Mahem-tak het die tak-bewaringstoekenning ontvang by die afgelope kongres van die SA Jagters- en Wildbewaringsvereniging vir hulle bydrae tot bewaring. Verskeie lede besit grond in die Sneeuberg- beskermde omgewing wat binne ‘n strategiese wateropvangsgebied geleë is. Dit is ook ryk aan fauna en flora en val binne die grasveld belangrike voëlbewaringsgebied (IBA) waar lede sensitiewe habitatte vir onder andere bedreigde voëlspesies bewaar. As deel van SA Jagters se Sightings inisiatief het die tak het onder leiding van Cornelia Vermaak ongelooflike rekords van skaars voëlspesies aangeteken waaronder bloukraanvoëls. Hierdie inisiatief moedig lede aan om waarnemings van skaars en skugter spesies op ons App in te lees. Die data word gebruik in bewaringsinisiatiewe van hierdie spesies.
Baie geluk aan Francois (Koedoe) Meyer vir sy bewaringstoekenning vir sy werk op Ietermagogbewaring en vrylating van gekonfiskeerde diere. Hy is die bewaringskoördineerder van Hardekool-tak en tree dikwels op as spesialisgetuie ter vonnisverswaring van stropers en smokkelaars van hierdie bedreigde spesie. Francois is ook medevoorsitter van die IUCN se ietermagog spesialisgroep. Lees die volledige motivering hier.