaan afneem en wat word dan van sulke diere? Wie gaan toesien dat sulke diere nie ons kwesbare skaars wildsoorte geneties besoedel nie? Dit het werklik tyd geword dat formele bewaringsinstansies effektiewe stappe neem om hierdie bedreiging te stuit voor die situasie onomkeerbaar is.
Dr Kas Hamman
Paarl