Die konsep Nasionale Biodiversiteitsekonomiestrategie is op 8 Maart 2024 vir kommentaar gepubliseer. https://sahunters.co.za/public-comment-invited-on-the-nbes-intention-to-optimise-biodiversity-based-business/
SA Jagters se kommentaar kan hier gesien word
Opsomming: Daar was in die afgelope tyd verskeie artikels in die media aangaande die strategie en lede was duidelik besorg oor die impak van hierdie strategie op beide verantwoordelike jag en bewaring. In beginsel ondersteun die vereniging die regering se inisiatief om ’n strategie daar te stel om die biodiversiteitsekonomie van Suid Afrika, wat verantwoordelike jag en toerisme insluit, te laat groei. In ons kommentaar spreek ons die gebrekkige konsultasieproses van die departement bosbou, visserye en die omgewing in en lê klem op die volgende aspekte:
- geen konsultasie met die sektor in evaluering van die suksesse en tekortkominge van die vorige strategie of die samestelling van die konsepstrategie nie;
- die feit dat tekortkominge wat herhaaldelik uitgelig is met die implementering van die biodiversiteitsekonomie Lab inisiatiewe, waaraan die vereniging deelgeneem en leiding geneem het in sekere inisiatiewe, nie die nodige aandag ontvang het nie en dieselfde konsepte nou weer voorgehou word;
- die feit dat die implikasies van die nuwe definisie van well-being wat die regering sonder konsultasie in wetgewing ingeskryf het, nie bespreek en in ag geneem is nie. Hierdie definisie vereis dat wilde diere se geestesgesondheid in ag geneem word in bewaring, bestuur en benutting van wilde diere;
- inisiatiewe vir landskapbewaring en groter natuurleweareas word ondersteun, maar die gebreke in bestuur van bestaande parke en hul impak in sosio-ekonomiese ontwikkeling moet behoorlik aandag kry;
- ons ondersteun inklusiewe groei, maar die strategie spreek nie die huidige uitdagings van die sektor voldoende aan nie;
- van die doelwitte se potensiële impak is ooroptimisties en onrealisties, veral gegewe die gebrekkige geïntegreerde benadering en aandag aan sinvolle vennootskappe tussen die regering, private sektor en gemeenskappe;
- natuurgebiede moet meeding met ander grondgebruike soos bosbou of mynbou ten opsigte van winsgewendheid en daar is onvoldoende aandag gegee aan die impak wat bestaande beleidsdokumente en prosesse, soos byvoorbeeld die norme en standaarde vir die bestuur van olifante;
- die strategie waar die vestiging van die groot vyf spesies as ’n prioriteit vir gemeenskapsareas voorgehou word, is onrealisties gegewe die koste van omheinings, bestuur en sekuriteit in vergelyking met opsies om inkomste te genereer met al die bestaande beperkings.